Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia ontvang die N.P. van Wyk Louw-skenking met groot dankbaarheid

Gepubliseer op: 30 Mei 2022

Op 25 Mei het Akademia die skenking van die N. P. Van Wyk Louw-versameling, bekendgestel wat deur Peter Louw, seun van hierdie bekende Afrikaanse digter en filosoof, aan Akademia geskenk is. Die versameling sluit van N. P. Van Wyk Louw se boeke, handgeskrewe manuskripte en notas in, sowel as stemnotas en plate wat die digter self opgeneem het.

Dr. Hercules Boshoff, dosent aan Akademia, prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia en Carel Boshoff, bekleër van die N. P. Van Wyk Louw-ereleerstoel, en talle ander het die byeenkoms by die instelling se Centurion-kampus bygewoon. “Akademia is dankbaar vir die skenking en die versameling word ten toon gestel by die mediasentrum op die kampus,” sê Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia se Centurion-kampus.

Van Wyk Louw se seun het uitgebrei oor hoekom dié skenking juis aan Akademia toevertrou is. Volgens hom was sy pa ʼn boekliefhebber. “Hy [N. P. Van Wyk Louw] was ʼn ywerige leser en bestudeerder van boeke. Ek gebruik die woord “bestudeerder”, want hy het ʼn enorme belangstelling gehad in alles op hierdie aarde, en daarbo en daaronder, en sy boekery weerspieël hierdie byna obsessiewe drang na kennis en insig,” vertel hy.

Van Wyk se seun meen dat in die lig van die agteruitgang van Afrikaans op tersiêre onderrigvlak, Akademia, as “onbeskaamd Afrikaanse universiteit”, die ideale en waardige ontvanger van hierdie kosbare skenking moet wees. “Ek is oortuig dat my geliefde ouers so ʼn skenking sou goedgekeur het, en vertrou dat dit nog baie mense se lewens sal verryk net soos wat ek daardeur verryk is,” sê hy.

Boshoff, bekleër van Akademia se N. P. Van Wyk Louw-ereleerstoel, meen dat die digter ʼn liberale nasionalis was en dat mense vandag nog baie by sy werk kan leer.

Duvenage beskryf Van Wyk Louw as ʼn “heel eenvoudige ouerige man”, maar wat vandag van kardinale belang is. Volgens hom is Louw se poësie belangrik en moet dit die geleentheid kry om te herleef in die vorm van podsendings. “Sy teaterstukke moet lewendig gemaak word by die AfriForum Teater sodat mense in vandag se tyd sy werk kan interpreteer,” sê Duvenage.

Akademia is dankbaar vir die kosbare skenking van die Van Wyk Louw-versameling en beoog om sy werke te laat herleef. As jy ʼn skenking wil maak aan Akademia, kan jy gerus hier klik vir meer inligting. Akademia het ten doel om kosbare Afrikaanse boeke en ander items te bewaar vir ons nageslagte.

Die N. P. Van Wyk Louw-versameling is op 25 Mei by Akademia se Centurion-kampus bekendgestel.
Die aand is onder andere bygewoon deur Carel Boshoff, Lianda Coetzer, prof. Pieter Duvenage, Marthinus Visser en dr. Hercules Boshoff.