Regspraktisyn-Arno is ʼn lewenslange en leergierige Fontie

Gepubliseer op:  8 Oktober 2025

Arno Kruger (26) is ʼn trotse Akademia-alumnus met ʼn onblusbare passie vir kennis. Nie nét is hy as toegelate regspraktisyn ʼn voorloper wat sy alma mater se Fakulteit Regsgeleerdheid betref nie, hy is óók ʼn vaandeldraer vir lewenslange leer en die potensiaal wat op dié manier ontsluit word. Kruger is op 24 Julie vanjaar tot die Prokureursorde toegelaat as ʼn praktiserende prokureur – ʼn eer wat nog net een ander alumnus, Rico Hammann, te beurt geval het.

As oud-Fontie het Kruger nie minder nie as drie kwalifikasies aan sy alma mater verwerf, naamlik die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde in 2018, BCom (Ekonomie en Regte) in 2021 en LLB in 2023. En, soos daar in die volksmond gesê word: nog steeds is dit der einde niet! Kruger is van voorneme om binnekort as nagraadse student, en assosiaat by die firma Hurter Spies Prokureurs, die LLM-program aan te pak.

Arno Kruger (26) is ʼn trotse Akademia-alumnus en een van die eerste oudstudente wat tot die Prokureursorde as ʼn praktiserende prokureur toegelaat is. Dié eer het Kruger op 24 Julie vanjaar te beurt geval.

Suid-Afrikaans en Afrikaans met trots

Vir Kruger, ʼn Pretorianer in murg en been, lê sy identiteit as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner hom baie na aan die hart. Om dié rede het hy reeds as skoolleerder aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) besluit om homself op eie bodem vir die toekoms toe te rus. Volgens Kruger het hy reeds vroeg in sy lewe besef dat ʼn loopbaan in die Regte hom beskore is, en dat hy só as ʼn trotse en diensbare landsburger ʼn positiewe verskil kan bewerkstellig.

Akademia se moedertaalfokus het hom finaal daarvan oortuig om die instelling as studietuiste te kies en danksy die aanpasbaarheid van die nauurse afstandsmodel kon hy terselfdertyd waardevolle praktiese ondervinding opdoen.

Ná ʼn betekenisvolle studiereis van ses jaar is Kruger dit eens dat sy Akademia-besluit die beste nóg was. Hy was gedurende dié tyd by die Moot-sentrum ingeskakel en kan nie uitgepraat raak oor sy positiewe ervaring nie. “Die toesighouers is altyd vriendelik en bereid om die ekstra myl te stap. Ek het regtig altyd baie tuis gevoel, en kon my studie hier met gemak en ʼn verskerpde fokus aanpak,” vertel Kruger. Hy voeg by dat die interaksie met mede-Fonties ook waarde toegevoeg het. Nie net kon hy vriendskappe met ewigheidswaarde smee nie, hy kon ook die voordeel van studiegroepe benut.

Geroepe vir die regsbank

Kruger kan homself nie in ʼn ander beroepsveld as die Regte indink nie. Sy kleintyddroom, vroeëre blootstelling aan die beroep, ʼn voorliefde vir probleemoplossing en ʼn klinkklare roepingsbesef het hom as‘t ware op sy loopbaanreis tot op hede vergesel.

As ʼn uiters gedrewe persoon, wat ʼn hoë premie stel op kritiese denkvaardighede, logiese beredenering en uitnemendheid, pas die professionele mondering van ʼn regspraktisyn hom soos ʼn handskoen. Die feit dat sy beroep hom verder toelaat om op verskeie vlakke binne die gemeenskap te funksioneer dra verder by tot dié beroepsbekoring.

Hy vertel voorts dat hy homself as Fontie voortdurend aan die praktyk blootgestel het, deur skaduwerkgeleenthede, vakansieprogramme en deur as ʼn vrywilliger werk by regsfirmas en die howe te doen. Hierdie ingesteldheid het hom nie net gehelp om waardevolle ervaring op te doen nie, maar om ook vroeg reeds dinamiese netwerke te bou.

Jou studie is ʼn reis, en nie ʼn eindbestemming nie

Een van die belangrikste brokkies advies wat Kruger met voornemende asook huidige Fonties wil deel is dat elke studiereis ʼn ontdekkingstog is. “Sien jou studie as ʼn unieke, maar betekenisvolle reis. Dit is nie ʼn eindbestemming nie, maar wel ʼn belangrike toetredingspunt op jou loopbaanreis vanwaar jy, figuurlik gesproke, jou roete na sukses kan karteer,” meen Kruger.

Wat nauurse afstandstudie betref, is Kruger daarvan oortuig dat deeglike voorbereiding, selfdissipline en effektiewe tydsbestuur die sleutels na sukses verteenwoordig. “Daar gaan moeilike en uitdagende tye wees waartydens jy vele verpligtinge – sosiaal, persoonlik, werk en studie, gaan moet balanseer. Hou moed en druk deur. Herinner jouself aan die redes waarom jy studeer en die doelwitte wat jy vir jouself stel. Glo my, dit is alles die moeite werd,” sê Kruger.

As hy terugkyk oor sy tyd as ʼn Fontie meen Kruger dat hy duidelik kan sien hoe dat die instelling hom gevorm en vir sy beroep en rol in die gemeenskap voorberei het. In hierdie verband is dit veral die fokus op selfstandige leer, die instelling se kernwaardes en die deugde van selfdissipline en verantwoordbaarheid wat hom bybly.

Op die vraag of hy Akademia as ʼn voorkeur studietuiste aan ander voor sal hou, kom die antwoord onomwonde ja. “Die instelling bied ʼn uitstekende balans tussen akademiese gehalte en persoonlike ontwikkeling. Jy word toegerus met soveel meer as net boekkennis. Die dosente is van wêreldgehalte en ʼn standaard word voorgehou wat spreek van ʼn ongeëwenaarde verbintenis tot uitnemendheid en impak,” sê Kruger. Hierdie verborgenheid spreek ook tot elke Fontie se plek binne sy/haar gemeenskap.

ʼn Alma mater met ewigheidswaarde

Kruger meen dat dit vir hom as alumnus ʼn besonderse voorreg is om aan sy alma mater verbonde te mag bly. “Ek twyfel nie vir ʼn oomblik aan die instelling se vermoë nie, want Akademia sal bly slaag – nie net oor wat die instelling doen nie, maar oor hoe daar te werk gegaan word,” meen Kruger.

En watter droom koester Kruger vir sy alma mater?

“Ons Hemelse Vader het in sy raadsplan groot planne vir Akademia en ek sien hoopvol uit na die toekoms wat in die vooruitsig gestel word. Mag die instelling steeds groter hoogtes bereik, mag sy programverskeidenheid toeneem en mag die dinamika en positiewe impak van sy vormingstaak vir generasies behoue bly. As alumnus bid ek seën op die instelling en elkeen wat tussen sy mure tuis is,” sê Kruger.

As ʼn Akademia-alumnus het Kruger reeds drie kwalifikasies aan sy alma mater verwerf, en is hy van voorneme om eersdaags sy studie as nagraadse student verder te neem.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.