Deur die lens van ʼn hedendaagse verbeeldingsraamwerk: Só word Fonties as opvoedkundige denkleiers gevorm

Gepubliseer op:  10 November 2025

Geskryf deur Julia Correia, dosent: Opvoedkundestudies, asook Anneré Koen en Jewell Pelser, beide derdejaarstudente in die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Kan jy jou indink hoe dit sou wees as groot denkers binne die veld van opvoedkundige praktyke soos John Dewey, Ralph W Tyler en Maria Montessori vandag aktiewe sosialemediaverbruikers was? Ons kan net dink hoe hul onderskeie Facebook-profiele byvoorbeeld daar sou uitsien…

Dewey, met sy liefde vir ervaringsleer, sou waarskynlik ʼn foto deel van ʼn klas wat buite onder die bome sit. Montessori sou op haar beurt ʼn video plaas van kinders wat onafhanklik met selfgekose materiale werk, met die byskrif: Help my om dit self te doen.” En wat sou Ralph W Tyler doen? Hy sou sonder twyfel sy bekende onderwysfilosofie uitspel: Begin by die doelwitte!”

ʼn Unieke benadering tot onderrig en leer

Wanneer daar tradisioneelgesproke aan universiteite gedink word, word beelde van groot lesinglokale, stapels handboeke en oorvol eksamenlokale waar studente se kennis op formele wyses getoets word, opgetower.

Akademia as ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling sien egter anders daar uit en daag doelbewus hierdie verwagting uit deur aan studente ʼn eiesoortige onderrig-en-leerervaring te bied. Laasgenoemde ervaring is meer verpersoonlik en veel meer betekenisvol. Fonties* in die Fakulteit Opvoedkunde word nie net geleer om feite te onthou en weer te gee nie, maar om dit krities te interpreteer, toe te pas en uiteindelik in hul eie lewens en toekomstige klaskamers te gebruik.

’n Onlangse voorbeeld hiervan is die unieke navorsingsopdrag wat aan derdejaarstudente binne die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program asook die BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-program gestel is. Die doel van dié opdrag was om by wyse van ʼn hedendaagse verbeeldingsraamwerk die bydraes van invloedryke opvoedkundige denkers te oordink en eerstehands te ervaar hoe hul idees vandag nog toepaslik is. En wat ʼn beter manier as om ʼn sosialemediaprofiel vir hierdie kenners te skep?

Dié nietradisionele opdrag dien as ʼn simboliese vergestalting van die instelling se strewe om studente te leer om dieper te delf en só die groter prentjie te sien en te verstaan. Studente is in die proses uitgedaag om navorsing te doen en om dit gevolglik in ʼn moderne en toeganklike konteks weer te gee.

Nie jou tipiese navorsingsopdrag nie

Waar tradisionele navorsingsprojekte studente noop om inligting in te samel, weer te gee en gevolglike teoretiese uiteensettings te bied, het hierdie projek Fonties op ʼn baie meer gefokusde vlak uitgedaag.

Hierdie unieke leerervaring vereis ʼn nuwe benadering en interpretasie deur kritiese denke by wyse van verbeelding en kreatiwiteit aan te wakker. Dit is dan ook juis hierdie anderste benadering wat studente toerus om waarlik die kern van die akademiese inhoud te verstaan. Enigiemand kan handboekinhoud memoriseer, maar dit verg dapperheid en insig om dieselfde inhoud só aan te bied dat dit sinvol en verstaanbaar is vir ander.

Die verskil tussen tradisionele en klassieke benaderings

Die verskil tussen die tradisionele onderrig-en-leerbenadering en dié van Akademia kan opgesom word as die verskil tussen blote reproduksie en betekenisvolle betrokkenheid. In ʼn tradisionele model word studente dikwels gesien as ontvangers van kennis wat gevolglik hierdie kennis lees, memoriseer en daaroor eksamen skryf.

Akademia volg egter ʼn klassieke benadering. Dit beteken dat die klem op kritiese denke, selfontdekking en die vermoë om kennis geïntegreerd en kreatief te gebruik, val. Fonties word aktief betrek en word uitgedaag om self medeskeppers van betekenis te wees. In die vermelde opdrag het dit beteken dat studente nie nét oor Dewey, Tyler en Montessori nagelees het nie, maar hulle as’t ware in die hede ontmoet het. Deur dié proses het studente historiese kennis hul eie gemaak en selfs verhedendaags.

Kreatiewe leerervarings slaan ʼn brug tussen die oordrag van kennis en die praktiese toepassing daarvan. In die onderwyskonteks speel diesulke ervarings ʼn kritiese rol omdat leerders van onderwysers verwag om meer te doen as bloot feite weer te gee. Die hartklop van onderwys lê opgesluit in die holistiese ontwikkeling van leerders – kognitief, sosiaal, emosioneel en kreatief. Ralph W Tyler som dié hartklop mooi op wanneer hy sê dat onderwys ʼn doelgerigte aktiwiteit is en nooit net toevallig plaasvind nie.

Só ervaar Fontie-onderwysstudente hul dieperliggende onderrig-en-leerervaring

As voltydse kampusstudente ervaar ons daagliks hoe dosente en studente in ʼn verhouding staan wat baie meer persoonlik is as wat dalk die geval by ander instellings mag wees. Dosente sien ons raak, skep ruimte vir ons vrae en verweef hul eie akademiese kennis en ervaring in elke les. Hierdie band tussen dosente en studente skep ʼn wedersydse vertrouensatmosfeer. Ons voel gemaklik om vrae te vra, foute te maak en in die proses krities te leer.

Die opdrag oor die ontwikkelingsteorieë (die fokus van hierdie meningstuk) dien as ʼn sprekende voorbeeld van hierdie ontdekkende leerproses. Die dosent het ons nie net oor die verskillende teorieë ingelig nie, maar dit dadelik aan haar eie klaskamerpraktyk en -ervaring verbind en só dit prakties by ons tuisgebring. Hierdie praktiese illustrasie het ons in staat gestel om die kern van die teorie beter te verstaan én dit konkreet te beleef.

Ter ondersteuning van hierdie besonderse leerdimensie, speel praktiese blootstelling, moedertaalonderrig en die instelling se Christelike begronding verder sleutelrolle in ons mondering as toekomstige onderwysers. Dit is dan juis binne hierdie milieu dat Fonties in diepe verbondenheid en goedgevestigde waardes met mekaar, die gemeenskap en in ons geval die breë onderwysveld, staan.

Om die woorde van prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, te eggo: “Akademia-studente word voortdurend uitgedaag om nie slegs kennis na te jaag nie, maar ook dieper menslike vorming te beleef. Hierdie vormingsideaal herinner ons daaraan dat opvoeding méér is as net akademiese prestasie; dit is ʼn roeping wat die hele mens raak.”

En wie weet. As Dewey, Tyler en Montessori wel elk ʼn sosialemediaprofiel gehad het, sou hulle waarskynlik duimpie in die lug reageer het op Akademia se benadering tot onderrig en leer. Akademia is immers nie nét ʼn plek waar kennis gedeel word nie, maar ʼn gemeenskap waar denke én hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Julia Correia, dosent: Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen die instelling se onderwysstudente word nie net geleer om feite te onthou en weer te gee nie, maar om dit krities te interpreteer, toe te pas en uiteindelik in hul eie lewens en toekomstige klaskamers te gebruik.
Anneré Koen en Jewell Pelser, beide derdejaarstudente in die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, is dankbaar vir die vorming wat hulle as toekomstige onderwysers ontvang.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.