Gepubliseer op: 7 Februarie 2025
Akademia se Fakulteit Opvoedkunde het op Donderdag 6 Februarie 2025 die nuwe Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur op ʼn luisterryke wyse met ʼn ereleerstoellesing bekendgestel. Dié geleentheid, wat op die instelling se Leriba-kampus in Centurion plaasgevind het, is deur belanghebbendes van dwarsoor die land bygewoon.
Dr. Pierre Edwards, bekleër van Akademia se ereleerstoel in onderwysleierskap, het tydens dié geleentheid as gasspreker opgetree. Hy het ʼn lesing met die titel: Geskiedenis as kompas vir etiese leierskap in ʼn veranderende wêreld, gelewer.
In haar verwelkoming het dr. Maretha Steyn, departementshoof: Professionele Studies, die rol van moderne skole as gemeenskapsinstellings beklemtoon. Volgens Steyn moet skole gesien word as ʼn belangrike skakel wat huis en samelewing met mekaar verbind en voorts as die kern dien waar waardes gevestig word, leiers ontwikkel word én waar die vormingsproses van denke én hart van ʼn generasie begin. “Wanneer waardes, geloofsbegronding en gesag agterweë bly, fragmenteer en struikel samelewings,” meen Steyn. Sy voeg by dat onderwysleiers roepingsgedrewe daarop moet fokus om gemeenskappe te vestig en uit te brei wat opkomende geslagte tot gesonde burgerskap sal lei. Hierdie taak moet by wyse van verantwoordbare en dapper leierskap geskied. “Skoolleiers moet hul gemeenskappe daaraan herinner dat hulle nie alleen in ʼn onsekere wêreld is nie, maar geanker is in ʼn ryk erfenis van geloof, wysheid en gedeelde waardes,” sê Steyn.
Ereleerstoellesing: Geskiedenis as ʼn kompas vir etiese leierskap
Volgens Edwards is dit belangrik dat leierskapslesse uit die verlede as ʼn spieël, waarskuwing én inspirasie dien vir hedendaagse onderwysleiers – veral gegewe die uitdagende morele en etiese tye waarin leiers hulself moet vestig en onderskei. Hy definieer etiese leierskap as besluitneming wat gegrond is op waardes, integriteit en verantwoordbaarheid. Hierbenewens speel respek, empatie, deursigtigheid en regverdigheid ook ʼn belangrike rol in besluitneming wat nie net die leier beïnvloed nie, maar die breër gemeenskap in wie se diens hy/sy staan.
Op ʼn praktiese noot meen Edwards dat leiers, óók in die opvoedkundesektor, baie daarby kan baat om biografieë oor geskiedkundige leiers te bestudeer ten einde ʼn positiewe en blywende impak op skole en gemeenskappe te bewerkstellig. Hy lig die volgende voordele uit van diesulke lesse uit die verlede:
Die implikasie van keuses en die gevolge daarvan kom duidelik na vore en dit leer ons dat ʼn leier nooit haastig moet wees om ʼn besluit te neem nie, want die gevolge daarvan kring baie wyd uit.
“Die grootste nalatenskap wat ʼn skoolleier kan nalaat is ʼn etiese skoolkultuur, en in die veranderende en dikwels onstuimige tye waarin leiers hulself bevind is dit méér belangrik, néé noodsaaklik, dat leiers hulself toerus met die nodige vaardighede om hul dagtaak effektief te kan verrig,” sluit Edwards af.
Fakkeldraers van hoop
Die bekendstelling van Akademia se nuwe program is op ʼn hoogtepunt afgesluit met ʼn aankondiging deur die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON). Dié instelling het by wyse van sy hoof- uitvoerende beampte, Daan Potgieter, homself opnuut tot Akademia en dié nuwe Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur verbind deur vier beurse vir voornemende studente in hierdie program beskikbaar te stel.
“Ek glo dat hierdie program oor die volgende aantal jare gróót skoolleiers gaan vorm, wat as fakkeldraers van hoop vir nie net die onderwyssektor gaan dien nie, maar ook die groter gemeenskap. Geluk aan Akademia met hierdie programtoevoeging. Ons sien met afwagting uit na die toekoms,” sê Potgieter.
Studieaansoeke vir 2025 sluit op 21 Februarie terwyl klasse op 1 Maart ʼn aanvang sal neem. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.