Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Reeds ʼn kwalifikasie voltooi en wil graag hoërskoolonderwys gee?

Gepubliseer op: 7 Augustus 2022

Akademia bied op Saterdag 27 Augustus ʼn aanlyn inligtingsessie oor die Nagraadse Onderwyssertifikaat (ook bekend as NGOS) vir Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys. Hierdie kwalifikasie is een van Akademia se gewildste programme en dit bied vir persone wat reeds ʼn kwalifikasie voltooi het die kans om hulself as hoërskoolonderwysers te bekwaam. Hierdie kort en kragtige sessie kan vanaf die gemak van jou eie rusbank of kantoor bygewoon word vanaf 10:30-11:30.

Tydens die inligtingsessie sal voornemende studente baie waardevolle inligting ontvang, onder andere oor waarom hulle NGOS moet oorweeg, die toelatingsvereistes tot die program, hoe die proeftydperke en klasbywoning werk, asook die aanlyn aansoekproses. Daar sal ook ʼn gedeelte van die sessie toegeken word aan vrae en antwoorde om sodoende enige kwelvrae uit die weg te ruim sodat jy met ʼn geruste hart ʼn ingeligte besluit kan neem.

Die NGOS-kwalifikasie word op Akademia se nauurse afstandsmodel aangebied wat beteken dat studente bedags kan werk of ander drome najaag terwyl hul die kwalifikasie voltooi. Nog ʼn voordeel van hierdie program is die proeftydperke wat by skole voltooi moet word as deel van die studie om te verseker dat die nodige praktiese vaardighede aangeleer kan word.

Indien iemand nog nie ʼn kwalifikasie voltooi het nie, kan jy steeds ʼn voorgraadse kwalifikasie by Akademia voltooi en daarna die NGOS-kwalifikasie voltooi om sodoende in vier jaar as hoërskoolonderwyser te kwalifiseer.

As jy nog altyd die onderwys wou betree en ʼn roeping ervaar om ʼn bydrae te lewer om ons kosbare jeug se lewens te verryk, dan is hierdie kwalifikasie vir jou. Indien jy belangstel in ʼn NGOS-kwalifikasie, bespreek gerus jou virtuele sitplek hier om toegang tot die sessie te verkry. Studieaansoeke vir 2023 is reeds oop. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

Akademia bied op Saterdag 27 Augustus ʼn aanlyn inligtingsessie aan oor die Nagraadse Onderwyssertifikaat (ook bekend as NGOS) vir Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys.