Gepubliseer op: 22 April 2025
Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid het op Dinsdag 22 April 2025 tydens ʼn spesiale glasieklinkgeleentheid op die instelling se Leriba-kampus die toevoeging van twee nuwe programme tot dié fakulteit se programaanbod gevier. Dié twee programme, naamlik die Hoër Sertifikaat in Arbeidsreg en die LLM deur navorsing-program is vroeër in die maand bekendgestel.
Beide hierdie programme, waarvan die LLM die instelling se eerste meestersprogram is, word via die nauurse afstandsmodel aangebied en belangstellendes kan nóg vanjaar vir studie hierin aansoek doen. Die sluitingsdatum vir die Hoër Sertifikaat in Arbeidsreg (NKR-vlak 5) vir die 2025- akademiese jaar is 31 Mei, terwyl aansoeke* vir die LLM-program (NKR-vlak 9) op 30 Junie sluit. Alternatiewelik kan belangstellendes óók nou reeds vir die 2026- akademiese jaar aansoek doen.
Volgens prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, spieël die toevoeging van die nuwe programme nie net die fakulteit se strewe na voortgesette diens aan die gemeenskap nie, maar ook ʼn diepe verbondenheid tot die uitbouing van die Afrikaanse regswêreld.
Op sy beurt meen prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, dat die instelling verheug is oor die nuwe programtoevoegings. “Buiten dat hierdie programme akademiese gesproke uitnemende – en hoogs relevante, programme verteenwoordig onderstreep die instelling hiermee nogmaals die feit dat hy geroepe is om nie net die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe in die onderskeie dissiplines en beroepe te dien nie, maar om óók die denke en hart van studente te vorm, ” sê Goosen. Met hierdie vorming van word daar voorts aktief tot gemeenskapsontwikkeling en -uitbouing bygedra.
Só sien die nuwe programme daarvan uit
Coetzee verduidelik dat in die geval van die Hoër Sertifikaat in Arbeidsreg die program ʼn behoefte aanspreek wat direk deur die werksgemeenskap geopper is en dat arbeidsreg – en die toepassing daarvan, nouliks met alle aspekte van die werkswêreld verweef is. “Hierdie program sal afgestudeerdes toerus om met selfvertroue grondige arbeidsprobleme in die werksplek te identifiseer, die tersaaklike beginsels na te vors en dit ook prakties toe te pas in onder meer die hantering van dissiplinêre aangeleenthede,” sê Coetzee.
Gegewe die toepaslikheid van dié program is dit ideaal vir enige persoon wat reeds in die werksomgewing staan, waaronder vakbondamptenare, werkgewersorganisasie-amptenare en aspirant regslui. Ná afloop van die voltooiing van dié program sal studente in staat wees om ’n loopbaan as arbeidsregsadviseur in beide die kommersiële én openbare sektore na te streef. Hierbenewens bied die hoërsertifikaatprogram studente die geleentheid om verder te studeer deur gevolglik vir ’n toepaslike baccalaureusgraad, onder andere ’n LLB, aansoek te doen.
Wat die LLM deur navorsing-program betref, spreek dié toevoeging volgens Coetzee tot Akademia se roepingstaak om as ʼn Afrikaanse hoëronderwysinstelling die ontwikkeling en behoud van Afrikaans as wetenskapstaal te help verseker en doelgerig uit te brei. “In die lig hiervan is dit vir die Fakulteit Regsgeleerdheid ʼn groot eer om hierdie program aan te bied en só ʼn lansie vir Afrikaans as wetenskapstaal in die regswêreld te breek,” meen Coetzee.
Die waarde van regsnavorsing mag volgens Coetzee nie onderskat word nie omdat dit regspleging asook regsopleiding versterk en ondersteun met die gevolg dat gemeenskappe direk daarby baat sal vind. “Wat bepaald die regsberoep betref is die vermoë om behoorlike navorsing te onderneem, ʼn onontbeerlike vaardigheid waaraan daar voortdurend geslyp moet word,” verduidelik Coetzee. Sy noem voorts dat die snel veranderende wêreld voortdurend nuwe en opwindende regsuitdagings tot gevolg het, waarvoor daar werkbare oplossings gevind moet word. Hierdie soeke na oplossings en antwoorde geskied aan die hand van regsnavorsing.
Fakulteit gaan van krag tot krag
Op die vraag wat volgende vir die fakulteit voorlê, antwoord Coetzee dat daar uitgesien word na Akademia se vestiging in die Paarl en die gepaardgaande uitbreiding van die regsprogramaanbod – BCom (Ekonomie en Regte) en LLB – via die voltydse kampusmodel in 2026. Ander toekomstige hoogtepunte sluit in die verdere ontwikkeling van nagraadse programme binne die fakulteit, wat uiteindelik ook ander meestersprogramme en ʼn LLD sal insluit.
* Belangstellendes wat in 2025 reeds met die LLM deur navorsing-program wil begin, kan ʼn e-pos stuur om meer oor die aansoek- en gepaardgaande keuringsproses te wete te kom.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.