Gepubliseer op: 21 Februarie 2024
Geskryf deur prof. Danie Goosen uitvoerende hoof: Akademie by Akademia
Een van die wonders van die menslike bestaan is dat dit deur ʼn groot hoeveelheid tale gekenmerk word. Vanweë dié veelheid van tale word ons menswees deur ʼn verstommende rykdom, kleur en diepte gekenmerk. Indien ons slegs een taal sou praat, sou ons weliswaar veel armer gewees het!
Ongelukkig staan hierdie veelheid van tale vandag onder ernstige druk. Tydens die afgelope eeu het daar reeds sowat 400 tale uitgesterf, terwyl navorsing voorspel dat die helfte van die oorblywende 6 500 tale teen 2100 vir die mensdom verlore sal wees. In vele opsigte is die ganse wêreld vasgevang in ʼn proses waarin taalrykheid met taalarmoede vervang word.
Maar hoekom gaan die veelheid van moedertale met iets soos kulturele rykdom gepaard? En, hoekom lei die dood van moedertale tot kulturele armoede?
Verskeie geleerdes het reeds vanaf die Romantiek in die agtiende en negentiende eeue daarop gewys dat tale nie net blote kommunikasiemiddele is nie. Alhoewel tale ook hierdie funksie vervul, gee elke taal ook vergestalting van die werklikheid op ʼn eie en unieke wyse.
Indien ʼn taal sou sterf is die implikasie daarom dat die werklikheid self verarm. Nóg meer dramaties geformuleer, die dood van ʼn moedertaal gaan met die dood van die werklikheid gepaard (of ten minste dié werklikheid wat deur die betrokke moedertaal oopgebreek word).
Kortom, taaldood gaan nie net met die verlies van nóg ʼn taal uit die groot skat van tale gepaard nie. Taaldood gaan met ʼn werklikheidsverlies gepaard. Met die afsterwe van ʼn taal word die werklikheid self in sy volle kleur, glorie en volheid verminder.
Laasgenoemde is nie net ʼn teoretiese moontlikheid nie. Dit gebeur selfs op ons eie veeltalige voorstoep. Volgens mediaberigte is die laaste spreker van ʼn unieke Khoi-San-taal, naamlik die N/uu-taal, onlangs oorlede. Gevolglik is die aantal Khoi-San-tale nie net verminder nie, maar is die unieke werklikheid wat met dié taal gepaard gaan ook verlore. Hierdie werklikheid is deur ʼn besondere taal met sy eie klanke, unieke segswyses, legendes en lewenstyle gekenmerk. Ons is almal, myns insiens, selfs diegene wat nog nooit van die N/uu-taal gehoor het nie, armer daaraan toe ná hierdie verlies.
Ter verduideliking kan ons ook na ʼn voorbeeld uit ons eie letterkunde verwys, naamlik ʼn gedig van M.M. Walters, “Moses”. Dié gedig gaan oor universele verskynsels eie aan menswees, naamlik selfopoffering, twyfel en ʼn stille noodkreet om hulp. Dit gaan met ander woorde oor dinge wat in enige digkuns aan die woord gestel kan word.
Wat die gedig “Moses” van ander soortgelyke gedigte in ander tale uitsonder, is die Afrikaanse aard daarvan. Vanweë die tipiese Afrikaansheid word die genoemde universele temas op ʼn eiesoortige wyse aan die orde gestel. Dit lui soos volg:
Net ʼn ou witkop wat met donker bril wydsbeen oor die woestyn uit staar en wonder watter koers vannag met sy weerbarstige volk weer in te vaar. niemand wat sy penarie ook verstaan: die manna’s droog, die water’s min, môre sal hy weer die klip moet slaan! net die leier wat na rigting tas – hy sug en trek die sagte bokriem stywer om sy boepens vas.
|
Enigeen wat Afrikaans kan lees, weet met die lees van “Moses” bykans dadelik dat die universele waarhede van menswees hier op ʼn sonderlinge of unieke Afrikaanse wyse aan die orde gestel word. Ons kan sê dat die universele temas in die gedig vanweë die Afrikaanse aard daarvan ʼn lewende en konkrete betekenis in ons wêreld kry.
“Moses” vertaal dit wat eie aan die mens is, ongeag tyd of plek, tot ʼn lewende werklikheid in die gemoed van die Afrikaanssprekende. Indien ons dus sou speel met die onmoontlike gedagte dat ons geliefde moedertaal sou uitsterf, sou dit beteken dat dié besondere en unieke wyses waarop diesulke temas aan die orde gestel word ook stil sou raak.
Bogenoemde bring ons ten slotte by die belangrike vraag: Hoe kan daar gesorg word dat Afrikaans nie net voortbestaan nie, maar dat dit steeds op ʼn unieke wyse gestalte aan ons werklikheid gee? Hoe kan ons verseker dat ons werklikheid steeds deur ons moedertaal op sy eie sonderlinge wyses oopgebreek word?
Ter wille van ʼn afsluiting verwys ek na slegs twee uit verskeie ander voorwaardes vir tale om steeds lewendige tale te kan wees.
Eerstens moet ons weer onderstreep wat navorsers reeds telkemale in die verlede benadruk het, naamlik dat moedertaalonderrig onontbeerlik vir taaloorlewing is. Sonder moedertaalonderrig verskraal tale, en word hul vermoë om die werklikheid te ontsluit verminder. Met goeie moedertaalonderrig daarenteen gebeur die teenoorgestelde: dit skep die moontlikheid vir tale om die volle diepte, kleur en rykheid van hul eie werklikheid aan die woord te stel.
Tweedens, wat maak moedertaalonderrig op sy beurt moontlik? Ook hieroor bestaan daar ʼn breë eenstemmigheid onder navorsers: Vir moedertale om nie net te oorleef nie, maar om ʼn lewenskragtige aanwesigheid te kan wees, moet hulle oor instellings beskik waarbinne hulle ingeoefen, gekultiveer en aan die toekomstige geslagte oorgedra kan word.
Moedertale wat uitsterf, sterf omdat hulle nie oor instellings soos skole, tegniese kolleges en universiteite beskik nie. Hiermee saam beskik dié tale ook nie oor instellings soos besighede, die media, uitgewerye, die filmwese en teaters nie. Tale bestaan nie buite-om sodanige instellings nie; tale word in en deur sodanige instellings aan die toekoms oorgedra.
Mag Internasionale Moedertaaldag daartoe bydra dat daar vandag ʼn groter bewussyn van die belangrikheid van moedertaalonderrig en die noodsaak van taalinstellings sal wees. Die rykheid van die werklikheid self is immers op die spel.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.