Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Volhouer-student ’n inspirasie

Gepubliseer op: 3 Oktober 2018

Akademia bied vanaf die begin van die jaar – met die opening van die instelling se eerste studiesentrum in die Oos-Kaap – die geleentheid aan voornemende studente in Port Elizabeth om te werk terwyl hulle in hul moedertaal studeer. Sanchia van der Merwe, een van die eerste ingeskrewe werkende studente by hierdie sentrum, het onmiddellik die geleentheid aangegryp om ʼn beroeps­relevante kwalifikasie te studeer terwyl sy werk. Sy studeer tans BCom (Bestuursrekeningkunde) by die instelling en behaal goeie punte.

“Ek wou nog altyd ʼn graad verwerf het, maar ongelukkig kon ek weens mediese redes nooit so ver kom nie,” sê Van der Merwe, wat voltyds as finansiële administrateur werksaam is. Kort na sy haar hoërskoolloopbaan voltooi het, moes haar een nier verwyder word. Net voor hierdie operasie sou plaasvind is sy gediagnoseer met bloedkanker en moes dokters eers die verwyderingsprosedure uitstel om kankerbehandeling te voltooi.

Ten spyte van hierdie uitdagings is Van der Merwe entoesiasties en passievol om ʼn sukses van haar studies te maak. Boonop dien sy op die studenteraad, en sodoende kan sy haar medestudente in die omgewing positief beïnvloed en ondersteun. “Ek geniet dit om in my moedertaal onderrig te ontvang omdat dit help om konsepte makliker te begryp,” verduidelik Van der Merwe. “Omdat ek voltyds werk terwyl ek studeer, kan ek hierdie teoretiese konsepte in die werksplek toepas.”

Haar advies aan studente wat ook werk terwyl hulle studeer, is om doelwitte te prioritiseer en die dissipline te handhaaf om genoeg tyd aan studies te bestee. ʼn Ondersteunende werkgewer wat tegemoetkomend is en die waarde van verdere professionele opleiding begryp kan ook ʼn groot bydrae lewer. Sy verduidelik verder dat balans goed is en dat werkende studente elke dag ʼn halfuur moet spandeer aan dinge wat hulle geniet soos om te oefen, musiek te luister, of te gaan stap.

“Akademia is trots op Sanchia, wat besluit het om haar droom na te streef en daagliks haar uitdagings oorkom. Ons wens haar alle voorspoed toe met haar verdere studieloopbaan,” sê Sunel Combrinck, koördineerder van Akademia se studentesake.

Sanchia van der Merwe, ʼn eerstejaarstudent by Akademia, is passievol om haar BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad te verwerf ten spyte van mediese uitdagings. Foto verskaf.