*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Jong werkende, laat só die nuwe belastingvoordele vir jou werk

Gepubliseer op:  23 Maart 2026

Geskryf deur Nikki Kennedy, dosent: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe en ervare belastingspesialis

Die nasionale begrotingsrede wat op 25 Februarie 2026 ter tafel gelê is, bring goeie nuus vir belastingbetalers, meer nog vir jong werkendes wat reeds doelgerig vir hul toekoms beplan.

Die sleutelveranderinge sluit inflasie-aanpassings ten opsigte van bestaande belastingskale vir natuurlike persone, asook ʼn verhoging in die mediesefondsbelastingkrediete in. Die praktiese uitwerking hiervan is dat ʼn natuurlike persoon met ʼn belasbare inkomste van
R342 000 per jaar ongeveer R1 225 minder belasting oor die jaar sal betaal.

Om hierdie veranderinge meer tasbaar te maak, gebruik ek die voorbeeld van Jan (25), ʼn jong werkende wat ʼn basiese salaris van R20 000 per maand verdien.

Jan is die enigste lid van sy mediese fonds en dra 5% van sy basiese salaris, oftewel R1 000 per maand, by tot ʼn geregistreerde aftreefonds soos ʼn uittree-annuïteitsfonds. Danksy die aangepaste persoonlike belastingskale, sowel as die verhoogde mediesefondsbelastingkrediet wat vanaf 1 Maart geld, geniet Jan ʼn jaarlikse besparing van ongeveer R729 in persoonlike inkomstebelasting met die ingang van die nuwe belastingjaar.

Vir die afgelope drie jaar was die mediesefondsbelastingkrediet vasgestel op R364 per maand vir die belastingpligtige, met ʼn verdere R364 vir die eerste afhanklike en R246 vir elke addisionele afhanklike. Hierdie bedrae is nou aangepas en sien soos volg daar uit:

  • R376 per maand vir die belastingpligtige;
  • R376 per maand vir die eerste afhanklike; en
  • R254 per maand vir elke addisionele afhanklike.

Vir iemand soos Jan, wat self sy mediesefondsbydraes betaal en die enigste lid is, beteken dit ʼn jaarlikse belastingvermindering van R4 512, teenoor die vorige besparing van R4 368.

Aftreefondsbydraes: minder belasting én beter beplanningsgeleenthede

Bydraes tot ʼn geregistreerde aftreefonds is ook aftrekbaar vir inkomstebelastingdoeleindes. In praktyk beteken dit dat Jan, wat jonger as 65 jaar is, sowat R25 380 se inkomstebelasting vir die jaar sal betaal. Maar, omdat Jan self sy mediesefondsbydraes betaal én maandeliks tot ʼn aftreefonds bydra, sal hy ʼn verdere belastingvermindering van R6 672 per jaar geniet.

Die wins hiervan lê egter nie nét opgesluit in belastingverligting nie, maar ook in die feit dat Jan reeds van vroeg af voorsiening maak vir sy toekoms en aftrede.

Skenk sonder verdere finansiële druk

Jan, as ʼn Akademia-alumnus, wil graag tot die verdere uitbouing van sy alma mater bydra en die goeie nuus is dat die nuwe belastingvoordele hom in dié strewe kan sterk.

Die Akademia-skenkingsfonds is ʼn geregistreerde publieke weldaadsorganisasie by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Dit beteken dat dit moontlik is om ʼn skenking te maak en ʼn artikel 18A-sertifikaat te ontvang vir jou bydrae. ʼn Artikel 18A-sertifikaat kan gebruik word om die inkomstebelasting van ʼn individu (en ook ʼn maatskappy) verder te verminder.

In Jan se geval kan ʼn skenking van R889 vir die finansiële jaar, soos dit teen 28 Februarie 2027 ten einde loop, sy belastinglas sodanig verlaag dat sy kontantvloei dieselfde daar uitsien as tydens die vorige belastingjaar. Hierdie is as gevolg van die benutting van die skenkingsaftrekking wat ʼn belastingaftrekbare bedrag is, tesame met die effek van die aangepaste persoonlike belastingskale.

Skenkings aan geregistreerde publieke weldaadsorganisasies, soos Akademia, is wel beperk tot 10% van die skenker se belasbare inkomste vóór die skenking. Groter skenkings kan gevolglik verdere belastingvoordele inhou. Dit beteken dat Jan sy alma mater kan ondersteun sonder om sy finansiële posisie negatief te beïnvloed.

Win kundige belastingadvies in

Dit is altyd raadsaam om kundige advies in te win alvorens belangrike finansiële besluite geneem word of belastinggevolge van toepassing is.

Binne die Akademia-alumni-gemeenskap is daar kundige gegradueerdes in onder meer die BCom (Finansiële Beplanning)-program sowel as die Nagraadse Diploma in Belasting wat kan help om die belastings- en finansiële gevolge van verskillende keuses beter te verstaan en te bestuur. In die lig hiervan is dit belangrik om jou netwerk van kundiges uit te bou.

Deur ingeligte besluite te neem, kan jong werkendes nie nét hul belasting slimmer bestuur nie, maar óók die nodige finansiële boustene vir hul toekoms en dié van hul alma mater help neerlê.

Nikki Kennedy, dosent: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe aan Akademia en ervare belastingspesialis meen die nuut aangekondigde belastingvoordele kan in jong werkendes se guns tel.
Hierdie berekening deur Nikki Kennedy, dosent: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe aan Akademia en ervare belastingspesialis, toon die belastingbesparing aan vir ʼn jong werkende (soos in die meningstuk omskryf).

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.