Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia-studente jubel en juig in Afrikaans

Gepubliseer op: 3 Mei 2024

Twee Akademia-studente, Rikus van der Vlies (21) en Simonay Harms (21), is besig om as lede van die Afrikaanse gospelgroep, Herleef, hulself deeglik in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te vestig. Dié groep is daartoe verbind om met hul eiesoortige styl en benadering tot lofprysing nie net die plaaslike musiekbedryf te vernuwe nie, maar ook om hul roepingstaak as Koninkrykbouers uit te leef.

Van der Vlies en Harms studeer via die nauurse afstandsmodel en is albei ingeskakel by Akademia se sentrum in Bloemfontein. Van der Vlies, ʼn finalejaarstudent in die LLB-program, en Harms, ʼn tweedejaarstudent in die BCom (Bestuursrekeningkune)-program, bied dié onderrigleermodel hul die vryheid om hul passie vir musiek ten volle uit te kan leef. Dié twee Fonties is dit eens dat Akademia ʼn veilige hawe vir Afrikaanssprekende studente skep. “Die feit dat Akademia boonop roepingsgedrewe en vanuit Christelike waardes sy bestaansrede gestand doen maak van dié instelling ʼn eerste keuse as ʼn studietuiste,” meen Van der Vlies.

“Die Bloemfontein-sentrum voel al vir my soos ʼn tweede tuiste,” vertel Van der Vlies en voeg by dat die atmosfeer by dié sentrum “aansteeklik opwindend” is, veral soos meer en meer Fonties aansluit. Hy som sy Akademia-ervaring verder op deur te sê dat die instelling drome koester en passie vlerke gee.

Herleef bestaan uit vyf talentvolle jongmense wat almal in Bloemfontein gesetel is: Van der Vlies (hoofsanger en kitaarspeler), Harms (sangeres), Franko van der Vlies (elektriese kitaarspeler), Rikus se ouer broer, Christian Venter (baskitaarspeler) en Lené Ludick (dromspeler). Volgens Van der Vlies streef die groep daarna om deur eerlike en sielsvolle lirieke die harte van mense aan te raak. “Dit is vir ons belangrik om deur ons musiek ʼn getroue prentjie van die werklikheid te skep en om só uiting te gee aan die uitdagings wat Christene in die gesig staar,” sê Van der Vlies. Hy voeg by dat Dawid in hierdie opsig vir hom ʼn goeie voorbeeld is waarmee hy homself kan vereenselwig. “In die Bybel lees ons dat Dawid ʼn man so na aan God se hart was, en as jy die psalms lees dan word dit duidelik dat dié Godsman – wat ook verskeie uitdagings die hoof moes bied, in ʼn baie eerlike verhouding met die Here was,” verduidelik Van der Vlies. Dit is juis hierdie eenvoudige eerlikheid wat die groep in hul musiek probeer oordra.

Van der Vlies vertel dat alhoewel die lede van die groep almal hul skoolloopbaan by Hoërskool Fichardtpark voltooi het, hulle nie regtig op skool vriende was nie. “Dit is net nóg ʼn voorbeeld van hoe ongelooflik die Here se raadsplan is! Hy voeg vyf vreemdelinge met uiteenlopende persoonlikhede meesterlik saam ter eer en verheerliking van Sy naam,” getuig Van der Vlies. Ter illustrasie hiervan noem hy dat daar tussen die vyf lede van die span onder meer ʼn afgestudeerde teologiestudent (Franko), ʼn huidige teologiestudent (Ludick), homself wat in die regte studeer, ʼn rekeningkundestudent (Harms) en ʼn leerlingelektrisiën (Venter) is.

Die gedagte aan ʼn musiekgroep het tydens die Covid-19-grendeltyd by Van der Vlies en sy broer, Franco, posgevat. Op daardie stadium was hy baie geneë met die idee om ʼn rockgroep te begin, maar sy broer kon hom oorreed om die gospel-genre te probeer. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis. “As ek terugkyk op die ongelooflike pad wat ons tot dusver geloop het, en die lesse wat ons geleer het – oor onsself en die musiekbedryf, is ek vol vertroue dat ons die regte keuse gemaak het,” sê Van der Vlies. Herleef se eerste vollengte album, Die Herleef Ervaring, is in 2023 vrygestel en is beskikbaar op Spotify, YouTube, iTunes en Apple Music.

As dit kom by rolmodelle in die musiekbedryf meen die groepslede dat liedjieskrywers en sangers soos Jan Blohm en Danie du Toit van Spoegwolf hulle inspireer om nie net digterlik met die Afrikaanse taal om te gaan nie, maar ook om die grense van die bedryf te verskuif.

Herleef het op 26 April hul eerste musiekvideo vrygestel. Die groep is ook uitgenooi om later vanjaar by Loof Hom Innibos op te tree, en is betrokke by verskeie bedieningsgeleenthede. Volg gerus die groep op Facebook, Instagram en TikTok.

Herleef se lede is, van links, Christian Venter, Lené Ludick, Simonay Harms, Franco van der Vlies en Rikus van der Vlies.
Rikus van der Vliet en Simonay Harms studeer albei aan Akademia.