Search
Close this search box.

Koffieproe bevorder kennis sowel as geselligheid

31 Augustus 2023

Geskryf deur Juné Jordaan, Fontiepos-adjunkredakteur

Die reuk van vars koffie vroeg in die oggend of laat in die middag is genoeg om vir enige iemand gelukkig te maak. ʼn Koppie koffie saam met jou beste vriend of een saam met ʼn potensiële liefde is meer as net ʼn koppie koffie.

Sowel As het op 19 Julie hul eerste koffieproe gehou in samewerking met Bun Bun Roastery. Daar is na verskillende maniere vir die maak van koffie gekyk, onder andere die Moccamaster, French Press, Chemex asook die mees bekende Espresso. Daar is ʼn paar interessante feite oor koffie aan die liefhebbers bekend gemaak, soos byvoorbeeld dat jou koffie se sterkte afhang van hoe fyn of grof jou bone gemaal word. Daar was ook verduidelik dat koffiebone wat geoes is, binne ʼn maand gebruik moet word sodat die kwaliteit van hoogste gehalte kan bly.

Die personeel van Bun Bun Roastery het ook nuwe terminologie aan die gaste bekend gemaak, en vir hulle vertel dat “bloom” in koffieterme beteken om water oor die fyngemaalde koffie in ʼn spiraal van binne na buite te gooi. Tesame met al die terminologie en die interessante feite is daar ook verduidelik dat koffie geklassifiseer kan word op grond van die bitter smaak, of dan ʼn suur smaak wat in die koffie teenwoordig is.

Tydens die demonstrasie van hoe elk van die koffie gemaak word, kon die gaste opstaan en die verskillende koffie proe en hul opinie daaroor lewer. Die verskillende koffiestyle het nie net die koffieliefhebbers se harte gelukkig gemaak nie, maar ook die sosiale vlinders s’n. Die gesellige atmosfeer het koffie se vermoë om vreemdelinge in vriende te verander, en stilte in gesprekke uit te skakel, beklemtoon.

Aan die einde van die koffieproe is die gaste genooi om ʼn gratis koffie van hul keuse te ontvang wat self gemaak is deur die barista van Bun Bun Roastery. Die gaste het ook die geleentheid gekry om ʼn gesprek met die barista te voer, en enige onsekerhede oor koffie op te klaar. Koffie het die unieke vermoë om geselligheid te kweek, jou terug te neem na spesiale herinneringe, en selfs jou sosiale dors te les. Sowel As se koffieproe was ʼn reusesukses met die oog op die verhoudings wat gevorm is, die kennis oor koffie wat verbreed is, en die aromas en geure wat die lug van Sowel As gevul het.

Sowel As se eerste koffieproe saam Bun Bun Roastery op 19 Julie was ʼn reusesukses.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.