Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia se regsimposium vind oplossings vir kurrikulumkwessies

Gepubliseer op: 14 April 2022

Akademia se Departement Regsgeleerdheid het, in samewerking met die Solidariteit Regsnetwerk, op Vrydag 8 April 2022 ʼn regssimposium aangaande regsvaardighede in die LLB-kurrikulum gehou. Belangrike gesprekke is gevoer oor die status quo en die toekoms van die regssisteem, prosesse en gevolglik die kurrikulum.

Prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe en waarnemende dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, het die bespreking ingelei, waarna mnr. Gerrit Visser, as verteenwoordiger van die Solidariteit Regsnetwerk, en prof. Hermie Coetzee, as departementshoof van die Departement Regsgeleerdheid by Akademia, agtergrond vir die simposium verskaf het. Gerrit Visser het die belangrikheid van balans tussen teorie en praktyk benadruk. “Die praktiese aspek sowel as die teoretiese aspek van die regte is belangrik en studente moet aan beide aandag gee,” sê hy.

Prof. Erik Vermeulen, en dr. Tronel Joubert, verbonde aan die Tilburg Universiteit in Nederland, het die hoofrede gelewer. Die sprekers het die snelle ontwikkeling van tegnologie en die geleenthede bespreek wat dit aan die beroep bied. Die akademie en studente moet van ontwrigting kennis neem en daarvan gebruik maak. “Ons moet vir studente gee wat hulle nodig het. En dit sluit ʼn nuwe aanslag op die kurrikulum in,” sê prof. Vermeulen.

Prof. Monray Marsellus Botha, ʼn professor aan die Universiteit van Johannesburg, het klem op navorsingsvaardighede geplaas en dat hierdie vaardighede van vroeg af aangeleer moet word. Hy het ook na die realiteite van beurtkrag en armoede verwys en dat studente se sosiale omstandighede in ag geneem moet word.

Advokaat Gerrie Nel, hoof van die burgerregtewaghond se privaatvervolgingseenheid by AfriForum, het na die verval van die strafregsisteem verwys en dat privaat vervolging die oplossing bied, waarvan ons studente deeglik kennis moet neem.

Verder het dr. Llewelyn Curlewis, verbonde aan die Universiteit van Pretoria, die belang van praktiese opleiding beklemtoon. Op sy beurt het mnr. Johann van Eck, ʼn kenner van syfervaardighede in die regte, die belang van sodanige vaardighede in die praktyk toegelig.

Prof. Willem Gravett, ook van die Universiteit van Pretoria, se aanbieding het geïllustreer hoe hofverrigtinge deur videomateriaal na die klaskamer geneem kan word. Dr. Birgit Kuschke het aan die Akademia-kurrikulum aandag geskenk en Akademia se doel om regsvaardighede deurgaans in die kurrikulum te inkorporeer bespreek. Dr. Dirk Hermann, besturende hoof van Solidariteit en die Solidariteit Beweging, het die simposium gepas afgesluit deur die Solidariteit Regsnetwerk se inisiatief om as skakel tussen student en meesters te dien aan die gehoor oor te dra.

Akademia bied reeds ʼn nauurse LLB-program aan en sal vanaf 2023 ʼn voltydse LLB-program aanbied. Besoek gerus https://akademia.ac.za/llb-graad/.

Die sprekers by Akademia se regssimposium was (van links) advokaat Gerrie Nel, prof. Hermie Coetzee, prof. Pieter Duvenage, prof. Monray Marsellus Botha, dr. Birgit Kuschke, dr. Tronel Joubert, prof. Willem Gravett, mnr. Johann van Eck en dr. Llewelyn Curlewis.
Prof. Hermie Coetzee verwelkom al die gaste by die regssimposium.