A-graadsukses vir Fontie-preneur, Mincke

Gepubliseer op: 19 Junie 2025

Vir Hendricke Krige (18) – of Mincke soos haar geliefdes haar noem – is Akademia soveel méér as net ʼn studietuiste. Vir dié boorling van Valhalla in Centurion is die instelling as’t ware ʼn tuiste weg van die huis af en sy omarm die instelling se bruisende studentelewe met groot ywer. Dié voltydse Fontie is óók ʼn behendige entrepreneur met ʼn suksesvolle vleisverskaffingsbesigheid, VleisHuis.

Krige is tans ʼn eerstejaarstudent in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program, en skakel as Huis Daglelie-dame in by een van die instelling se twee dinamiese daghuise. Die daghuise het dit ten doel om voltydse kampusstudente, wat nie in een van die instelling se inwoonkoshuise woon nie, die geleentheid te gun om steeds deel van Akademia se aktiewe studentelewe te wees. “As ʼn lid van die damesdaghuis kan ek Akademia se studentelewe eerstehands ervaar en bou ek in die proses lewenslange vriendskappe deur my deelname aan sleepaksies, sport, spanbou en allerhande lekker sosiale geleenthede,” verduidelik Krige. Sy voeg trots by dat sy as die leier van Huis Daglelie se Skaakklub dien.

Volgens Krige was die keuse van Akademia as ʼn studietuiste voor die hand liggend. Nie net kan sy in haar moedertaal studeer nie, sy kan terselfdertyd haar Christelike waardes ten volle uitleef.

VleisHuis – só kry ʼn entrepreneuriese droom gestalte

Van kleins af droom Krige reeds om diensbaar in haar gemeenskap te wees, onder andere deur na ander se gesondheidskeuses en eetgewoontes te help omsien.

Dié droom het reeds op vyftienjarige ouderdom gestalte gekry toe sy vir ʼn vrieskas gevra het as ʼn verjaardaggeskenk. Sy wou dit destyds gebruik om vis wat sy beoog het om te verkoop in te stoor en só haar droom as entrepreneur te verwesenlik. Dié droom het stelselmatig deur die jare ontwikkel en vandag is dit haar missie om hormoonvrye vleissnitte (hoender, vark, lam en verskeie ander vleisopsies) aan haar klantebasis te voorsien.

Ten einde haar besigheid so effektief as moontlik te bedryf, bestuur Krige dit van haar tuiste af in die Valhalla-omgewing. Van hier bedien sy klante in Wonderboom, Midrand en Rooihuiskraal met ʼn personeelkorps van vyf toegewyde lede. Sy oorsien self die gehalte van elke produk wat sy versend. En ja, sy verskaf ook klaargemaakte vleisdisse, soos frikkadelle, vir diegene wat nie so behendig in die kombuis is nie.

Krige se kleinkassie-roem

Die gewildheid van Krige se besigheid het behoorlik vlam gevat ná haar deelname aan die gewilde televisiereeks, Maak my ʼn Miljoenêr, in haar matriekjaar in 2024.

Sy vertel dat sy tydens haar deelname aan die program baie oor verskillende besigheidsaspekte geleer het, van bemarking, en kliëntewerwing tot krisisbestuur. Om uiteindelik derde plek uit die toptien te kon eindig was vir haar ʼn persoonlike hoogtepunt en prestasie. Laasgenoemde was vir haar ʼn geleentheid om op hierdie groot platform die Here vir sy guns en genade oor die talente waarmee sy woeker te loof. Krige beveel deelname aan dié program ten sterkste aan vir alle jong skoolentrepreneurs. Sy meen dat haar deelname haar gehelp het om sterk netwerke te bou wat haar in staat stel om van tyd tot tyd besigheidsraad by ander entrepreneurs te kry en só haar eie kennis te kan verskerp. Sy noem verder dat haar besigheid haar nie net in staat stel om finansieel vir haarself voorsiening te maak nie, maar ook om haar droom van diensbaarheid prakties uit te leef.

Student- en entrepreneurwees: Só tref Krige balans

Haar wenk om die verantwoordelikhede van studentwees en die bestuur van haar besigheid te balanseer lê volgens Krige opgesluit in deeglike beplanning. Sy noem dat sy haar stokperdjie, draf, gebruik om haar gedagtes te orden – veral tydens besige tye. Saans spandeer sy hoofsaaklik aan haar studie en besigheidsaspekte. Vir Krige is haar ouers se ondersteuning asook die onderskraging van haar mentors – Roedolf van der Westhuizen, Fergus Ferguson, Marthinus Visser en Albert van Wyk, onontbeerlik.

En hoe lyk die toekoms vir Krige? Sy droom van ʼn eie restaurant én ʼn niswinkel waar sy die gemeenskap en families met tuisgemaakte geregte en uitgesoekte vleissnitte kan bederf. ʼn Plek waar tyd saam gekoester word, goeie gesondheid aangemoedig word en daar ʼn waardering vir gehalte is.

Ondersteun gerus vir Krige deur haar Instagram-profiel te besoek. Akademia sien uit na haar loopbaanreis as entrepreneur en hou haar sukses fyn dop.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Mincke Krige (18), ʼn trotse Fontie en ʼn entoesiastiese entrepreneur.
Fontie-preneur, Mincke Krige, stap trots oor die verhoog toe sy derde plek behaal het uit die toptien tydens die Maak my ʼn Miljoenêr-kompetisie in 2024.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.