Search
Close this search box.

Jy en jou veiligheid as Fontie

Geskryf deur Marisha Hermann, Fontiepos-joernalis

Studente is oor die algemeen vreesloos, of so dink ons, maar hoe gemaak as jy werklik in die nood verkeer? Van een ding kan jy seker wees, en dit is dat jou veiligheid vir Akademia ʼn prioriteit is.

In die lig hiervan deel Llewellynn Hemmens, hoof van AfriForum Noordstreek-gemeenskapsveiligheid, die volgende wenke en gedagtes met Fonties aangaande persoonlike veiligheid:

  • Dit is belangrik om te verstaan dat niemand 100% veilig kan wees nie, maar dat risiko’s wel bestuurbaar kan word deur maatreëls.
    1. Veiligheid is ʼn toestand waarin daar gevoel word dat niks slegs gaan gebeur nie.
    2. Dit is dus die afwesigheid van gevaar en die aanwesigheid van beskermende maatreëls teen gevaarlike toestande.
    3. Veiligheid bly egter ʼn relatiewe begrip, omdat omstandighede nooit absoluut veilig kan wees nie. ʼn Veilige situasie of omgewing is een waar die risiko vir beserings en skade laag en bestuurbaar is.
 
  • Omgewingsbewustheid is een van die belangrikste konsepte om te verstaan. Om bewus te wees van jou omgewing, hou alreeds die voordeel in dat jy nie onkant gevang kan word nie.
    1. Waar is jy? Weet jy waar jy is, en weet jou naastes waar jy is?
    2. Wie weet waar jy is? Weet jou familie watter roete jy volg as jy na ʼn gevaarlik omgewing reis?
    3. Beplan jou roetes en bestemming.
    4. Wat gaan jy saamneem? (Let op enige duur items wat aanloklik is vir misdadigers.)
 
  • Bly kalm. Dit is werklik belangrik om te verstaan dat jou lewe meer belangrik is as jou persoonlike items. Voertuie, beursies selfone en so meer kan altyd vervang word, maar nie jou lewe nie.
    1. Gee jou samewerking om jou eie lewe te probeer beskerm. As jy nie deur gevorderde selfverdediging is nie, moet nie probeer terugbaklei nie.
    2. Probeer soveel as moontlik geraas maak om aandag te trek; misdadigers hou nie van aandag nie.
 

Kontak die volgende nommers as jy of ʼn mede-Fontie in nood verkeer:

  • 066 142 8437
  • 012 880 1965
  • 012 880 1975
 

Dié nommers kan gekontak word in alle noodsituasies op Akademia-persele (Centurion-kampus en ander sentrums) waar gewapende reaksie, die brandweer en/of enige nooddienste ontbied moet word. Die nommers kan ook geskakel word wanneer padbystand benodig word.

Fonties se veiligheid is topprioriteit vir Akademia as instelling.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.