Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Wat jy moet weet oor weknemersbelastingrekonsiliasie

Gepubliseer op: 28 Mei 2020

Deur Nicolene Steenkamp

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het ʼn skrywe gerig dat die sperdatum vir die werknemersbelastingrekonsiliasie (EMP501-rekonsiliasie) vir die 2020-jaar van aanslag, ongeag die gevolge van Covid-19, steeds 31 Mei 2020 sal bly.

 

In Suid-Afrika strek die belastingjaar vir individue vanaf begin Maart tot einde Februarie. Individue wat vir belasting geregistreer is, moet jaarliks ʼn inkomstebelastingopgawe indien. Wanneer ʼn individu ʼn werknemer is wat maandeliks ʼn salaris trek, speel die belastingsertifikaat (IRP5/IB3(a)) ʼn groot rol in die indiening van hulle inkomstebelastingopgawe.

Elke werknemer wat ʼn jaarlikse salaris van R79 000 (R6 583,33 per maand) in die 2020-belastingjaar ontvang moet op ʼn maandelikse basis belasting betaal. Dit is die werkgewer se plig om hierdie maandelikse belasting (LBS) tesame met werkloosheidversekeringfonds (WVF) en vaardigheidsontwikkelingsheffing (VOH) van die werknemer se salaris te verhaal en aan SAID oor te betaal.

Die werkgewer moet maandeliks ʼn werknemersbelastingopgawe (EMP201) op hulle e-Filing-profiel voltooi. Op hierdie EMP201 verklaar die werkgewer hoeveel LBS, WVF en VOH van die werknemers verhaal word en aan SAID oorbetaal moet word.

Aan die einde van die belastingjaar is die werkgewer daarvoor verantwoordelik om vir elke werknemer ʼn belastingsertifikaat (IRP5/IB3(a)) uit te reik. Op die IRP5/IB3(a) verskyn die vergoeding wat aan die werknemer betaal is, asook die totale aftrekkings wat van werknemers verhaal is. Hierdie aftrekkings sluit onder andere mediese fonds, pensioenfonds, uittreeannuïteitfonds, LBS, WVF en VOH in.

Wanneer die werkgewer die IRP5/IB3(a) uitreik, moet die LBS, WVF en VOH op die sertifikate ooreenstem met die EMP201-opgawes wat maandeliks by SAID ingedien is. Hierdie rekonsiliasie tussen die IRP5/IB3(a) en EMP201 word EMP501-rekonsiliasie genoem.

Die werknemersbelastingrekonsiliasie word op ʼn program genaamd e@syfile™ voltooi. Die program trek outomaties die werkgewer se EMP201-inligting in, en daar word dan van die werkgewer verlang om die belastingsertifikate (IRP5/IB3(a)) per werknemer uit te reik. Indien die werkgewer ʼn betaalstaatprogram gebruik kan ʼn dokument ingetrek word wat elke werknemer se IRP5/IB3(a) outomaties genereer. Indien die werkgewer nie ʼn betaalstaatprogram gebruik nie sal elke belastingsertifikaat apart voltooi moet word.

Indien daar ʼn verskil is tussen die maandelikse EMP201 wat ingedien is en die LBS, WVF en VOH wat op die werknemers se belastingsertifikate verskyn, sal dit op die EMP501-rekonsiliasie uitgewys word.

Akademia bied vanaf 2020 ʼn Nagraadse Diploma in Belasting aan. Besoek Akademia se webblad by www.akademia.ac.za vir meer inligting.

Nicolene Steenkamp is die programkoördineerder van die Nagraadse Diploma in Belasting by die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia.