Search
Close this search box.

Beroepsgerigte leiding en netwerkgeleentheid vir regstudente in die Wes-Kaap aangebied

Gepubliseer op: 28 Augustus 2024

Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid het, in samewerking met die Solidariteit Regsnetwerk, op Saterdag 24 Augustus 2024 ʼn studentesimposium en netwerkgeleentheid in die Paarl aangebied. Dié geleentheid, ʼn eerste deur die fakulteit in die Wes-Kaap, is by die Picardi-gasteplaas aangebied en volg op die sukses van ʼn soortgelyke simposium wat vroeër vanjaar in Centurion aangebied is.

Volgens Sarita Gerber, LLB-programkoördineerder, vorm die studentesimposium deel van die fakulteit se regsvaardigheidsprojek wat dit ten doel het om ʼn brug tussen teorie en die praktyk te bou. Die simposium is gelei deur Akademia-dosente, wat ook almal toegelate prokureurs en advokate is, tesame met praktiserende regpraktisyns – sommige van wie hul studies aan die instelling voltooi het. Die paneel het bestaan uit Ruan Coetzee (spesialislitigant), Ruan Wepener (kandidaatprokureur en Akademia-alumnus), prof. Reghard Brits (prokureur en akademikus), adv. Lourene Scholtz (praktiserende advokaat en akademikus) en dr. Alexander Politis (advokaat en akademikus). Prof. Jacolien Barnard het die sessies gefasiliteer en ook ʼn waardevolle bydrae as akademikus en toegelate prokureur gelewer.

Hierdie praktykmeesters het tersaaklike onderwerpe met die studente bespreek, waardevolle beroepsleiding gebied en die studente aangemoedig om aktief hul professionele netwerke te ontwikkel en uit te brei.

“Die waarde van ʼn regsimposium soos hierdie lê daarin opgesluit dat dit ʼn ongelooflike geleentheid aan studente bied om skouers met ervare en bewese regspraktisyns te skuur,” verduidelik Gerber. Sy voeg by deur te sê dat dit vir Akademia belangrik is dat studente wat die LLB-program via die nauurse afstandsmodel aandurf aktief betrokke is by die regspraktyk en fakulteitsgeleenthede en só ook by beroepsleiding en netwerkgeleenthede baat. “Geleenthede soos hierdie bied aan studente ʼn waardevolle platform vanwaar hulle voordele soos mentorskap kan benut terwyl hulle samewerkingsgeleenthede ontsluit én nuwe lewenslange vriendskappe kan smee,” sê Gerber. Sy beklemtoon dat die netwerke wat ʼn student op hierdie manier bou die grondslag vir toekomstige regsgemeenskappe vorm. Al die sprekers was dit voorts eens dat studente vanaf die begin van hul studies ernstig moet nadink oor hul toekoms en hul rol in die regsgemeenskap.

Ander aspekte wat tydens die simposium aandag geniet het sluit onder meer in die verskillende spesialisrigtings binne die regswese, geskilbeslegting, die regulering van die regspraktyk en die proses wat gevolg moet word om as ʼn kandidaatprokureur te registreer. Gerber het ʼn paneelgesprek oor die rol van ʼn regsgeleerde in die gemeenskap gefasiliteer waaraan Scholtz, prof. Hermie Coetzee (dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid by Akademia) en Riaan Visser (hoof van Solidariteit se Regsnetwerk) deelgeneem het.

Die rol en waarde van die Solidariteit Regsnetwerk is deur Emil Glas (netwerkorganiseerder) beklemtoon en ʼn beroep is op studente gedoen om van die netwerk gebruik te maak om praktyksgeleenthede te bespreek. Hierbenewens is dié netwerk se dinamiese aanlyn slypskool ook aan studente voorgehou as ʼn baie nuttige manier om praktykgereedheid te bevorder. Elk van die modules wat in die slypskool vervat word, is daarop gerig om as ʼn mededingende voordeel studente en kandidaatprokureurs toe te rus met die kennis en vaardighede wat nodig is om die praktyk met selfvertroue te betree. Die volgende modules word by wyse van die slypskool aangebied: kernbeginsels en verhoudinge, hofadministrasie en praktykbestuur, konsultasietegnieke en saakanalise, skryfvermoë en goue reëls, asook etiek. Meesters in die regsberoep, waaronder adv. Gerrie Nel, adv. Gretha Engelbrecht, en adv. Corné Goosen was verantwoordelik vir die samestelling van hierdie modules.

Gerber het ter afsluiting genoem dat die fakulteit opgewonde is oor die vooruitsig om hierdie studenteregsimposium ook in 2025 in Bloemfontein aan te bied.

Indien jy belangstel om ʼn beroep in die regte te volg, besoek gerus die Akademia-webblad. Studieaansoeke vir die 2025- akademiese jaar word tans ingewag.

Akademia-personeel en regspraktisyns wat aan die simposium deelgeneem het, is van links voor prof. Reghard Brits, prof. Hermie Coetzee, prof. Jacolien Barnard en adv. Lourene Scholtz. Agter van links is Riaan Visser, Sarita Gerber, Emil Glas en dr. Alexander Politis.