Gepubliseer op: 18 November 2024
Internskapprogramme verteenwoordig ʼn waardevolle rigtingwyser op enige Fontie se loopbaanreis. Nie net bied dit ʼn gulde geleentheid aan studente om hul beroepsvaardighede op te skerp nie, maar ook om hul professionele netwerk te ontwikkel en uit te brei alvorens hulle die werksplek formeel betree.
Vier finalejaar-Fonties – Michael Peens, Elya Bronkhorst, Leani Smith en Teagan Cloete – vanuit die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program, het onlangs ʼn internskapprogram by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) suksesvol voltooi. Hierdie geleentheid vloei voort uit die samewerkingsooreenkoms wat onlangs tussen Akademia en VivA gesluit is.
Die studente het tydens hul internskap hulself onder meer gebesig met projekte wat verband hou met VivA se Taaltoere, die Taalonderrig-, die Korpus-, en die Woordeboekportaal sowel as VivA se Uitgewers.
Volgens Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA, het die studente tydens ʼn virtuele terugvoersessie deur die bank aangedui dat hulle die internskapgeleentheid baie geniet het. Hierbenewens het hulle ook gesê dat hulle heelwat geleer het oor die aard van hul gekose beroepswêreld en die dinamiese wisselwerking tussen die praktyk en teorie. Coetzee voeg by dat die studente ook, getrou aan die doelstelling van ʼn internskap, ʼn groter begrip oor die verskillende beroepsrolle gekry het veral in terme van operasionele én strategiese aspekte.
Die terugvoer en inkoop van die studente was voorts só oorweldigend positief dat VivA aan hulle die geleentheid gaan bied om die onderskeie projekte waaraan hulle gewerk het, te voltooi. Daar word voorsien dat die studente, ná afloop van die indiening van hul finalejaarsprojekte en die aflegging van hul eksamens, dan weer by VivA sal inskakel.
Volgens dr. Alé Steyn, die departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe en Taalsentrum-koördineerder by Akademia, is VivA se oorheersend positiewe terugvoer verblydend. Sy is ook baie trots op die studente se goeie werksetiek, ywer en bereidwilligheid om ʼn bydra te lewer.
Steyn verduidelik dat studente reeds vanaf hul eerste jaar van studie aangemoedig word om van internskapgeleenthede gebruik te maak. Hierdie geleenthede bied volgens Steyn soveel méér as net tradisionele praktykblootstelling. Studente leer vervolgens hoe om hulself in ʼn professionele werksomgewing te handhaaf, belangrike vaardighede soos tydsbestuur en probleemoplossing te oefen, ʼn verantwoordelikheidsin te kweek én hulself van die verwagtinge wat daar aan intreepraktisyns gestel word, te vergewis. In die lig hiervan meen Steyn dat studente wat van internskapgeleenthede gebruik maak tydens hul studiejare, ongetwyfeld ʼn reusevoorsprong bo ander studente het.
Al vier die studente is dit eens dat hul klasmaats en mede-Fonties internskapgeleenthede, soos dié een waaraan hulle deelgeneem het, met al twee hande moet aangryp. “Danksy die internskap voel ek gereed om die werksplek te betree. Ek het nie net nuwe tegniese vaardighede aangeleer nie, maar weet ook nou hoe om behoorlik en effektief te kommunikeer ten einde my doelstellings te bereik,” vertel Badenhorst. Op haar beurt meen Smith dat relevante praktykservaring ʼn waardevolle voet in die deur is wanneer hulle na werk begin soek. Vir Peens lê die waarde van ʼn internskap in die professionele netwerke wat ontsluit word terwyl Cloete dankbaar is vir die waardevolle blik op die werkswêreld – ʼn ervaring wat sy sterk aanbeveel vir enige student.
Steyn sluit af deur te sê dat daar nou reeds groot opgewondenheid heers oor die geleenthede wat die samewerkingsooreenkoms tussen Akademia en VivA gedurende 2025 gaan ontsluit. Volgende jaar sal studente in ander programme, soos BA (Taalstudies) en BAHons (Media en Kommunikasie) ook die geleentheid hê om internskappe by VivA te kan voltooi.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.