Só rol Fontiepreneurs soet toekomsplanne uit

Gepubliseer op: 26 Augustus 2025

Vir die twee hartsvriendinne, Simoné Steenkamp (20) en Mizaan van Jaarsveld (19), behels vriendskap soveel méér as net ʼn gedeelde Fontie*-ervaring. Dié twee deel óók ʼn voorliefde vir bak en saam bedryf hulle die koekiebesigheid, Faith and Flour.

As studente op die voltydse kampusmodel, is die Centurion-kampus vir beide Steenkamp en Van Jaarsveld ʼn studietuiste. Steenkamp het vanjaar haar studiereis met die BCom (Ondernemingsbestuur)-program voortgesit nadat sy in 2024 die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie voltooi het. Van Jaarsveld dien as tweedejaarstudent en is besig om haar studie in die BCom (Ekonomie en Regte)-program te voltooi.

Van ʼn droom tot bakplate vol koekies

Steenkamp en Van Jaarsveld se vriendskap het tydens die instelling se 2025-eerstejaarskamp gedy en die twee was gou onafskeidbaar. Dit was dan ook hier waar die idee van ʼn eie besigheid gegrond op ʼn gedeelde passie, posgevat het.

Die duo, wat ook woonstelmaats is, het aan die begin van die jaar dappere en doelgerigte vlerke aan hul koekiebesigheidsdroom gegee en ná sewe maande kyk hulle in verwondering en dankbaarheid terug oor hul entrepreneuriese reis tot op hede. Maar waar kom hul liefde vir soetgebak vandaan? Van Jaarsveld vertel dat haar ouma, Liesbeth, haar liefde vir bak en brou vanaf kindsbeen af aangewakker het, terwyl Steenkamp geïnspireer is deur Van Jaarsveld se versiervernuf wat haar in staat stel om van ʼn doodgewone koekie ʼn kunstige meesterstuk te maak. Dit was daarom nie lank nie, of sy het self met versiersuikerkuns begin eksperimenteer.

Die res is soos hulle sê, geskiedenis. Vandag is die kombinasie tussen passie en kreatiwiteit dié twee vriendinne se sleutel tot besigheidsukses.

Die instelling se eerste Fontie-mark, in 2024, het as wegspringplek én waardevolle vertoonvenster vir Faith and Flour gedien. Dié mark, wat spesiaal aan Fontiepreneurs die geleentheid bied om hul handewerk en produkte aan die groter Akademia-familie bekend te stel, het volgens die vriendinne hul besigheidsreis behoorlik op dreef gebring. Ter illustrasie van hul bak- en versiervernuf het Steenkamp en Van Jaarsveld vir elk van Akademia se ses koshuise ʼn uniek versierde suikerkoekie gemaak, kompleet met elke koshuis se handelsmerk. Die uiteinde? Oombliklike sukses!

Die lewe is ʼn (lof)lied

Beide Steenkamp en Van Jaarsveld is dit eens dat hul ʼn Godgegewe talent het, en daarom begin hulle elke dag bewustelik met lofprysing alvorens hulle hul dagtake as studente én entrepreneurs begin. Akademia as ʼn Christelike hoëronderwysinstelling laat dié twee Fonties toe om hul geloof voluit uit te leef, van die lesinglokaal tot tussen vriende. Ná klas word daar in alle erns tyd in die kombuis deurgebring, altyd ook met lofprysingsmusiek in die agtergrond.

Volgens Steenkamp kan hulle beswaarlik voorbly met die bestellings, en het hulle soetgebak al by troues en verskeie ander spesiale geleenthede vir bederfoomblikke gesorg. ʼn Hoogtepunt in hul besigheidsreis is die insluiting van hul suikerkoekies by Akademia se koffiewinkel, Sowel As.

Van Jaarsveld meen hulle doel as entrepreneurs is nie nét om ʼn wins te maak nie, maar eerder die vervulling van hul groter koninkrykswerk as gelowiges. Elke koekie word met ʼn geloofsboodskap daarop handversier en só word elke bestelling ʼn sendelingsroeping. Hierdie roeping spreek voorts tot Akademia se Christelike inslag en die waardes van geloof, hoop en liefde.

En hoe lyk die toekoms vir dié talentvolle Fonties? Albei stem blinkoog ooreen dat hulle graag hul eie tuisnywerheid sal wil begin en hul koekies aan ʼn groter mark in Pretoria wil verkoop. Hulle moedig ander jong entrepreneurs aan om ook hul drome met geesdrif na te jaag. Die vriendinne meen verder dat God, wat die gewer van alle talent is, óók sy grondgebied deur besigheidsdrome kan vergroot.

Wil jy ook soos Steenkamp en Van Jaarsveld Akademia jou studietuiste maak? Studieaansoeke vir die 2026- akademiese jaar word nou ingewag. Besoek die instelling se webblad vir meer inligting.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Simoné Steenkamp en Mizaan van Jaarsveld is nie net trotse Fonties nie, maar ook passievolle bakkers wat hul eie besigheid, Faith and Flour, bedryf.
Faith and Flour bied unieke en handversierde suikerkoekies vir enige geleentheid, van troues tot doopvieringe.
Stephen Nel, koshuisouer van Huis Karoo, spog met een van Faith and Flour se pasgemaakte koekies tydens die instelling se 2024-Fontie-mark.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.