Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Gehalte onderrig as antwoord op die uittog van onderwysers

Gepubliseer op: 7 Desember 2022

Geskryf deur dr. Maretha Steyn, Elana Kriel en Susan O’Reilly, programkoördineerders in Opvoedkunde by Akademia.

“Onderwys verander nie die wêreld nie. Dit verander die mense wat die wêreld gaan verander.” Hierdie aanhaling van Paulo Freire onderstreep net weer die belangrikheid van die onderwysberoep. Die onderwysersberoep gaan egter binne die volgende dekade voor uitdagings te staan kom wat die onderwysersdemografie betref. Akademia se Fakulteit Opvoedkunde wil graag deel van die oplossing wees.

Die navorsingsverslag Teacher Demographic Dividend (TDD), van Stellenbosch se Departement Ekonomie, is onlangs vrygestel. Dié kwantitatiewe verslag gee ʼn blik op die algemene onderwyserdemografie in Suid-Afrika en die gevolglike uitdagings wat die onderwysberoep tans en in die volgende dekade in die gesig staar. ʼn Tekort aan onderwysers in die algemeen en bekommernisse oor vroeë verlating van die onderwysberoep as professie word uitgelig.

Die inhoud van hierdie verslag behoort opleidingsinstansies te ondersteun om onderwyseropleiding so te verpak dat onderwysers opgelei word om in ʼn steeds veranderende skolekonteks aanpasbaar te wees. Daarbenewens kan die verslag opleidingsinstansies verder rig in terme van toelatingsvereistes, kurrikulumsamestelling en praktykverryking met die doel om volhoubare onderwysers op te lei wat die tekorte effektief sal ondervang.

Wanneer daar kwalitatief na die verslag gekyk word, veral vanuit ʼn programkoördineringsperspektief, kan gevra word waarom daar nie spesifiek in die verslag verwys word na die tekort aan manspersoneel in die algemeen nie. In die verslag word daar ook nie gespesifiseer in watter fases of vakgebiede daar tekorte ontstaan nie. Die navorsers meen dat indien universiteite aanhou om jaarliks 28 000 onderwysers te lewer, behoort daar oor tien jaar 280 000 onderwysers tot die sektor gevoeg te word. Dit mag wees dat onderwysers getalgewys aan die behoefte voldoen, maar dat ʼn groot getal van hierdie onderwysers oorbodig mag wees in sekere vakgebiede en fases. Boonop waarborg die toevoeging van onderwysers nié die gehalte van die onderwysers nie. Die vraag ontstaan egter of hierdie onderwysers roepingsgedrewe sal wees.

Roepingsgedrewe werknemers is by uitstek volhoubaar. Akademia neem die uitdaging aan om onderwysers te lewer, maar fokus primêr daarop om kollektief gehalte onderwysers te vorm, wat toegerus is met die nodige vaardighede om volhoubaar in die onderwys te wees. Wat betref die toelatingsvereistes vir onderwysers handhaaf Akademia hoër toelatingsvereistes as ander instansies gemeld in die TDD-verslag, met spesifieke verwysing na Wiskunde en die algemene toelatingspunt. Moedertaalonderrig lê ook ʼn stewige fondament vir onderwyseropleiding en verseker dat konseptualisering en kundigheid geinternaliseer word. Dit het weer tot gevolg dat vakinhoud en kundigheid met meer gemak en outoriteit aangebied kan word. Akademia-onderwysers word toegerus om in beide Afrikaans en Engels onderrig te gee.

Ná ʼn drastiese toename in Nagraadse Onderwyssertifikaat-studentegetalle in die tweede jaar van aanbieding by Akademia, is ondersoek ingestel na die onderliggende redes vir toetrede tot die onderwys. Met hierdie ondersoek is roepingsgedrewenheid as die ooglopende rede vir toetrede tot die onderwys deur die volwassenes vanuit ander professies aangedui. Akademia se eerste afgestudeerde NGOS-studente het reeds in 2022 die onderwyssektor betree. Die BEd (Grondslagfase-onderwys)- sowel as BEd (Intermediere Fase-onderwys)-pioniers sal in 2026 die onderwys as volwaardig gekwalifiseerde onderwysers kan betree.

ʼn Kritiese element in die opleiding van onderwysers is die fokus op die ontwikkeling van vaardighede as reflektiewe onderwysers en waardegedrewe praktisyns wat kundig opgelei word om vaardighede te ontwikkel wat onafhanklik van ʼn kurrikulum en tegniese prosesse steeds gehalte onderrig kan lewer. Die vormingsideaal van studente is veel meer as net die oordra van kennis en aanleer van vaardighede. Dit is ʼn doelbewuste ingryping en begeleiding na verantwoordelike volwassenes en lewenslange leerders, wat krities kan dink en bevraagteken en oplossingsgedrewe met uitdagings omgaan. Gehalte opleiding is die antwoord op die uittog van onderwysers.

Dr. Maretha Steyn is die programkoördineerder vir die BEd (Grondslagfase-onderwys)-kwalifikasie by Akademia.
Elana Kriel is die programkoördineerder van die BEd (Intermediere Fase-onderwys)-kwalifikasie by Akademia.
Susan O’Reilly is die programkoördineerder van die Nagraadse Onderwyssertifikaat vir Senior Fase- en VOO-onderwys by Akademia.