Search
Close this search box.

Aandag 2024-matrikulante: Akademia beloon akademiese prestasie met merietebeurse

Gepubliseer op: 11 September 2024

Die 2024-matriekgroep maak gereed om op 21 Oktober die eksamenlokaal te betree om met hul eindeksamen te begin. Terselfdertyd moet ouers en dié groep voornemende skoolverlaters die stygende koste van hoër onderwys in die gesig staar. Gedagtig aan hierdie realiteit maak Akademia die opwindende nuus bekend dat hy goeie matriekprestasie gaan beloon by wyse van die daarstelling van akademiese merietebeurse vir matrikulante. Hierdie merietebeurse sal van toepassing wees op die instelling se 2025- akademiese jaar.

Volgens Liana van Rooy, Akademia se registrateur, sal die toekenning van hierdie merietebeurse op grond van eerstejaarstudente (2024-matrikulante) se akademiese prestasie gedoen word. Die merietebeurse sal gevolglik in die vorm van studiekorting vir onderskeidings in drie kategorieë toegeken word en sal outomaties teen klasfooie of koshuisfooie gekrediteer word vir die eerste jaar van studie.

Vir die eerste fase van dié uitrolproses vir 2024 sal die korting soos volg daaruitsien:

  • Kategorie A-vakke: R8 000 per onderskeiding

Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Lewenswetenskappe

  • Kategorie B-vakke: R4 000 per onderskeiding

Afrikaanse Huistaal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Engels Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal en Rekeningkunde

  • Kategorie C-vakke: R2 000 per onderskeiding

Alle ander skoolvakke, uitgesluit Lewensoriëntering

Van Rooy verduidelik dat ʼn voornemende student ʼn merietetoekenning van maksimum R50 000 (ongeag die aantal onderskeidings) op hierdie manier kan geniet. Die toekenning van die merietebeurse is egter onderhewig aan bepaalde bepalings en voorwaardes waarvan deeglik kennis geneem moet word.

“Hierdie toekenning is van toepassing vir studie op beide die instelling se voltydse kampusmodel of die nauurse afstandsmodel, en bied waarlik aan voornemende studente ʼn gulde geleentheid om hul studiedrome te verwesenlik,” sê Van Rooy.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling, spreek die toekenning van hierdie merietebeurse tot méér as die instelling se verbondenheid tot akademiese uitnemendheid binne die milieu van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. “Die beskikbaarstelling van merietebeurse vir matrikulante wat akademies goed presteer weerspieël ook die dinamiese groei wat so tekenend van die instelling is,” sê Visser. Hy voeg by dat Akademia vanjaar nie net ʼn rekordgetal afgestudeerde studente (465) tydens die kwalifikasieplegtigheid gelewer het nie, maar ook nuwe programme tot sy repertoire gevoeg het. Dit sluit onder meer die bekendstelling van die BA (Taalstudies)– en die BAHons (Media en Kommunikasie)-programme in.

Die instelling het ook vroeër die jaar aangekondig dat hy sy geografiese voetspoor na die Wes-Kaap gaan uitbrei, terwyl planne vir ʼn nuwe kampusontwikkeling in die ooste van Pretoria bekendgemaak is. Laasgenoemde Toekomsbouer-veldtog word in samewerking met die eiendomsontwikkelingsmaatskappy, Kanton, beplan.

“Harde werk word beloon, en die toekenning van hierdie akademiese merietebeurse is sprekend hiervan. As ʼn instelling hoop ons dat hierdie vooruitsig matrikulante opgewonde oor hul toekoms sal maak, en dat hulle op hierdie manier gestalte aan hul roepingsbesef sal gee,” meen Visser. Hy voeg by dat die beurse voorts in wese ʼn simboliese erkenning van ʼn nuwe geslag denkleiers, praktykkundiges, kunstenaars, wetenskaplikes en entrepreneurs verteenwoordig. Kortom: ʼn gulde geleentheid vir matrikulante om as die denkers en doeners van more na vore te tree om só hul regmatige plek as rentmeesters van volhoubaarheid, innovasie en vooruitgang in te neem.

Akademia sal vanaf 2025 akademiese merietebeurse aan eerstejaars toestaan wat hul matriek in 2024 voltooi het. Hierdie merietebeurse sal geskoei word op akademiese prestasie en eerstejaarstudente kan soveel as R50 000 studiekorting op hierdie manier geniet.