Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Internasionale Woordeboekdag: ʼn Applous vir leksikograwe as onbesonge taalhelde

Gepubliseer op: 16 Oktober 2023

Geskryf deur Sarita Blignaut, taalpraktisyn by Akademia.

Internasionale Woordeboekdag word jaarliks op 16 Oktober gevier. Geskiedkundig word dié datum verbind aan die geboortedag van die Amerikaanse leksikograaf (ook genoem woordeboekmaker), Noah Webster, wat as die Vader van die Woordeboek bekend staan. Op eie bodem verteenwoordig dié dag ʼn taalviering sonder weerga en word die belangrikheid van woordeboeke, en die samestellers van hierdie bronne, op die voorgrond geplaas.

Daar is soveel woordeboeke as wat daar tale is en Afrikaans is geen uitsondering nie. Die Afrikaanse taal spog met ʼn verskeidenheid gehalte woordeboeke wat soos ʼn skatkis van ouds ons taalskat vir toekomstige generasies bewaar. Hierdie woordeboeke verrig verskillende funksies. Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) word gebruik vir die standaardisering van Afrikaanse spel- en taalreëls. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) dien op sy beurt as ʼn beknopte verklarende woordeboek wat die betekenis van woorde bevat waaroor almal soms wonder. Die Woordeboek vir die Afrikaanse Taal (WAT) is ʼn omvattende verklarende woordeboek wat die omvang van die Afrikaanse taal probeer vasvang. Pharos se Tweetalige Woordeboek is ʼn omvangryke woordeboek wat die vertalings van woorde in onderskeidelik Engels en Afrikaans bevat. Hierbenewens vervul bronne soos Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, kollokasiewoordeboeke en ʼn groot versameling tegniese woordeboeke ʼn belangrike rol in die bewaring en uitbouing van die taal. Die belangrikste karaktereienskap van diesulke bronne is dat hulle die polsslag van die taal verteenwoordig en daarom voortdurend uitgebrei en aangepas word.

Maar hoe presies vind ʼn woord of ʼn gesegde sy pad tot in ʼn woordeboek? Leksikograwe speel hier ʼn sleutelrol as onbesonge taalhelde. Leksikograwe besig hulself met aspekte soos die wetenskaplike bestudering van woorde, die gebruikersfrekwensie van woorde, woordinligting (soos betekenis, spelling, uitspraak en gebruik) asook teoretiese en praktiese toepassings. Afrikaans Vandag is ʼn dinamiese byvoorbeeld van ʼn aanlyn woordeboek wat dit ten doel het om eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse en uitdrukkings – intyds te versamel en aan te teken. Die skepper van dié woordeboek is Jana Luther, ʼn bekende Suid-Afrikaanse leksikograaf.

Dit is ʼn wanopvatting dat woordeboeke net vir skoliere belangrik is. Hierdie waardevolle taalbronne kan in elke opsig van die lewe gebruik word, of jy nou ʼn inskrywing op Facebook maak, ʼn voorlegging by die werk moet doen of ʼn e-pos aan ʼn kliënt moet stuur. Danksy woordeboeke is dit binne elkeen van ons se bereik om ons taalgebruik blink te poets en met trots ons beste taalvoetjie voor te sit.

Akademia lig vandag sy hoed vir die leksikograwe wat hulself daagliks daarmee besig om ons taal uit te brei en nuwe woorde by te voeg.

Sarita Blignaut, taalpraktisyn by Akademia, meen leksikograwe is onbesonge taalhelde. Op Internasionale Woordeboekdag bedank sy hierdie kundiges vir hul waardevolle werk.