Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Sosialemedia-vlinder met 50 000 volgers studeer voltyds aan Akademia

Gepubliseer op: 28 Junie 2021

Megan Starbuck, ʼn eerstejaar BCom (Ondernemingsbestuur)-student, spog met byna 50 000 volgers op Instagram. Sy is een van die eerste pionierstudente wat voltyds vanaf die begin van die jaar by Akademia se splinternuwe Centurion-kampus studeer.

Starbuck noem dat sy op hoërskool al skrikkerig was om in ʼn ander taal as haar moedertaal te studeer. Toe sy egter van Akademia uitvind, waar sy vreesloos in Afrikaans kan studeer, was haar vrese dadelik iets van die verlede. Sy vertel dat sy in die dae wanneer sy nie klas het nie, haar ander passie as sosialemedia-beïnvloeder kan uitleef.

Starbuck is van jongs af ʼn talentvolle atleet. Sy het vanaf graad 4 tot en met graad 11 aan atletiek deelgeneem en is ook al twee keer na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe genooi waar sy podiumplekke behaal het. “God het my geseën met ʼn wonderlike talent, maar ek het ongelukkig ʼn besering opgedoen en het besluit om eers ʼn ruskans van atletiek te neem.”

Haar sosialemedia-reis het na aanleiding van haar passie vir tegnologie begin. Sy geniet fotosessies en om inhoud vir haar sosialemedia-platforms te skep. Sy glo ook dat sy haar kreatiwiteit sodoende kan uitleef. “Ek het vir die pret daarmee begin, toe word dit ʼn droom, en nou is dit ʼn realiteit,” sê sy. Sy reken dat haar unieke van – Starbuck – daartoe bydra dat haar profiele op sosiale media uitstaan.

Sy het gekies om na skool verder in ondernemingsbestuur te studeer, omdat sy glo dat dit vir haar baie deure kan oopmaak. “Ek wou al van ʼn baie jong ouderdom af my eie besigheid bedryf, maar ek het nooit regtig geweet wat ek kan studeer om dit moontlik te maak nie. Toe ek oor hierdie rigting begin oplees, het ek besef dat dit die enigste rigting vir my is,” sê Starbuck.

Familiebande is vir haar baie belangrik. Sy hou daarvan om saam met haar sussies om die kombuistafel koffie te drink, en ook om saam met hulle te oefen om aktief te bly. “My familie en vriende bou my daagliks op; hulle is my ondersteuningsnetwerk en hulle staan my by deur alles wat ek aanpak,” sê sy. Starbuck noem dat sy opkyk na sterk Suid-Afrikaanse vroulike rolmodelle soos Natasha Joubert wat Suid-Afrika by die Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig het.

Starbuck noem dat die Centurion-kampus vir haar soos ʼn tweede huis voel en dat sy op die eerste dag al vriende gemaak het met persone wat baie vinnig in haar hart ingekruip het. Sy beskryf Akademia as ʼn plek waar almal vir mekaar omgee, en waar studente veilig en tuis voel. “Die beste deel van Akademia se voltydse model is dat ons kan klasdraf terwyl talle ander universiteite slegs aanlyn kan voortgaan. Dan is daar ook natuurlik die feit dat ons steeds aan ʼn regte en unieke studentelewe kan deelneem.”

Starbuck se droom is om eendag haar eie besigheid op die been te bring en om met haar atletiekloopbaan voort te gaan.

Akademia wens haar alle voorspoed toe met haar toekomstige avonture en sien uit na alles wat sy nog gaan vermag.

Megan Starbuck staan uit in haar veld – of sy nou ʼn atleet, sosialemedia-vlinder of ʼn student op kampus is.