Search
Close this search box.

Pienk, pienker, pienkste! Van plastiek tot fliek – dis Barbie-koors!

31 Augustus 2023

Geskryf deur André Muller, Fontiepos-subredakteur

Sedert die speelgoedvervaardiger Mattel in 1959 die eerste Barbie-pop bekendgestel het, het dié modepop ’n ikoon geword met haar groeiende entourage en bykomstighede. Barbie en haar kêrel, Ken, se huis en kar het nou plek gemaak vir ’n magdom toebehore, meubels en versierings in die fantasiewêreld van kinders. Om al die Barbies met hulle rekwisiete oor ’n tydperk van 64 jaar te versamel, sou meer as een pakhuis in beslag neem. Barbie se beroepe wissel van lewensredder, skooljuffrou, ruimtereisiger en sjef tot modeontwerper, musikus, presidentskandidaat en nog wat. Sy het ontpop as ’n ikoon wat selfs spog met haar eie volwaardige film, vervaardig deur Warner Brothers. Barbie is op 21 Julie in die VSA vrygestel met Margot Robbie in die rol as Barbie, ’n mylpaal vir enige pop.

As mens vir ’n oomblik die Barbie-polemiek opsy skuif en na die film slegs as film kyk, is dit ’n besonderse poging. Mens kan dink dat haar wêreldskepping maklik is: Mens kopieer bloot die bestaande speelgoed, maak dit lewensgroot en mik ’n kamera daarop. Dit is egter nie so maklik nie. Dit vat talent om ’n wêreldbekende wêreld te herskep, dit outentiek en bekend te hou, maar ook nuut en verwelkomend te maak. Barbieland se plastiek, gekombineer met strokiesprentagtige animasie, perfekte beligting en minimale rekenaartruuks het die film meer tasbaar gemaak.

Ek kan aan geen ander aktrise dink om Barbie te vertolk as Margot Robbie nie. Sy is die beeldskone blonde, blouoog stereotiepe Barbie. Sy het ook die onblusbare positiwiteit en die amper leë houding wat die perfekte, plastiek-Barbieland van haar vereis. Mattel meen Barbie moet amper persoonlikheidloos wees, want die kind wat met haar speel, moet ’n eie persoonlikheid kan projekteer. Wanneer sy die patriargie van die regte wêreld begin verstaan, beweeg sy van haar oogverblindende glimlag na trane, en vang soveel van vroue se bestaan in daardie eenvoudige oorskakeling vas.

Robbie word slegs deur die nimlike Ryan Gosling oorskadu wat Ken met entoesiasme aanpak. Hy het kop eerste in die lafheid ingeduik. Hy is kostelik, of hy nou agter Barbie aanloop, die patriarge aangryp of besef patriargie is eintlik nie sy voorkeur nie. Hy sorg vir ’n diep emosionele verbintenis met die gehoor.

Barbie gun die pop die krediet wat sy toekom, maar spreek ook die skade aan wat sy verrig het. Greta Gerwig, regisseur van die film, vra ook hoe ons verder beweeg: Hoe lyk die nuwe vergestalting van die speelding? Wat word sy in 2023, of 2033, toegelaat?

Gaan kyk die film vir die antwoord.

Bron: Barbie | Warner Brothers

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.