Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Marnus Potgieter leef sy rugbydroom uit terwyl hy nauurs aan Akademia studeer

Gepubliseer op: 24 Junie 2021

Om ʼn mens se drome na te jaag, neem dikwels baie moed, uithouvermoë en harde werk. Marnus Potgieter, ʼn ambisieuse student, werk voluit om ʼn professionele rugbyloopbaan na te streef – dít terwyl hy ʼn BCom-kwalifikasie aan die privaat hoëronderwysinstelling Akademia voltooi.

Potgieter het reeds as sesjarige ʼn liefde vir rugby ontwikkel, maar het eers toe hy in graad 11 Cravenweek gespeel het besef dat hy van sy rugbytalent ʼn loopbaan wil maak. Hy het na skool vir die Blou Bulle begin speel en het tot op hede drie en ʼn half jaar se speeltyd by hulle agter die rug. Hy het onlangs sy kontrak om vir die volgende twee jaar by die Cell C Sharks aan te sluit, onderteken.

Baie mense sal wonder waarom hy dan besluit het om te studeer terwyl hy reeds ʼn belowende toekoms as professionele rugbyspeler het. Potgieter vertel dat sy ouers hom van jongs af daarvan bewus gemaak het dat ʼn mens nie tot op ʼn hoë ouderdom rugby kan speel nie, en dat dit nodig is om steeds ander loopbaanmoontlikhede in gedagte te hou. “Rugby is vir my ʼn goeie wegspringplek, maar ek wil steeds iets studeer sodat ek ná my rugbyloopbaan iets anders met my lewe kan doen. Rugby is my passie en ek sal dit vir so lank as moontlik professioneel wil speel, maar dit is altyd goed om ʼn Plan B te hê.”

Potgieter het navorsing oor Akademia gedoen en het vinnig agtergekom dat die nauurse model se e-leeropsie baie goed by sy besige leefstyl sal pas. Hy het besluit om vir ʼn BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie in te skryf omdat hy glo dat dit in die toekoms ʼn goeie rigting is wat op verskeie maniere gebruik kan word. Boonop geniet hierdie Akademia-kwalifikasie erkenning by een van die grootste internasionale professionele liggame, CIMA, wat dié kwalifikasie ʼn goeie studiekeuse maak.

Hy reken dat om in Afrikaans te kan studeer hom baie help. “Die moedertaalonderrig rus my toe om die werk makliker te verstaan, en daarom pak ek die boeke juis vinniger en meer produktief aan.”

Om ʼn rugbyloopbaan met studies te balanseer, is nie altyd ʼn maklike taak nie, maar volgens hom is dit beslis moontlik. “Ek is darem hardwerkend en dit help my om goed te doen op beide die veld én in my studies. Elke nuwe dag se nuwe uitdagings maak my net sterker vir alles wat nog voorlê.”

Potgieter vertel dat die ondersteuning wat hy van sy familie en vriende ontvang ook help dat hy al sy take kan verrig. “Ek het ʼn ongelooflike ondersteuningstelsel agter my wat my ouers, grootouers en boetie insluit. My vriende ondersteun my ook tydens moeilike dae.”

“Ek is baie trots om te sê dat ek deur Akademia studeer en ek sal dit regtig aan ander mense voorstel wat reeds werk of ʼn ander passie najaag,” sê hy. “Die gerieflike nauurse model, spesifiek die e-leeropsie, help ʼn mens om van enige plek af klas by te woon. Jy hoef slegs op jou rekenaar in te skakel om klasse by te woon.”

Hy meen dat, alhoewel hy hard werk en seker maak dat hy geleenthede met beide hande aangryp, hy glo dat sy toekoms in die hande van die Here is. “Ek leef elke dag soos dit kom met al my vertroue in Liewe Jesus en ek weet Hy gaan my op ʼn pad lei wat net die beste vir my sal uitwerk.”

Akademia wens hom ʼn suksesvolle loopbaan toe. Medestudente en personeel hou sy loopbaan met groot afwagting dop.

Marnus Potgieter leef sy passie uit – beide op die rugbyveld en in sy nauurse studies aan Akademia.