*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Van pionierstudent tot senior e-leerleier: alumnus-Nikita se Akademia-storie

Gepubliseer op:  25 Maart 2026

Wanneer ʼn mens vandag na Akademia se groei en uitgebreide impaksfeer kyk, is dit maklik om te vergeet van dié instelling se nederige beginjare. Vir Nikita van der Walt (37), een van Akademia se vroegste studente en een van die eerste Fonties* om twee kwalifikasies aan die instelling te verwerf, verteenwoordig daardie klein begin die hoeksteen van haar professionele vormingsreis.

Dié gebore en getoë Pretorianer, wat haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Oos-Moot voltooi het, is vandag as senior koördineerder: E-leer by Sol-Tech werksaam. In hierdie posisie speel Van der Walt ʼn kernrol in die ontwikkeling en bestuur van gevorderde digitale leer- en assesseringsisteme.

Só begin haar Akademia-storie

Van der Walt het vir die eerste keer in 2012 met die instelling kennis gemaak, aanvanklik nie as ʼn student nie, maar as ʼn werknemer (sy het as debiteureklerk gewerk) by die Solidariteit Beweging se hoofkantoor in Kloofsig, Centurion. Dit was hier waar Akademia se personeel, asook die nauurse sentrum, op daardie tydstip gehuisves was.

In dieselfde jaar het Van der Walt vir die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde geregistreer, en het sy pionierspore getrap as een van die eerste groep studente om dié program – wat in 2012 vir die eerste keer aangebied is – aan te pak. “Ek het nie veel daaroor getob of ek vir die program moet inskryf of nie, maar ek onthou dat dit vir my ʼn groot uitdaging was om weer na al die jare agter die boeke in te skuif,” vertel Van der Walt.

Nauurse studie verg deursettingsvermoë

Die nauurse klasse is destyds in die raadsaal van die Suidblok van die Solidariteit Beweging-gebou aangebied, en klasbywoning was daarom vir Van der Walt gerieflik naby en maklik toeganklik. Dié klasse is weekliks tot laat in die aand aangebied en volgens Van der Walt het dit deursettingsvermoë gekos om tred te hou met dié lang ure.

“Op Dinsdae het ons klas vanaf 17:00 tot 22:00 gehad, en op Donderdae vanaf 19:00 tot 22:00. Ek onthou dat daar baie oomblikke was waar ek die handdoek wou ingooi, aangesien ek voltyds gewerk het én die studieverpligtinge baie was,” vertel Van der Walt. Sy voeg by dat sy egter dankbaar is dat sy haar nie van stryk laat bring het nie en dat daardie intensiewe werkslading en studieverpligtinge haar deeglik voorberei het vir die eise wat later in haar loopbaan sou volg.

In 2014 het Van der Walt weereens haar Fontie-baadjie aangetrek en, soos in 2012, gehelp om geskiedenis te maak deur deel te wees van die eerste groep studente in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program. Sy het laasgenoemde in die minimum tyd van drie jaar voltooi terwyl sy steeds voltyds in die werksplek gevestig was, en was boonop die eerste student om ʼn tweede Akademia-kwalifikasie agter haar naam te voeg. “Destyds het dié prestasie nie soos ʼn groot mylpaal gevoel nie, maar as ek nou terugkyk, is dit ongelooflik om te besef dat ek weliswaar deel was van Akademia se eerste hoofstukke,” sê Van der Walt.

Die waarde van moedertaalonderrig in studie én werk

Vir Van der Walt was dit besonders belangrik om in haar moedertaal te kon studeer, ʼn geleentheid wat volgens haar die deurslag vir haar studie gebied het.

“Om in Afrikaans te studeer, het loopbaangewys vir my ʼn groot verskil gemaak. As Afrikaanssprekendes moet ons doelgerig voortbou op ons taal, kultuur en erfenis juis vanweë die feit dat dit ʼn groot voorreg is om in vandag se oorwegende Engelse werkswêreld in Afrikaans te mag werk. Hierdie voorreg is iets waarvoor ek ongelooflik dankbaar is,” sê Van der Walt.

Van student tot stelselbouer

Tydens haar studiejare het Van der Walt ook as bestuurder by die Kloofsig-studiesentrum gewerk. Dit was hier waar sy blootgestel is aan Akademia se Moodle-leerbestuurstelsel (LBS) en waar sy die boustene by wyse van waardevolle insig en ervaring oor digitale leer opgedoen het – ʼn spesialisrigting wat later haar beroepsfokus sou word.

In 2017 het Van der Walt hierdie einste leerbestuurstelsel aan Sol-Tech voorgestel, en almal weet wat daarna gebeur het. Vandag beskik Sol-Tech oor ’n toegewyde e-leerafdeling, ʼn 180-sitplek-assesseringslokaal waar studente (oor alle ambagstrome heen) op tablette geassesseer word – teoreties en prakties, asook ʼn volledig ontwikkelde LBS vir teoretiese én praktiese assesserings. “Die grondslag vir dit alles is gelê gedurende my tyd by my alma mater,” sê Van der Walt.

ʼn Trotste en opgewonde oud-Fontie

Wat haar die meeste opgewonde maak oor Akademia, is die instelling se positiewe groei. “Die instelling het letterlik voor my oë gegroei vanaf slegs ʼn paar personeellede tot ʼn instelling met duisende studente, twee voltydse kampusse én die ontwikkeling van ʼn wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria, dit is voorwaar merkwaardig!” sê Van der Walt. Sy voeg by dat hierdie groei nie net tot die instelling beperk is nie, maar ewigheidswaarde inhou vir die groter Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.

Sy sluit af deur te sê dat haar wens vir haar alma mater eenvoudig, maar betekenisvol is. “Mag Akademia aanhou om te bou, te groei en selfs verder te verbeter op die grondslag wat die instelling reeds vir nuwe geslagte neerlê. Die Akademia-storie, wat ook my storie is, getuig opnuut daarvan dat ʼn klein begin tot groot sukses kan lei as jy met toewyding werk, met passie bou en jouself by ʼn eensgesinde gemeenskap skaar,” sê Van der Walt.

*Fonties is die gegewe naam vir studente wat aan Akademia studeer. Dit is afgelei van Akademia se leuse, Ad Futurum per Fontes – vanuit die bronne na die toekoms.

Nikita van der Walt is ʼn Akademia-pionier. Nie nét was sy deel van die eerste groep studente om by die instelling aan te sluit nie, sy was ook die eerste Fontie om twee kwalifikasies aan die instelling te verwerf.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.