Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Sensus 2022: Grafieke is mooi, maar impak is belangriker

Gepubliseer op: 16 Oktober 2023

Geskryf deur Karien Brits, ʼn taalpraktisyn verbonde aan Akademia.

Statistiek is nie net ʼn spel met syfers nie, dit bied aan ons ook ʼn nodige oorsigtelike blik op die wêreld waarin ons leef en daag ons persepsies uit. Sensus 2022 se uitslae is nou beskikbaar en in die taalwêreld word daar weer, soos in die verlede, na die taalverspreiding gekyk. Die vraag is wat dit vir die gewone taalgebruiker beteken.

Kom ons kyk eers na die uitslae wat die Suid-Afrikaanse huistale betref. Die eerste drie posisies het nie verander nie. Dit grootste taal bly Zoeloe (24,4%), gevolg deur Xhosa (16,3%) en dan is die derde grootste taal Afrikaans (10,6%). Die persentasies het wel verander, want in 2011 was Afrikaans se persentasie 13,5%.

In die media en ook in die advertensiewese kry ʼn mens soms die indruk dat Engels die grootste taal is, maar dit is die vyfde grootste huistaal in Suid-Afrika. Daarby is die persepsie dat Afrikaans ʼn klein taaltjie is, maar met hierdie sensus is dit weereens duidelik dat Afrikaans in die Suid-Afrikaanse konteks ʼn taal is wat ʼn groot rol moet en kan speel. Ook as daar na die verspreiding van die taal gekyk word – dit is ʼn taal wat wydverspreid oor Suid-Afrika gepraat word. Dit beteken geensins dat kleiner tale nie ʼn rol het om te speel nie. Dit is juis nodig dat hierdie tale ernstig opgeneem moet word.

Ouers dink ongelukkig dikwels dat Engels die sleutel tot sukses is. Die ouers is reg dat taal belangrik in die akademiese wêreld is. Dit is egter moedertaalonderrig wat die deurslag gee en nie die grootte van die taal nie. ʼn Land met ʼn gesonde onderwysstelsel is ʼn land met ʼn gesonde toekoms (dit is nou as ʼn mens die bekende Carnegie-verslag so mag opsom). Hoe lyk dit dan in Suid-Afrika? In 1996 het 70,1% persone tussen die ouderdomme van 5 en 24 skool bygewoon. In 2022 het dit maar net tot 73,4% gegroei. Hoekom so min? Daar is talle faktore wat ʼn rol speel, maar een van die redes is die gebrek aan moedertaalonderrig. In die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is daar ʼn ooraanbod vir Engelssprekendes maar nie genoeg voorsiening vir die ander taalgroepe nie.

Volgens die SOS-verslag oor die matriekuitslae van 2022 is daar 675 Afrikaanse skole (dit sluit parallelmedium- en dubbelmediumskole skole ook in). Dit is belangrik om te noem dat hierdie Afrikaanse skole onder die top- akademiese skole is. Afrikaanse leerders presteer, want hulle leer in hulle moedertaal. As ons in ag neem dat daar in totaal 6 851 skole is, beteken dit dat Afrikaanse skole 9,85% van die skole uitmaak. Daar is dus net-net genoeg voorsiening vir die Afrikaanssprekende leerders – en Afrikaanssprekende wil volgens ʼn Solidariteit Navorsingsinstituut-verslag graag in hulle moedertaal studeer.

Daar is natuurlik baie wat ons uit Sensus 2022 kan leer, maar die belangrikste is dalk dat moedertaalonderrig belangriker is as om net met syfers te speel. Daar is ʼn groot behoefte aan skole waar leerders in hulle moedertaal kan leer en veral hoëronderwysinstelling soos Akademia wat verdere groeigeleenthede bied in diens van die Afrikaanse gemeenskap en gevolglik ook die toekoms van Suid-Afrika.

Karien Brits is ʼn taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra.