Akademia-alumnus droom en doen in die skadu van die Afrikaanse Taalmonument

Gepubliseer op: 26 Februarie 2025

Die jaar 2025 is ʼn hoofletterjaar vir die Afrikaanse taal, en by uitstek óók vir Akademia-alumnus, Tania Lang (46), wat passievol haar beroepslewe in haar moedertaal uitlééf. Dié boorling van die Paarl, werk reeds amper 24 jaar by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en beklee tans die pos as hoof- finansiële beampte.

Volgens Laing verteenwoordig 2025 ʼn baie spesiale jubeljaar vir die Afrikaanse Taalmuseum en -monument omdat die Genootskap van Regte Afrikaners 150 jaar terug in die lewe geroep is. Dié genootskap het in die huis van Gideon Malherbe posgevat, wat later die standplaas van die Afrikaanse Taalmuseum geword het. Hierbenewens word Afrikaans as ʼn amptelike taal ʼn 100 jaar oud én die Afrikaanse Taalmuseum en -monument vier sy 50ste bestaansjaar.

ʼn Uitdagende maar vervullende studiereis

Laing het in 2019 by die Akademia-familie aangesluit toe sy vir die BCom (Bestuursrekeningkunde)-program via die instelling se nauurse afstandsmodel geregistreer het. Sy het dié program in 2022 voltooi en het weer in 2024 haar Fontie-baadjie aangetrek vir die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde. Sy vertel dat daar veral drie aspekte was wat haar laat besluit het om by Akademia te studeer. “Ek is trots-Afrikaans en die feit dat ek in my moedertaal nauurs oor afstand kon studeer het destyds die knoop vir my deurgehaak,” onthou Laing. Só ook die feit dat haar gekose studierigting akkreditasie van die Chartered Institute for Management Accountants (CIMA) geniet én dat die Paarl-sentrum gerieflik en maklik toeganklik was.

As nauurse Fontie het Laing aanvanklik by die Paarl-sentrum ingeskakel, maar sy het met die aanvang van die Covid-19-pandemie na die e-leeropsie oorgeskakel. Sy beskryf hierdie oorgang as naatloos en voeg by dat as ʼn werkende student hierdie tyd met groot onsekerheid gepaard gegaan het. Die feit dat sy ten spyte van dié warboel haar studie onverpoosd kon voortsit was volgens Laing baie gerusstellend.

Op die vraag of sy Akademia aan ander studente as ʼn studietuiste sal voorhou, is die antwoord ʼn onomwonde ja! Laing meen die professionaliteit van dosente is beslis een van die grootste trekpleisters vir voornemende studente. “Daar was nooit ʼn geleentheid waar dit vir my gevoel het asof ek aan my eie genade oorgelaat word nie,” sê Laing en loof die akademiese personeel vir hul goeie voorbereiding en ondersteuning.

Haar gunstelingdosente was Barry Stoop, Daniëlla du Preez, Mariska Wannenburg en Alick Burger – almal verbonde aan die afdeling: Finansiële en Bestuurswetenskappe. Hierdie dosente het nie net haar passie vir haar gekose beroepsveld versterk en aangevuur nie, maar haar ook gemotiveer om self die hoogste sport van sukses te wil bereik

Terugskouend lig sy haar hoed vir haar ondersteuningsnetwerk, veral haar man en haar werkgewer, wat haar tydens haar studie ondersteun het. As iemand wat voltyds in die finansiële sektor werksaam was tydens haar studie was dit soms moeilik om die spreekwoordelike balansstaat van verpligtinge te laat klop. “Semestertoetse en eksamens was veral uitdagend om dit heel dikwels met jaareinde en oudittydperke gepaard gegaan het, maar danksy my topondersteuningsnetwerk kon ek deurdruk en presteer,” onthou Laing.

As dit kom by nauurse afstandstudie bied Laing die volgende praktiese advies aan studente:

  • Goeie tydsbestuur is ononderhandelbaar.
  • Berei goed voor vir elke klas.
  • Luister na jou dosente en maak seker jy volg hul raad.
  • Vergewis jouself van wat in die wêreld rondom jou gebeur aangesien daar van jou verwag gaan word om jou teoretiese kennis prakties toe te pas.
  • Onthou dat jy vir jouself werk en nie om ander tevrede te stel nie. In hierdie opsig is jou studie ʼn belegging in jouself.

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument as beroepstuiste

Oor haar werksaamhede by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument vertel Laing opgewonde dat daar oor die bestek van haar loopbaan reeds heelwat ontwikkelinge en positiewe veranderinge plaasgevind het. Sy lig veral haar hoed vir die toegewyde personeelkorps wat as ʼn gedugte span saamwerk om die visie en mandaat van dié taal en -kultuurkleinood te vervul.

“Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument bied iets vir elke besoeker, oud óf jonk. Aktiwiteite sluit onder meer verskeie opvoedkundige programme vir skoolgaande kinders in, kortkursusse vir diegene wat ʼn bietjie ouer is, en interessante openbare gebeurlikhede wat aan nasionale dae verbind word,” verduidelik Laing. Sy voeg by dat haar werkgewer en geliefde kleinood van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe net soos die taal self dinamies en vernuwend is met ʼn gesonde toekomspolsslag.

Opgewonde oor die toekoms van haar alma mater

Op die vooruitsig dat Akademia in 2026 ʼn kampus in die Paarl gaan vestig, meen Laing dat dié werklikheid die realisering van ʼn langverwagte droom is.

“Ek is só opgewonde oor hierdie vooruitsig en ek glo dit sal ʼn gróót aanwins vir die Paarl-omgewing wees veral omdat baie skoolverlaters spesifiek ver moet reis om te studeer en dan boonop hul studie in noodverweer in Engels moet aanpak,” sê Laing. Sy spreek ten slotte die wens uit dat haar alma mater steeds van krag tot krag sal gaan en dat studente werklik tuis sal wees by Akademia. “As jy dit oorweeg om by dié instelling te studeer óf reeds ʼn student is wil ek jou aanmoedig om die geleenthede wat aan jou gebied word met albei hande aan te gryp én om elke tree van dié reis terdeë te geniet!” sê Laing.

Akademia-alumnus, Tania Lang, is passievol oor Afrikaans. Dié boorling van die Wes-Kaap werk reeds amper 24 jaar by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument as hoof- finansiële beampte.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.