Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Spaaruitdagings vir studente van vandag

Gepubliseer op: 12 Julie 2021

Deur dr. Sandra Adendorff, dosent in ekonomie en internasionale bestuur aan Akademia.

William Shakespeare verwys in sy bekende gedig na die sewe stadia van die mens en hoe daar van kleuter na jong student en dan uiteindelik die ouer generasie gevorder word. Akademia se studente verkeer ook in verskillende fases, maar iets wat vir almal algemeen is, is die feit dat jy ʼn student is. Studente van vandag staar unieke uitdagings in die gesig. Die pandemie, beurtkrag en verskillende grade van inperking het getoon dat ons inderdaad baie aanpasbaar is en veranderinge suksesvol kan hanteer. Alhoewel spaar dalk die laaste ding is waaraan die meeste van ons dink, is dit tog belangrik om veral in Nasionale Spaarmaand daaroor te besin.

Die belangrikste aspek wat jou besparingsgedrag beïnvloed, is jou waardes. Die moderne samelewing is baie verbruikersgeoriënteerd en dit kan jou welvaart begrens. Die behoefte om ten alle koste die nuutste mode-items te verkry is allesoorheersend in jou lewe. Sulke mense is nooit tevrede nie en val baie gou in ʼn skuldstrik. Aan die ander kant is daar die beter ideaal soos Wendell Berry, Amerikaanse skrywer en digter, dit beskryf: “The love of virtue is the fruit of an education rooted in place, and this love forms the basis for a healthful economy that is at once physical and spiritual.”

Die verskillende generasies het ook ʼn heel ander benadering tot welvaart, soos navorsing deur die Federale Raad van Amerika, oftewel hul sentrale bank bewys. Die Stille Generasie se welvaart het die afgelope 20 jaar verminder – van 50% tot 14% – terwyl die Naoorlogse Babas (Baby Boomers) ongeveer 50% van die welvaart behou. Millenniërs beheer nog minder as 8%. Wat kommerwekkend is, is dat die lewensverwagting toeneem. Dit impliseer dat die generasies wat die langste in die geskiedenis gaan leef, waarskynlik nie genoeg welvaart sal genereer om ʼn lang aftrede te finansier nie (sien tabel vir ʼn beskrywing van die generasies). Oor die algemeen prioritiseer Generasie-X en die Millenniërs ervarings bo die versameling van bates. Alhoewel dit baie modern en verlig klink, is hulle op hoë gehalte ingestel, en moet hierdie behoefte dadelik bevredig word.

Van belang is om bewus te wees van die stadium van die lewensiklus waarin jy verkeer. Die keuse wat jy moet uitoefen, is om jou huidige inkomste te verbruik en niks te spaar nie, of om jou besteding vir jou aftrede uit te stel. Indien jy laasgenoemde doen, sal jy gemakliker kan aftree. Oor die algemeen vermeerder welvaart gedurende die werkslewe, maar daal egter weer tydens jou aftrede. Die gehalte van jou aftrede is dus afhanklik van hoeveel daar gedurende jou leeftyd gespaar is. Natuurlik is daar dan ook ander eise, onder andere mediese onkostes, waarvoor jy ook voorsiening moet maak. Faktore wat ʼn invloed op jou welvaart het, sluit onder andere in hoe oud jy was toe jy begin spaar het, asook die stand van die ekonomie en finansiële markte. Daarbenewens kan aspekte soos die Covid-19-pandemie jou aftrede baie negatief beïnvloed en maak dit soveel meer sin om so gou as moontlik te begin spaar.

Dr. Sandra Adendorff, dosent in ekonomie en internasionale bestuur aan Akademia.

Verwysings

Chalimah, S.N., Martono, S. en Khafid, M. 2019. The Saving Behavior of Public Vocational High School Students of Business and Management Program in Semarang. Journal of Economic Education. 8(1): 2-9.

Covey, S. 2016. The 7 habits of highly effective people: Powerful lessons in personal change. https://books.google.co.za/books/about/The_7_Habits_of_Highly_Effective_People.html?id=Qz3bBwAAQBAJ&printsec=frontcover&source=kp_read_button&redir_esc=y#v=onepage&q&f=false. [Datum van gebruik 3 Julie 2021].

South African Reserve Bank. 2021. Financial Stability Review. https://www.resbank.co.za/en/home/publications/review/financial-stability-review/First-Edition-2021-Financial-Stability-Review#:~:text=Today%2C%2027%20May%202021%2C%20the,policy%20actions%20to%20the%20public.