Search
Close this search box.

Die aard en wese van taal

Gepubliseer op: 18 Maart 2024

Geskryf deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia

Akademia het op Donderdag 14 Maart die nuus bekendgemaak dat die instelling vanaf 2025 ʼn BA (Taalstudies)-program op die voltydse kampusmodel gaan aanbied.* Die instelling is deeglik bewus van die omvattende denke, beplanning, raadpleging en geswoeg wat dit geverg het om dié program te ontwikkel. Akademia is diep dankbaar daaroor; dit verteenwoordig ʼn reuse- akademiese gebeurtenis – ʼn gebeurtenis ryk aan simboliese betekenis.

By Akademia vind daar dikwels gesprekke oor die aard van taal plaas. Van die vrae wat gevra word, is hoe die veelheid van tale en hulle onderlinge beïnvloeding verstaan moet word; hoe moet ons die veelheid van vorme in ʼn taal soos Afrikaans verstaan; wat is die verhouding tussen die verskillende vorme en Standaardafrikaans; waaraan ontleen ʼn standaardvariant sy norme; is die norme blote sosiale konvensies wat oor tyd heen kan verander, of het dit ʼn meer blywende betekenis?

Ons gaan nie poog om enigeen van hierdie vrae te hanteer nie. Ons wil eerder enkele vrae ter sprake bring wat reeds eeue gelede gevra is. As ons dit kan vereenvoudig, lui dit soos volg: Wat is die wese van taal? Is taal en woorde blote instrumente wat ons onder meer ter wille van kommunikasie met (en selfs mag oor) andere inspan? Of lê daar iets dieper in taal en woord opgesluit? Iets wat ons instrumentele opvatting van taal en woord voorafgaan? Is taal en woorde nie dit wat reeds vooraf – voordat dit as instrumente ingespan word – die wêreld en ons plek daarin oopmaak nie?

Anders geformuleer, beskik ons oor ons tale soos wat ons oor instrumente soos hamers en spykers beskik, of maak tale dit vir ons hoegenaamd moontlik om ʼn sinvolle wêreld te hê? En beskik taal nie eerder oor ons alvorens ons daaroor beskik nie?

Histories gesproke kan die oorspronge van die instrumentele opvatting van taal onder meer na filosofiese opvattinge tydens die sewentiende en agtiende eeue oor die aard van kennis teruggevoer word. In die besonder kan dit na die opvatting teruggevoer word dat ware kennis iets is wat ons self gemaak het (in Latyn, verum ipsum factum).

Hierdie opvatting van waarheid en kennis oefen ʼn groot invloed uit op hoe ons oor taal nadink. Op grond hiervan is taal eweneens iets wat ons self maak of produseer. Ook vandag – in die era van superkommunikasie, sosiale netwerke en kunsmatige inligtingsverwerkingsisteme – oefen hierdie ‘konstruktivistiese’ opvatting van taal ʼn groot invloed uit. Taal is slegs ʼn kunsmatige produk wat ons na willekeur kan buig, verander en manipuleer.

ʼn Belangrike vooronderstelling waarop die instrumentele opvatting rus, is dat ons as mense as’t ware buite taal en woorde kan staan, en dat ons vanuit so ʼn buiteposisie self besluit hoe ons taal en woorde inspan, gebruik, maak of konstrueer. Taal is nie iets wat oor ons beskik nie; ons beskik aktief oor ons woorde en taal. Maar is dit ʼn geldige vooronderstelling?

Dit bring ons by die tweede en alternatiewe opvatting. Met die tweede opvatting word uitgegaan van die gedagte dat taal en woord ons as mense voorafgaan. Ons bevind ons altyd alreeds in en nie buite taal en woord nie; of nog beter, ons is altyd alreeds in ʼn bepaalde verhaal opgeneem. In en deur ons deel-wees-van ʼn verhaal of verhale (en die rolle wat ons daarin speel) leer ons ons wêreld ken, gaan die werklikheid vir ons oop, word dit ʼn sinvolle geheel. Dit gebeur reeds vanaf die eerste influisteringe van die moeder aan die pasgebore baba dat sy hom liefhet.

Indien ons nie opgeneem is in en ook onlosmaaklik deel is van ʼn verhaal of verhale uit ons gesinne, kulture en tradisies nie, sal ons wêreld vir ons geslote gebly het.

Ter ondersteuning van hierdie opvatting kan ons onsself op enkele denkers uit die onlangse verlede beroep. Ons maak hier egter staat op ʼn veel ouer en dieper bron. Volgens die Evangelie van Johannes gaan die Woord alles vooraf. Voordat ons is, is die Woord reeds daar. Effens vreemd geformuleer, voordat ons woorde en tale kan maak en as instrumente ter wille van ons eie doeleindes kan inspan, het ons reeds ʼn bepaalde plek en rol in Sy groot verhaal ingeneem. Ons het nie dié Woord gemaak, geskep of geproduseer nie, maar dat ons dit as ʼn geskenk van buite onsself ontvang.

Ons voorstel is dat hierdie uitgangspunt ʼn wesenlike stempel laat op hoe ons vandag oor taal en woorde kan dink. Ná analogie van die Woord wat alles voorafgaan, gaan ons tale, woorde en verhale ook alles vooraf. Volgens hierdie opvatting staan ons nie in die eerste plek buite ons tale, woorde en verhale nie; ons is eerder altyd reeds deel van (of karakters in) ʼn verhaal of verhale. Ons ontvang en ontdek ons werklikheid in en deur ons deel-wees van ons talle verhale. Daarsonder sou ons werklikheid leeg, ongestruktureerd en sinloos gewees het.

Hierdie opvatting van taal en woord word deur die geskiedenis bevestig. Ten grondslag van alle menslike handeling lê daar altyd groot verhale, gedigte, mites en legendes. Buiten die talle verhale uit ons gesinne, kultuur en tradisies waarmee ons grootword, is daar ook stempelverhale soos Homeros se Ilias en die Odusseia, Vergilius se Aeneas, Dante se Goddelike komedie en NP van Wyk Louw se Raka wat ons ervaring beïnvloed. Dit is verhale oor helde en hul tragies-komiese lewe, verhale oor vooruitgang en verval; oor liefde en verraad; oor orde en chaos; oor die edele en nimmereindigende strewe na die ware, die goeie en die skone, ensovoorts. Dit is alles verhale wat onsself voorafgaan; wat ons wêreld oopmaak; wat vorm, struktuur en sin aan ons bestaan verleen. Vanaf die begin is die Woord.

Ons wil die hoop uitspreek dat die BA (Taalstudies) aan Akademia sal groei en floreer, en dat dit ʼn betekenisvolle bydrae sal speel sodat ons wêreld steeds deur taal en woord op skeppende en sonderlinge wyses oopgemaak sal word.

*Die bogenoemde inligting is tydens prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie, se toespraak met gaste by die BA (Taalstudies)-bekendstelling gedeel.

Prof. Danie Goosen is die uitvoerende hoof: Akademie by Akademia.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.