Search
Close this search box.

Sakeplankompetisie 2024: Broers beïndruk met hul smaakvolle avo(n)tuur!

Gepubliseer op: 4 Oktober 2024

Akademia het op Vrydag 4 Oktober 2024 die wenner van die gewilde BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie tydens ʼn geleentheid by die Leriba-kampus aangewys. Die wenners is Louis en Willem Albertyn met hul besigheid Avo Guy.

Vanjaar se topsakeplanne is vanuit twintig mededingende inskrywings gekies en is uiteindelik beslis tussen Catherine-May Trollip (PlanScapes), Danielle van Deventer (Soothe Seam) en Willem en Louis Albertyn (Avo Guy). Hierdie entrepreneurs besig hulself met die ontwikkeling van pasgemaakte besigheidsplanne, klereontwerp en -vervaardiging asook spesialis-spysenieringsdienste.

Avo Guy het in 2021 die lig gesien en het dit ten doel om die Albertyn-broers se studiedrome aan Akademia te verwesenlik. Louis is tans in sy tweede jaar van studie en ouboet Willem is ʼn finalejaarstudent. Die broers se besigheid fokus op die verskaffing van gesonde alternatiewe tot tradisionele kitskos wat by markte en feeste aangebied word. Hierdie alternatiewe opsies maak gebruik van avokadopeer as die hoofbestanddeel.

Tydens hul aanbieding het die broers daarin geslaag om effektief aan te dui hoe hulle nie net selfonderhoudend is nie, maar ook werkskepping bevorder, winsdeling as ʼn besigheidsmodel toepas én in die proses die breë publiek toegang bied tot gesonde (en organiese) koskeuses. Interessante feite oor dié besigheid sluit onder meer in dat hulle tydens ʼn naweekmark tussen 200 en 300 avokadopere in hul geregte gebruik. Tydens die onlangse KragDag het dié getal tot 1 000 gestyg. Hulle maak gebruik van spanne van tussen drie en sewe mense per skof tydens hierdie geleenthede en stel graag medestudente aan om te help. Nóg meer indrukwekkend is dat hulle vanjaar vir die eerste keer avokadopeerbome kon verkoop wat hulle self gekweek het.

As die wenners van vanjaar se kompetisie stap Louis en Willem weg met ʼn kontantprys van R20 000 geborg deur Solidariteit asook verskeie ander waardevolle pryse.

In haar verwelkoming het Salomien Boshoff, vakhoof en dosent in Bestuurswetenskappe, dit gestel dat die jaarlikse kompetisie ʼn hoogtepunt op die departement se gebeurlikheidskalender verteenwoordig. Nie net het studente die geleentheid om die teoretiese aard van sakeplanontwikkeling prakties toe te pas nie, hulle betree ook ʼn groter en dinamiese entrepreneurskapsnetwerk. Laasgenoemde verwys nie na skakeling met sakenetwerke nie, maar ook met bewese entrepreneurs, mentors en gevestigde besigheidslui.

Boshoff beskryf ʼn entrepreneur as ʼn persoon wat nie net oor ondernemingsgees beskik nie, maar wat ook op ʼn passievolle en vindingryke manier innoverende antwoorde op bestaande uitdagings bied. In die lig hiervan is sy opgewonde oor die professionele én roepingspotensiaal wat die kompetisie vir studente ontsluit. Elk van die finaliste het hul besigheidsplanne aan die gehoor en ʼn paneel deskundiges voorgehou. Hierdie paneel het bestaan uit: Albert van Wyk (Maak my ʼn Miljoenêr), Sanderien van der Walt (bestuurder: AfriForum Sakenetwerk), dr. Thommie Burger (stigter en direkteur: JTB Consulting), Marike Burger (bestuurder: Solidariteit Jong Werkendes), Joachim Lubbe (besturende direkteur: Termite Labs) en Mareli Swanepoel (bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia).

Volgens Monique Visser, programkoördineerder van die BCom (Ondernemingsbestuur)-program, spreek dié kompetisie tot meer as net entrepreneuriese kennis en vindingrykheid. “Getrou aan Akademia se visie, bied hierdie uitdaging aan deelnemende studente die geleentheid om op ʼn praktiese, maar uiters dinamiese wyse, hul denke en emosionele veerkragtigheid (hart) te ontwikkel,” verduidelik Visser.

Sy voeg by dat die kompetisie ontstaan het uit ʼn behoefte om studente by te staan met die ontwikkeling en verwesenliking van hul besigheidsdrome. Die waarde van die jaarlikse uitdaging lê juis daarin opgesluit dat deelnemers dit wat hulle tydens hul studie in Ondernemingsbestuur leer prakties kan toepas. Laasgenoemde maak studente, volgens Visser “besigheidsfiks” en rus hulle toe om hul eie besighede met selfvertroue te kan begin. Op hierdie manier dra Akademia daartoe by om werksgeleenthede vir die gemeenskap te help skep.

Visser meen verder dat hierdie sakeplankompetisie bo ander soortgelyke entrepreneurskapskompetisies uitstaan. Hierdie differensiasie spruit uit die unieke mengsel van hulpbronne, mentorskap en netwerkgeleenthede sowel as die omvattende ondersteuning aan die wenners ná afloop van die kompetisie. “Dit is so lekker om te sien hoe die gehalte van die inskrywings jaar ná jaar verhoog, en die personeel verbonde aan Ondernemingsbestuur is telkens verstom oor die kreatiwiteit, innovasie en toepaslikheid van elke voorgestelde besigheid,” sê Visser ter afsluiting.

Die volgende borge word vir hul ondersteuning en betrokkenheid bedank: Solidariteit, Maryna Stevenson Personal Development, Van Schaiks, VoipTech Telecommunications, Heart of Courage, Solidariteit Finansiële Dienste (SFD), Arke Creative Solutions, GrootFM, Bloudruk Media, Akademia Institusionele Projekte en Ondernemings, Sol-Tech, dr. Thommie Burger, OVK, Sharetrackin, Magriet.CO, Aida van der Walt, Sanlam, Werner Schmidt, Boshoff Grobler en Akademia et al.

Die wenners van vanjaar se BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie is Louis en Willem Albertyn met hul besigheid, Avo Guy. Die wentjek van R20 000 is aan hulle oorhandig deur Marike Burger (bestuurder: Solidariteit Jong Werkendes).

Die topfinaliste in vanjaar se kompetisie was, van links Catherine-May Trollip, Louis en Willem Albertyn, en Danielle van Deventer.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.