Search
Close this search box.

Klink ʼn glasie saam met die Akademia-wynvereniging

Geskryf deur Megan Ferreira, joernalis en fotograaf by die Fontiepos

Soos wat Akademia voortdurend groei, uitbrei en ontwikkel, hou dit opwindende geleenthede vir Fonties in. Een van hierdie geleenthede is die Sowel As-koffiewinkel by Leriba waar Fonties ʼn heerlike koppie boeretroos (én ʼn stukkie kaaskoek) kan geniet terwyl hul gou ʼn opdrag afhandel, of saam met vriende kuier. Die koffiewinkel word nie nét as ontspanningsruimte gebruik nie, maar ook vir ander geleenthede, soos die Akademia-wynvereniging se onlangse pizza-en-wyn-aand.

Op 4 Mei het Fonties en Akademia-personeel bymekaargekom om ʼn lekker glasie wyn en tuisgebakte focaccia te geniet in die geselskap van Wynand Grobler, bekende wynmaker van De Kleine Wijn-kelder. Gaste kon ʼn verskeidenheid wyne proe, soos onder andere Die Posman vanaf die Swartland, die Akademia 2019-pinotage, Ou Treffer 2021-cincault, Heimwee 2021-cabernet sauvignon vanaf Stellenbosch, Klipkers Wit (Voor-Paardeberg) asook die Klipkers Rosé (Franschhoek). Elkeen van hierdie wyne het ʼn besonderse vervaardigingsproses om die unieke tekstuur, smaak en kleur van elke versnit te verseker.

Hierdie wyne het grotendeels hul oorsprong van die Wes-Kaap, soos Stellenbosch, Riebeek-Kasteel, Swartland, en die Paarl – van waar die Grobler-gesin dan ook hulle koöperasie bestuur. Wynand vertel dat hul spesiale wyne se bestaansreg toegeskryf kan word aan die tradisie om wyn self met die hand te maak en dit te bottel. Sy gunstelingwyn is hul Hoendertande-pinotage, weens die uitsonderlike vervaardigingsproses en die benutting van wingerde wat reeds in 1954 aangeplant is.

Zanté Wessels, eerstejaarstudent in BCom (Ondernemingsbestuur) by Akademia, het genoem dat sy die aand bygewoon het omdat dit vir haar interessant geklink het en iets nuuts ingehou het om te leer. Danika Young, eerstejaarstudent in BEd (Grondslagfase), het die geleentheid bygewoon omdat sy meer wou leer oor die geskiedenis en kultuur van wyn, en ook om die aand saam met haar medestudente te geniet. Haar gunstelingwyn is Akademia se tienjaarwyn.

Maak seker jy woon die volgende wyngeleentheid by en proe vir jouself watter wyn die lekkerste is!

Akademia se tienjaarwyn wat tydens die eerste wynproegeleentheid van die jaar geproe is.
Die Posman (2022) van die Swartland is ook tydens die geleentheid geproe.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.