Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Nuwe dosente versterk Akademia se hande

Gepubliseer op: 16 Januarie 2018

Akademia het oor die laaste ses jaar gegroei tot ʼn dinamiese studietuiste, waar Afrikaanse-studente eersteklas hoër opleiding en opvoeding in ʼn veilige ruimte ontvang. Akademia oortref jaar na jaar verwagtinge en vanjaar is geensins anders nie.

Akademia het hulle hande versterk met sewe nuwe voltydse dosente. Dr. Saretha Brussow, het ook vanjaar as dekaan by Akademia aangesluit om die nodige leiding te bied asook om die jong dosentekorps by te staan en te ondersteun. “Afgesien van die groei en vooruitsigte onder die akademiese personeel het ons Studenteraad ook uitgebrei en is hulle slaggereed om die belangrike skakel tussen akademie en studentelewe te bewerkstellig,” het Le Roux bygevoeg.

Akademia bied vir studente ʼn keuse van sewe programme, en besonderhede oor die programme is beskikbaar op https://akademia.ac.za. Vanjaar word die Baccalaureusgraad in Ekonomie en Regte asook die Baccalaureusgraad in Finansiële Beplanning vir tweedejaars aangebied, wat ʼn toevoeging van 12 nuwe vakke is. Van die sewe nuwe voltydse dosente wat aangestel is, is drie núwe aanstellings en vier bestaande vakante poste wat gevul is.

Zhan Goosen is aangestel as ʼn dosent in Projekbestuur en is verantwoordelik vir die aanbied van drie vakke wat op Hoër sertifikaat vlak, Graad vlak asook Gevorderde Diploma vlak aangebied word. “Ek wil graag vanjaar my modules so volledig as moontlik bemeester om hoë gehalte studieleiding aan my studente te verskaf,” het Goosen gesê.

Beide Chazanne Grobler en Henrike Putter is as dosente in Regte aangestel. Dit is vir beide dosente ʼn groot voorreg om in hul moedertaal te kan onderrig gee en deel te wees van ʼn instansie wat diep in hul Christelike waardes gewortel is. “As ek een droom het vir Akademia, is dit dat hy ʼn vlagskip universiteit van die land en buurlande sal word,” het Grobler gesê.

Victor Correia bied vanjaar die vakke Kliëntediens en etiek, Besigheidsetiek en Verantwoordelike Burgerskap aan, en is opgewonde vir die pad wat vir hom voorlê. Riana Crafford wat aangestel is as ʼn dosent in Informatika glo dat Akademia se uitgangspunt en gebruikmaking van eietydse tegnologie nommerpas is om suksesvol te wees.

Vir Mareli van der Merwe ʼn dosent in Ondernemingsbestuur, is dit die lekkerste om met die studente te werk en is dit vir haar interessant om die innoverende en dinamiese omgewing te bestudeer. Astrid Helberg wat as dosent in Bestuursrekeningkunde aangestel is, hoop om vanjaar die studente te inspireer en vir hulle hoop vir die toekoms te gee.

Volgens Le Roux is die nuwe dosente ʼn aanwins. “Die nuwe dosente verseker dat Akademia as gehalte onderriginstelling van beter na beste kan groei. Met dosente wat kundiges is in elkeen se eie vakgebied kan ons ten beste studente onderrig en oplei,” het Le Roux gesê.

“By Akademia is ons in die bevoorregte posisie om jong, energieke dosente as deel van die span te hê. Dit beteken dat ons nie vaskyk in jare lange prosesse en stelsels, of maniere van doen nie, maar kreatief kan omgaan om oplossings te vind vir die deurlopende verbetering van ons gehalte onderrig aan studente,” het Le Roux saamgevat.

Akademia bied op Saterdag, 13 Januarie 2018 by verskeie studiesentrums landswyd, en in Namibië, ’n opedag aan vir voornemende studente wat nog nie aansoek gedoen het om verder te studeer nie.

Artikel geskryf deur Solidariteit Wêreld