Gepubliseer op: 15 November 2024
Onthou die naam Nikita Meyer. Dié negentienjarige Fontie-eerstejaar in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program het in Oktober 2024 haar buiging op die verhoog gemaak as een van die hoofkarakters in die Lefra Produksie, My boetie se sussie se ou. Meyer vertolk die rol van Vicky Smith, wat haarself in ʼn ingewikkelde internetromanse bevind én terselfdertyd na groter vryheid smag, met komiese gevolge.
Meyer, ʼn oudleerling van Hoërskool Hugenote in Springs, pak haar studies via die instelling se voltydse kampusmodel in Centurion aan. Volgens haar is 2024 beslis ʼn hoogtepuntjaar vir haar. Nié net het haar studiereis, in haar moedertaal, ʼn aanvang geneem nie, maar sy is ook besig om haar vlerke as akteur te sprei. “Ek geniet dit terdeë om ʼn Fontie te wees, en elke dag is ʼn geleentheid om méér te leer, nie net van my gekose vakgebied nie, maar ook van die lewe en die rol wat ek het om daarin te speel. Die interaksie tussen myself, my dosente asook mede-Fonties is van onskatbare waarde en dra beslis by tot my vormingservaring,” sê Meyer.
Meyer vertel dat sy op Akademia as ʼn studietuiste besluit het omdat sy van haar heel eerste kennismaking met dié instelling beïndruk was met die sterk samehorigheidsgevoel wat sy ervaar het. “Behalwe vir die moedertaalband wat die Akademia-gemeenskap gemeen het, verteenwoordig die kampusomgewing ʼn plek van tuiskoms vir studente van oraloor met gedeelde waardes en tradisie, en dié verbondenheid-in-aksie lê my sommer baie na aan die hart,” meen Meyer. Sy vertel dat sy op die BCom (Ondernemingsbestuur)-program besluit het deels omdat sy vanweë haar ouers se familiebesigheid reeds vanaf kindsbeen aan die besigheidswêreld blootgestel is én omdat sy ʼn natuurlike aanvoeling vir dié beroepsveld het. Dit is dan ook haar droom om na die suksesvolle voltooiing van haar studies haar kennis en vaardighede te gebruik om ʼn brug tussen die besigheidsektor en die kunste te slaan. “Ek wil graag die kreatiewe aspekte van die teater met die strategiese beginsels van besigheid versoen en só my liefde vir beide hierdie velde verder uitbou,” sê Meyer.
Haar gunstelingmodule is Ekonomie en sy hou veral van die manier waarop Nadia Hunt, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe, daarop toegespits is om ruimte te skep vir gesonde debattering en argumentering. Laasgenoemde toets nie net Meyer en haar groepsgenote se kennis en insig nie maar maak ook die leerervaring interessant.
Wat Meyer se liefde vir toneelspel betref, vertel sy dat dié voorliefde reeds in haar kleuterskooldae by die Jantjies sonder tandjies-kleuterskool aangewakker is. Die eerste toneelstuk waarin sy deelgeneem het, was getiteld Encore en sy het tóé, op die ouderdom van ses jaar, die rol van “Die Flooze” (Sorina Erasmus) vertolk. “Ek onthou tot vandag toe hoe ek gesing en gedans het en deurentyd oordrewe gesigsuitdrukkings moes maak,” lag Meyer.
Op die vraag oor hoe sy dit regkry om al die woorde van haar karakter onder die knie te kry, vertel sy dat haar passie vir toneelspel hierdie oënskynlike moeilike taak vergemaklik. Sy sê ook dat haar deelname aan die kunste haar help om ʼn goeie balans met haar studies te handhaaf. “Toneelspel is nie net ʼn kreatiewe uitlaatklep nie, maar ook ʼn lekker manier om stres te help hanteer. Om die waarheid te sê, ek is daarvan oortuig dat dit my help om beter op my studies te kan fokus,” meen Meyer. Laasgenoemde verwys veral na die vermoë om haar tyd effektief te bestuur.
“Ek glo die sleutel tot sukses lê opgesluit in passie en prioritisering. Hierdie twee aspekte help my beslis om my tyd én energie te bestuur,” verduidelik Meyer. Met hierdie in gedagte moedig sy voornemende Fonties, wat dalk óók ʼn kunstedroom – of ander belangstellings – navolg om Akademia as ʼn studietuiste te oorweeg. “Of jy nou voltyds by een van die kampusse in Centurion studeer, óf via die nauurse afstandsmodel, dié instelling is ʼn studietuiste sonder vergelyk,” sluit Meyer af.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.