Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Graad 12-wenke vir die derde kwartaal

Gepubliseer op: 27 Mei 2020

Matriek is die hoogste piek van ʼn twaalfjaarskoolloopbaan. Terwyl daar baie onsekerheid en spanning onder matrikulante heers, is dit nou ook die tyd waar matrieks harder moet werk as ooit te vore. Goeie matriekuitslae skep beter geleenthede na skool en sorg vir ʼn goeie fondasie vir verdere studies.

Junie is vanjaar ʼn besonders belangrike maand vir die jeug van Suid-Afrika. Eerstens heropen skole vir graad 12’s en 7’s, en tweedens word Jeugmaand gevier. “Vandag se jeug speel ʼn belangrike rol in more se toekoms, veral in die gemeenskappe waarin hulle hulself bevind,” sê prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia. Ter viering van Jeugmaand deel Akademia wenke aan matrieks wat terugkeer na skole om ʼn sukses van die laaste deel van hulle skoolloopbaan te maak.

1. Werk slim met jou tyd

Dit is belangriker as ooit om jou tyd te beplan. Stel vir jou ʼn plan op met die hoeveelheid ure wat jy nodig het om aan elke vak te bestee. Wees realisties wanneer jy jou plan saamstel. As daar vakke is wat moeiliker is of meer vakinhoud het, reken dit in jou plan in. Wees streng op jouself met jou eie tydsbeplanning en probeer jou bes om daarby te hou. Reken ook tyd in om te ontspan. Kort pouses help om fokus te verbeter.

“In die lewe gaan dit egter nie oor wat jy nie het nie, maar oor wat jy doen met dit wat jy tot jou beskikking het,” reken Du Toit. “Gebruik elke minuut wat beskikbaar is om iets sinvol te doen. Geen persoon het al ooit sukses bereik sonder beplanning, harde werk en deursettingsvermoë nie.”

Rig vir jou ʼn stil plek in by die huis waar jy minder afleidings ervaar, sodat jy kan hou by jou studiebeplanning. Bêre jou selfoon wanneer jy skoolwerk doen en wend elke aktiwiteit produktief aan.

2. Maak gebruik van ekstra ondersteuningsbronne

Onderwysers is gretig om te help. Vra as jy nie verstaan nie, en vra wéér as jy steeds nie verstaan nie. Wolkskool, ʼn inisiatief van die Skoleondersteuningsentrum, en MySkool, ʼn Netwerk24-inisiatief, bied addisionele hulpbronne vir skoliere om vakinhoud te bemeester. Wolkskool se dienste word tot 30 Junie gratis aangebied. Dalk is ʼn ander onderwyser se manier van verduidelik net wat jy nodig het om ʼn konsep of idee te snap wat jy nie voorheen verstaan het nie. “By Akademia moedig ons studente aan om studiegroepe te vorm om mekaar te ondersteun en te help met studie-inhoud,” sê Du Toit. Oorweeg om virtuele studiegroepe met klasmaats te begin.

3. Probeer weer en weer

“Die Japannese het ʼn gesegde wat lui dat sukses is as jy net een keer meer opstaan as die aantal kere wat jy geval het,” vertel Du Toit. Dit is ʼn stresvolle tyd in jou lewe, maar jy is nie alleen nie. Daar is duisende matrieks wat saam met jou deur hierdie moeilike tyd gaan. Hou die einddoel in gedagte wanneer jy take aanpak. Hou aan probeer totdat jy die konsep verstaan of die som se antwoord kon vind.

Du Toit vertel verder dat dit verbasend is hoeveel jongmense ʼn betekenisvolle en gelukkige lewe kon uitbeitel juis omdat hulle uitdagende oomblikke soos dié aangryp en omhels.

4. Kweek ʼn gesonde leefstyl

ʼn Gesonde liggaam huisves ʼn gesonde gees. Verskeie studies het al getoon dat ʼn gebalanseerde dieet, gereelde oefening en genoeg waterinname voordele soos beter fokus, geheue en kreatiwiteit vir studies inhou. Jou liggaam en brein kan nie voldoende funksioneer as jy nie goeie voeding kry nie. Drink genoeg water en eet ten minste een gebalanseerde ete per dag. Gaan stap of draf vir 15 min en kry vars lug. Nie net is dit verfrissend nie, maar dra by tot beter konsentrasie wanneer jy weer voor jou lessenaar sit om die boeke aan te pak.

5. Besin en beloon jouself vir klein prestasies

Maak ʼn lys van alles wat jy aan die einde van die dag reggekry of bereik het – maak nie saak hoe groot of hoe klein nie. Dit is belangrik om te besin oor jou dag en terug te dink oor mylpale en aktiwiteite waarop jy kan verbeter. Beloon jouself wanneer jy ʼn paar somme kon regkry of wetenskapkonsepte onder die knie kon kry. Partykeer vergeet mens om klein prestasies te vier, alhoewel dit waarskynlik ʼn groot aandeel het in bereiking van groter prestasies.

“Onthou, klein treetjies vorentoe is ook ʼn tree,” sê Du Toit. “Die matrieks wat onseker voel oor hulle akademiese reis, moet besef dat dit juis oomblikke soos dié is wat lei tot nuwe moontlikhede wat opwindend kan wees.”

Vir meer inligting oor Akademia besoek www.akademia.ac.za, e-pos navrae@akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888.