Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Wêrelderfenisdag: Die mens as erfgenaam

Gepubliseer op: 14 April 2022

Een van die kenmerke van ons hipertegnologiese era is dat bykans alles (vanaf ons godsdiens tot en met ons tradisies, tale, kulture en selfs ons gesinne) as blote konstrukte, ontwerpe of skeppinge van die mens self ervaar word. Soos wat ons boodskappe op die sosiale media (op die rekenaar, Facebook, Instagram, WhatsApp, Twitter) ontwerp, so ontwerp ons ook bogenoemde dinge. Ons godsdiens en tradisies is blote konstrukte.

Enkele van die belangrikste implikasies van die hedendaagse ‘konstruktivisme’ (alles is die gevolg van ons eie konstruksies of ontwerpe) kan so geformuleer word:

Eerstens, as dit so is dat alles slegs deur die mens gekonstrueer word, kan die mens self dit ook na willekeur verander. As dit blote konstrukte is, kan dit te enige tyd anders gekonstrueer word.

Volgens die konstruktivisme kan daar met ander woorde geen ‘ewigswaarde’ aan ons godsdiens en tradisies, geheg word nie. Geen onveranderlike, tydlose of ewige waarhede lê in ons eie konstrukte opgesluit nie.

Tweedens, die konstruktivisme veronderstel dat letterlik niks deur ʼn eie ‘natuur’ gekenmerk word nie. Die natuur is dood, alles is nou kunsmatig, slegs ʼn funksie van ons eie vermoë om te konstrueer of te ontwerp.

ʼn Voorbeeld van die hedendaagse ‘dood van die natuur’ is die wyse waarop oor geslagtelikheid gedink word. Anders as in die verlede word die geslagte nie meer deur ʼn eie natuur (die natuur van die man of die vrou) gekenmerk nie. Volgens die konstruktivisme is ons geslagtelikheid ʼn blote funksie van watter geslag die individu verkies. Geslagtelikheid is nie ʼn natuurlike gegewe nie, maar iets wat ons na gelang van ‘behoefte’ ontwerp.

Die hedendaagse verwarring oor die natuur van die geslagte heers, is ʼn gevolg van die invloed van die konstruktivisme. In ʼn onlangse voorval het ʼn kandidaat vir die Amerikaanse hooggeregshof in ʼn antwoord op die vraag ‘wat is ʼn vrou?’ gesê sy kan nie daarop antwoord nie. Waarom? Vanweë die invloed van die konstruktivisme is die regterskandidaat nie in staat om hierdie eenvoudige vraag te antwoord nie.

ʼn Derde en laaste implikasie wat beklemtoon kan word, is die feit dat die konstruktivisme niks as ʼn ‘geskenk’ kan ervaar nie. Volgens ons Christelike geloof is die skepping ten diepste ʼn geskenk wat ons van buite ons eie wil, keuse of insig van God ontvang het (en steeds ontvang). Volgens die konstruktivisme is die skepping daarenteen nie ʼn geskenk nie, maar iets wat onsself ontwerp het. Die gevolg hiervan is dat die konstruktivisme ook (tot op die been toe bedink) nie deur iets soos dankbaarheid in die skepping gekenmerk kan word nie. Tensy jy natuurlik dankbaar vir jouself oor jou wonderlike konstruksies kan wees. So ʼn dankbaarheid kan egter geen egte dankbaarheid wees nie.

Nou, bogenoemde beteken nie dat die vaardigheid, denk- en skeppingsvermoë van die mens ontken word nie. Ons ‘vorm’ ook ons werklikheid. Trouens, deel van die avontuur van menswees is om aan die skepping deel te neem. Hoe? Deur onder meer die goeie, die skone en die ware na te jaag en ons wêreld telkens weer in die lig daarvan te vorm.

Ons vormingswerk kan egter nooit net aan onsself toegeskryf word nie. Ons vormingswerk vind nooit ‘vanuit ʼn leegte’ plaas nie. Alvorens ons aan die skepping deelneem en dit ook vorm, het ons is dit reeds as ʼn geskenk ontvang.

Anders as wat die konstruktivisme oordeel, is die mens daarom ook nie in die eerste plek ʼn ‘konstrueerder’ nie, maar veel eerder ʼn ‘erfgenaam’. Voordat ons konstrueer, het ons geërf. Voordat ons ons godsdiens gevorm het, het ons dit reeds as erfgename ontvang. Ons vormgewing vooronderstel ʼn werklikheid wat vir ons gegee is – ʼn werklikheid by grasie waarvan ons hoegenaamd kan vorm. Streng gesproke is ons vorming daarom ook eerder ʼn hervorming (van dit wat ons as erfgename ontvang is).

Op 18 April as Wêrelderfenisdag vier ons die feit dat ons in die eerste plek erfgename van die skepping in sy ondeurgrondelike volheid is. ʼn Onlosmaaklike deel van dié volheid is ons godsdiens, tradisies, kulture, tale en gesinne. Alvorens ons dit vorm (of eerder hervorm), het ons dit geërf.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof by Akademia en ʼn pionier in die hedendaagse filosofie in Suid-Afrika.