*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 18 Maart 2026
Vir Akademia-alumnus, Elisma Boshoff (24), was haar LLB-studiereis méér as net nóg ʼn akademiese doelwit wat sy suksesvol nagestreef het. Dit was ʼn doelbewuste keuse – een wat diep gewortel is in haar Christelike waardes, haar liefde vir Afrikaans en haar roeping vir geregtigheid. Boshoff lééf laasgenoemde roeping daagliks passievol uit as ʼn aspirant staatsaanklaer verbonde aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se Bloemfontein-kluster.
ʼn Groot eer het Boshoff vroeër vanjaar te beurt geval toe sy tot die aspirantprogram van die NVG toegelaat is. Meer as 8 000 individue het die toelatingseksamen in 2025 afgelê, waarvan slegs ʼn 100 kandidate landswyd aangestel is. Hiermee saam is Boshoff haar alma mater se eerste LLB-alumnus wat die rol van aanklaer najaag.
Die bekoring van die regswêreld
Volgens Boshoff prikkel die strafreg nog altyd haar belangstelling omdat dit geregtigheid, menslikheid en samelewingsverandering nouliks saam verweef. Sy geniet ook die intellektuele uitdaging van dié spesialisrigting, naamlik om feite te ontleed, bewyse te interpreteer en argumente te bou wat regverdig én onweerlegbaar is. “Die regte is nie net my gekose beroep nie, dit is ʼn roeping wat my waardes van integriteit, empatie en volharding beliggaam,” sê Boshoff.
“My toelating tot die NVG-program is ʼn groot eer, en ʼn getuienis van die hoëgehalteopleiding en -vorming wat deur die dosente van die Fakulteit Regsgeleerdheid gelewer word. My dosente het my geleer om feite skerp en krities te ontleed, en ek is vas daarvan oortuig dat Akademia se regskundiges nie vir enige ander hoëronderwysinstelling hoef terug te staan nie,” sê Boshoff.
Aanklaers dien in die voorste linie van geregtigheid
Maar wat behels die rol van ʼn aanklaer? Boshoff verduidelik dat ʼn aanklaer, binne die Suid-Afrikaanse regskonteks, hoofsaaklik die staat in kriminele sake verteenwoordig. Aanklaers ondersoek bewyse deeglik en krities, besluit of daar voldoende gronde vir vervolging is, en berei sake voor vir die hof.
Ander pligte en verantwoordelikhede sluit in die opstel van klagstate, die ondervraging van getuies, die aanbied van bewyse asook die lewering van argumente waarom die beskuldige skuldig is – altyd bó redelike twyfel. Hierdie rol is onafhanklik en fokus volgens Boshoff uitsluitlik op openbare belang, wat slagofferbeskerming en gemeenskapsveiligheid insluit.
“In ʼn perfekte wêreld verseker aanklaers billike verhoorprosesse, balanseer hulle die regte van die slagoffer met die regte van die beskuldigde en, dra hulle by tot die strafregstelsel se geloofwaardigheid,” verduidelik Boshoff. Sy voeg by dat sy, deur haar roeping, ʼn blywende verskil wil maak en só aan slagoffers ʼn stem gee terwyl oortreders aanspreeklik gehou word en die regstelsel sterker uitgebou word.
Lesse uit die ervaring van ʼn nauurse afstandstudent
Volgens Boshoff, wat in 2021 by Akademia aangesluit het, was dié instelling haar eerste keuse as ʼn studietuiste omdat sy graag deel wou wees van iets groter as haarself, naamlik die uitbouing van ʼn eie hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.
As ʼn student wat haar studie via die nauurse afstandsmodel aangepak het, het Boshoff van die e-leeropsie gebruik gemaak. Dié opsie het haar in staat gestel om voltyds te werk terwyl sy studeer. Sy is dit eens dat nauurse studie oor afstand baie selfdissipline verg, maar sodra jy dié eiesoortige ritme baasraak, die buigbaarheid hiervan ʼn besliste voordeel inhou.
“Dit het my ʼn rukkie geneem om in ʼn vaste roetine te kom van werk en studeer, maar naderhand was dit tweede natuur. Dit is lekker om te besef dat jy die vryheid het om jou lewe te organiseer soos wat jy daarvan hou,” sê Boshoff. Gedagtig hieraan bied sy die volgende brokkies advies aan ander werkende studente:
Jy moet jouself intrinsiek motiveer.
ʼn Trotse Akademia-alumnus
Volgens Boshoff sal sy, sonder enige huiwering, Akademia as ʼn studietuiste aan voornemende studente voorhou. Een van haar redes is die voorreg en uitsonderlikheid daarvan om in Afrikaans te mag studeer.
“In die Engelse werksomgewing waarin ek myself tans bevind, kan ek met sekerheid sê dat ek geensins ʼn agterstand het omdat ek in my moedertaal studeer het nie. Die teendeel is eerder waar: Op ʼn kognitiewe vlak beskik ek oor die vermoë om inligting beter en dieper te verstaan en te vertolk,” verduidelik Boshoff.
Wat haar alma mater betref, is Boshoff opgewonde oor die toenemende groei, die bykomende studierigtings – voorgraads sowel as nagraads, asook die voortgesette passie waarmee Akademia-personeel hul werk verrig.
“My droom vir die instelling is dat dit steeds meer en meer ʼn baken van hoop en lig sal wees wat opleiding in Suid-Afrika betref. Dat dit ʼn studietuiste sal bly waar nóg meer studente wêreldklas programme kan voltooi en só met selfvertroue in die samelewing sal kan inskakel sonder om terug te staan. Mag Akademia ʼn pionier van ons tyd én die volgende generasies wees, veral wat regsopleiding betref,” sluit Boshoff af.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.