Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Aftreefondse as waarborg vir lenings

Gepubliseer op: 28 Junie 2021

Geskryf deur Michelle Coetzee, dosent in belasting en ouditkunde by Akademia

Covid-19 is die genesis van ‘n globale gesondheids- en humanitêre krisis. Benewens die pandemie se sosio-ekonomiese ontwrigting, het die Suid-Afrikaanse werkloosheidskoers in die eerste kwartaal van 2021 gestyg tot ʼn verbysterende 32,6%.

Ondanks die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut (SASI) se toespitsing op die ontwikkeling van ‘n nasionale besparingskultuur, is Suid-Afrika ʼn swak spaarnasie. Nietemin kultiveer die nasionale tesourie ʼn Suid-Afrikaanse besparingskultuur by wyse van belastingvrye spaarrekeninge. ʼn Individu kan jaarliks ʼn maksimum belastingvrye bedrag ten bedrae van
R36 000 in ʼn belastingvrye spaarrekening belê. Die individu se jaarlikse beleggings wat in hierdie belastingvrye spaarrekening gemaak kan word, word egter tot ‘n maksimum kumulatiewe bydrae ten bedrae van R500 000 oor die individu se leeftyd beperk.

Die nuutvoorgestelde wetsontwerpwysiging op pensioenfondse betwis die kultivering van ʼn Suid-Afrikaanse besparingskultuur. Die wetsontwerp stel voor dat pensioenfondslede tot 75% van hul pensioenfondsbesparings as waarborg vir lenings moet kan aanbied. Dié wetsontwerp weerspreek derhalwe konvensionele besparingsveldtogte ten einde finansiële ontwrigting te midde van die korona-krisis te verlig. Toegang tot pensioengesteunde lenings stel lede in staat om hul pensioenfondsbelegging voor aftrede te benut sonder om hul voorsiening vir uiteindelike aftrede te verweer. Uitleeninstellings behoort rente teen mededingende koerse te hef aangesien pensioengesteunde lenings ten volle gewaarborg is.

Gegewe die huidige ekonomiese ontwrigting, trae Covid-19-inentingsveldtogte, verbruikers se hoë skuldvlakke en die stygende werkloosheidsyfer sal pensioengesteunde lenings omvangryke druk op die regering plaas indien polishouers versuim om hul verpligtinge rakende die betaling van polispremies na te kom.

Die portefeuljekomitee beredeneer tans die nuutvoorgestelde wetsontwerpwysiging wat in Mei 2021 gemaak is. Die finale wysiging sal teen middel Augustus 2021 beraadslaag word.

Dit is raadsaam vir pensioenfondslede om die moontlike inkomstebelastinggevolge omtrent pensioengesteunde lenings met hul finansiële adviseurs te bespreek.

Michelle Coetzee is ʼn geoktrooieerde rekenmeester wat belasting en ouditkunde by Akademia doseer. Sy is ook die vakhoof van die modules belasting, finansiële rekeningkunde en ouditkunde en die programkoördineerder van die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde.

Bronverwysing:

SAICA, 2021. Retirement funds as a guarantee for loans. NewsArticlesandPressmediareleases/tabid/695/itemid/6454/language/en-US/ language/en-US/Default.aspx?fbclid=IwAR1byz6iint8ecKvYjWQoUu9Fsjm-FzCDTOaP_VMdb3Ck_OeRau71gqIl5g?.