Landbouskenkingsfonds

Die Akademia-landbouskenkingsfonds is in 2025 gestig om Akademia se landbouontwikkeling, wat deel sal vorm van die instelling se 2028- wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria, te ondersteun. Dié fonds verteenwoordig ʼn strategies geïdentifiseerde en doelgerigte toegewysde fonds binne die groter Akademia-skenkingsfonds.

Jou betrokkenheid help om te verseker dat nuwe generasies roepingsgedrewe as landboukundiges opgelei word wat die landbousektor se volhoubaarheid positief sal versterk.

Die fokusareas van die fonds

Teen die einde van 2028 is die mikpunt om ʼn totaal van R78 miljoen in bevestigde skenkings of formele verbintenisse te verseker. Hierdie kapitaal sal die volledige ontwikkeling van die Landbou-proefplaas moontlik maak. Ná voltooiing van hierdie fase, sal die fondswerwingsinisiatief doelbewus uitgebrei en verskerp word om ʼn volhoubare vloei van skenkingsfondse te verseker. Hierdie fondse sal eerstens aangewend word vir gedeeltelike beursbefondsing aan behoeftige studente, en vervolgens vir die implementering van die res van die strategiese prioriteite soos geïdentifiseer.

Die Akademia-proefplaas

Skenkings vir die Akademia-proefplaas sal aangewend word vir die ontwikkeling en instandhouding van ʼn toegewyde proefplaas vir navorsing, praktykgerigte opleiding en die ontsluiting van vindingryke asook toekomsgerigte landboupraktyke. Hierdie fasiliteit sal as ʼn dinamiese en praktiese leeromgewing vir studente, dosente en landboukundiges dien.

Die Akademia-proefplaas word vir fase twee van die kampusontwikkeling geoormerk, en sal in Januarie 2028 ʼn aanvang neem. Dit word voorsien dat dié fase tot en met Desember 2028 sal duur. Die beoogde ingebruikneming van die proefplaas word vir Januarie 2029 in die vooruitsig gestel.

Skenkings vir hierdie oogmerk sal voorsiening maak vir finansiële ondersteuning en beurse aan voornemende landboustudente aan Akademia.

Skenkings vir hierdie oogmerk sal gebruik word om die ontwikkeling van gespesialiseerde programme in landbouwetenskappe asook verwante dissiplines te befonds. Daar word voorsien dat daar teen 2030 250 studente in verskeie landbouprogramme gaan wees. Uiteindelik is die droom om ʼn omvattende aanbod van hoër sertifikate tot op doktorsgraadvlak in die landboudissipline aan te bied.

Die volgende landbouprogramme is in die beplannings- en ontwikkelingsfases:

  • BAgric (Landbou)
  • BSc (Landbouwetenskappe)
  • Hoër Sertifikaat in Diereproduksie
  • Hoër Sertifikaat in Gewasproduksie

Fondse sal gebruik word om toonaangewende implemente, toerusting en digitale tegnologieë aan te skaf.

Skenkings sal bydra tot die vestiging van ereleerstoele in onder meer akademiese navorsing in landbou-ekonomie, volhoubare boerderypraktyk en landboubestuur.

Voordele wat ʼn skenking vir die skenker inhou

Jy ontvang belastingvoordele.

Jy skep ʼn blywende nalatenskap.

Jy word ʼn vennoot van Akademia.

Jy verkry toegang tot gehalte Akademia-landboustudente.

Volg die Landbouskenkingsfonds se vordering hier

R6 miljoen
R 0 miljoen
R 0 miljoen
R 0 miljoen

Vriende en vennote van die fonds

Akademia verwelkom vennootskappe en die toetrede van ondersteuners (kommersieel of andersyds) ter ondersteuning van die uitbouing van die Landbouskenkingsfonds. Stuur ʼn e-pos na skenkings@akademia.ac.za of skakel 0861 222 888 om met die bestuurder: Skenkingsfonds (Zander Botha) te gesels.

Gemeenskapsbetrokkenheid as ʼn belegging in Afrikaanse landbou-opleiding

Die Landbouskenkingsfonds bied ʼn geleentheid aan gemeenskappe, veral die uitgebreide landbougemeenskap, om doelgerig te belê in die toekoms van landbou én Afrikaanse hoër onderwys. Deur betrokke te raak, help gemeenskappe, individue en ondernemings om ʼn generasie vaardige, roepingsgedrewe landboukundiges op te lei wat die sektor se volhoubaarheid sal help verseker. 

Om ʼn finansiële bydrae* tot Akademia te lewer, stuur asseblief ʼn e-pos na skenking@akademia.ac.za of maak gerus ʼn elektroniese betaling:

Bankbesonderhede vir bydraes tot die Akademia-landbouskenkingsfonds

Kampus Trust IT 1807/12
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer

Stuur asb. bewys van betaling na skenking@akademia.ac.za sodat ons jou persoonlik kan bedank en ʼn artikel 18A-sertifikaat kan uitreik.

*Die meeste skenkings is belastingterugeisbaar, en die Akademia-skenkingsfonds reik graag ʼn artikel 18A-sertifikaat in hierdie verband uit.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.