Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Spesiale geleentheid vir studente om na Akademia te skuif

Gepubliseer op: 14 Oktober 2016

Studente aan openbare universiteite word met onmiddellike effek ‘n spesiale geleentheid gegun om hul studies vir 2017 na Akademia oor te dra. Tot 100% van krediete vir vakke reeds geslaag sal vir oordrag na Akademia oorweeg word.

Studente word boonop kwytgeskeld van alle gelde wat normaalweg gehef sou word vir die erkenning van krediete vir vakke wat reeds verwerf is; en met die ondersteuning van Helpende Hand sal sodanige studente ook vir finansiële studiehulp in aanmerking kom.

Piet le Roux, Akademiese Hoof van Akademia sê studente aan openbare universiteite wat reeds toepaslike vakke geslaag het, sal hul studies sonder onnodige herhaling by Akademia voort kan sit. “Indien toepaslike vakke reeds geslaag is, sal Akademia die vakke erken en sal studente dit nie hoef te herhaal nie. Die belangrikste vereiste is dat studente wel vir programme soortgelyk aan hul huidige studierigtings by Akademia inskryf.”

Voortsetting van studies op tweedejaars- en derdejaarsvlak is beskikbaar in die programme BCom Ondernemingsbestuur en BCom Bestuursrekeningkunde, mits studente reeds genoegsame krediete verwerf het. Dié voortsetting is moontlik by Akademia se studiesentrums in Bellville, Somerset-Wes, Vanderbijlpark, Centurion, Die Moot (Pretoria), Krugersdorp en Boksburg.

Benewens voortsetting van studies, kan studente ook opnuut op eerstejaarsvlak inskryf in enige van Akademia se graadprogramme. Kwytskelding vir vakke reeds geslaag en krediete reeds erken sal oorweeg word. Hierdie verandering van studierigting is moontlik by al Akademia se studiesentrums landwyd.

Volgens Le Roux ervaar Akademia tans ‘n toeloop van studente aan openbare universiteite wat oorweeg om hul studies in 2017 by Akademia voort te sit. “Ons wil ons bes doen om hierdie studente te help en om so ook die druk op die hoëronderwyssektor in die algemeen te verlig.”

Studente het tot 2 Desember 2016 om by die Helpende Hand Studiefondssentrum aansoek om finansiële studiehulp te doen.

Vir meer besonderhede oor:

  • Akademia se programme: Die spesiale geleentheid vir die oordrag van studies na Akademia is vir studente wat vir vergelykbare programme en vakke ingeskryf is beskikbaar. Vir meer inligting oor Akademia se programme, besoek http://akademia.ac.za.
  • Erkenning van krediete: Die erkenning van krediete verwerf by openbare universiteite is onderworpe aan Akademia se kredieterkenningsbeleid. Vir meer inligting, besoek .
  • Aansoek om studie by Akademia: Vir voortsetting van studies by Akademia en om ‘n aansoek om kredieterkenning te registreer, kies jou beoogde kwalifikasie en voltooi die nodige aansoekvorm by http://akademia.ac.za/doen-aansoek/.
  • Finansiële studiehulp: Om aansoek te doen vir finansiële studiehulp by die Helpende Hand Studiefondssentrum, besoek , of stuur ‘n e-pos na sfs@helpendehand.co.za.