Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Hier is topwenke vir die eksamen wat voorlê

Gepubliseer op: 24 Junie 2021

Geskryf deur dr. Desiree Muller, studentesakebestuurder by Akademia

Studentwees in Covid-19-styl

Studentwees is ʼn heerlike tyd in jou lewe, maar kan ook terselfdertyd een van die mees oorweldigende tye wees. Indien jy ʼn voltydse student is, kan jou dae en nagte baie gou met sosiale en kampusaktiwiteite gevul word. Jou opwindende skedule kan dalk tot gevolg hê dat jy te min slaap, van gemorskos leef, klasse mis en met jou akademiese program agter raak.

As nauurse student is dit weer ʼn groot uitdaging om jou werkslewe en/of gesin met jou studies te balanseer. Daarmee saam ervaar ons die trauma van die pandemie en al die stresfaktore wat daarmee gepaardgaan. Dit is dus normaal om voor die eksamen onvoorbereid of angstig te voel en jy besef dat jou akademiese loopbaan, jou ouers se finansies of dalk ʼn beurs in die weegskaal is as jy nie na wense in die eksamen presteer nie. Hieronder volg sewe wenke om jou met die voorbereiding en aanloop tot die eksamen te help.

  • Vergewis jouself vroegtydig van jou eksamendatums sodat jou beplanning gedoen en onnodige stres uitgeskakel kan word.
  • Bepaal hoe ver jy met elke module agter geraak het. Gesels met klasmaats indien jy sien dat iets vir jou onduidelik is. By Akademia plaas jou dosent alles wat jy nodig het op die Spens. Indien jy nog nie al jou modules op die Spens deurgegaan het nie, is nou ʼn goeie tyd. Daar is dalk waardevolle inligting vanaf jou dosent op forums en gespreksgroepe.
  • Indien jou tyd beperk is, neem omslagtige opsommings te veel tyd in beslag. Werk eerder vinnig deur alles en maak kernagtige opsommings. Dit gee ook ʼn geheelbeeld van die werk. Alle persone verskil van mekaar, maar vir my werk breinkaarte die beste aangesien dit my regter- en linkerbrein met mekaar laat gesels. Om met verskillende kleure te werk help ook, maar waak daarteen om nie te veel pret met jou neonpenne te hê en só waardevolle tyd verlore laat gaan nie.
  • Daar is allerlei memoriseringstegnieke wat aanbeveel word. Wees versigtig om dit eers in die eksamen te begin gebruik. Beproef eerder gedurende die semester of dit vir jou kan werk. Barokmusiek soos Vivaldi se Vier Seisoene het my deur graad 12 en deur 30 jaar se studies gekry, maar White Noise werk dalk beter vir jou.
  • Maak oefening en gereelde, gesonde etes deel van jou daaglikse roetine. Te veel suiker en stysel kan jou brein se optimale funksionering belemmer en laat jou moeg en dof voel. Om byvoorbeeld ʼn energiedrankie te drink gee jou dalk energie vir die eerste uur van jou eksamen, maar daarna daal jou bloedsuiker skerp en beleef jy ʼn insinking. Daarmee saam moet jy genoeg slaap om te verhoed dat jou brein oorlaai voel. Om net voor ʼn vraestel te deurnag, doen meer kwaad as goed. Jou brein het brandstof nodig om voluit te funksioneer.
  • Vermy angstige klasmaats voor jy skryf. Hulle verwys dalk na daardie één ding wat jy nie onder die knie het nie wat jou paniekerig gaan laat voel en dit is juis dán wanneer jy daardie gedagtes sal ervaar soos “dit voel asof alles uit my kop verdwyn het”.
  • Spandeer tien minute aan die einde van jou vraestel om alles weer deur te lees. Almal wil graag so gou as moontlik uit die eksamenlokaal ontsnap, maar gebruik die tyd wat jy het. Dit is dan wanneer jy raaksien dat jy ʼn hele vraag wat jy goed sou kon beantwoord, misgekyk het.

 

Sterkte met die eksamen, Fonties. As dit voel asof jy sink en jy ondersteuning nodig het, stuur gerus ʼn e-pos aan vangnet@akademia.ac.za. Ons help graag.

Dr. Desiree Muller, studentesakebestuurder by Akademia.