*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

My pad sonder sig, maar vol passie en drome – Fontie-Elandri

Gepubliseer op:  2 April 2026

Elandri (Lannie) Harmse (20) en haar gidshond, Yves, is bekende gesigte op Akademia se Pretoria-kampus. Dié tweedejaar-Fontie*, wat in 2024 aan die Hoërskool Prinshof gematrikuleer het, jaag passievol haar studiedroom en toekomsideale na en dien as ʼn groot inspirasie vir haar mede-Fonties. Harmse, wat reeds vanaf geboorte blind is, laat haar nie vir ʼn oomblik onderkry nie, en volg die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program by wyse van die instelling se voltydse kampusmodel. Daarmee saam kan haar engelstem enigeen in vervoering laat.

Die keuse van Akademia as studietuiste

Volgens Harmse het sy in 2025 om verskeie redes op Akademia as studietuiste besluit. Een hiervan is moedertaalonderrig. “Afrikaans dra vir my ʼn boodskap van hoop. Ons leer dié hartstaal by mekaar en dra dit oor aan toekomstige geslagte,” meen Harmse. Haar liefde vir haar moedertaal spruit verder voort uit die wete dat dit diepe betekenis ontsluit en kommunikasie vrye teuels gee.

Nóg ʼn rede is die instelling se Christelike begronding. “Dit is vir my lekker om ook my geloof tydens my studiereis heelhartig te kan uitleef,” sê Harmse. Sy voeg by dat sy dit geniet om deel te wees van Akademia se dinamiese en uitgebreide Christen-familie. “Ek voel dat enige reis, en daarom ook ʼn studiereis, slegs moontlik is met God aan jou kant,” voeg sy by.

Die spreekwoordelike kersie op die koek is, volgens Harmse, die geleentheid wat sy as voltydse kampusstudent het om elke dag nuwe mense te ontmoet. “Elke nuwe persoon wat my pad kruis, inspireer my en maak my opgewonde oor die toekoms,” sê sy. As ʼn lid van die daghuis, Huis Daglelie, kry sy ook gereeld die geleentheid om aan pret aktiwiteite in koshuisverband deel te neem en só haar vriendskapskring verder uit te brei. “Ek geniet die koshuislewe só dat ek van voorneme is om myself vir ʼn leierskapsposisie bereidwillig te stel,” vertel Harmse opgewonde.

Wat die toekoms betref, is dié trotse Fontie veral geesdriftig oor die instelling se nuwe wêreldklas kampus wat tans in die ooste van Pretoria ontwikkel word. Alhoewel sy nie haar studie daar sal voltooi nie, sal sy deel uitmaak van die eerste groep studente wat hul kwalifikasieplegtigheid in 2028 op dié kampus sal meemaak.

Harmse is van mening dat die studente aan Akademia werklik ʼn dinamiese gemeenskap verteenwoordig wat tyd maak om mekaar beter te leer ken en om van mekaar te leer. “Akademia is ʼn plek waar goeie verhoudings gebou word en almal is baie behulpsaam teenoor mekaar,” meen Harmse. Sy voeg by dat dié omgeekarakter die rede is wat sy aan vriende en voornemende studente voorhou as ʼn oorweging waarom hulle juis dié instelling as ʼn studietuiste moet oorweeg.

Volgens Harmse ervaar sy Akademia as soveel méér as net ʼn studietuiste. Vir haar verteenwoordig die instelling ʼn verbondsgemeenskap sonder weerga, en beleef sy elke dag die instelling se klassieke en Christelike aard. En as student, is dit veral lekker om hierdie gedeelde waardes uit te leef binne ʼn omgewing waar ander jongmense ook nie terugdeins van geloof en tradisie nie.

Eerstejaarskamppret

Harmse het haar Fontie-reis op ʼn hoogtepunt afgeskop deur die eerstejaarskamp by te woon. Dit was tydens dié kamp wat sy vir die eerste keer die hart van Akademia eerstehands ervaar het. “Die studentekultuur is aansteeklik, en die eerstejaarskamp sal vir altyd vir my ʼn onvergeetlike belewenis wees. Ek het hier lewenslange vriendskappe gesmee en opnuut ervaar wat dit beteken om deel van ʼn omgeegemeenskap te wees,” sê Harmse.

Sy vertel hoe haar mede-Fonties haar sonder skroom bygestaan het, en dat pret en samehorigheid aan die orde van die dag was. “Ek het nie vir ʼn enkele oomblik uitgesluit gevoel nie, en het saam met die res van die eerstejaars aan ʼn rits aktiwiteite deelgeneem, na lesings geluister en optredes saam geniet,” vertel Harmse. Kyk hier na ʼn video van die 2025-eerstejaarskamp.

Klasdraflekkerte

As ʼn student wat deel uitmaak van die Fakulteit Geesteswetenskappe, is Harmse se gunstelingmodule Kommunikasiebestuur. Sy geniet veral die klasse van Elaine Krige en dr. Annerie Geyer, omdat dit haar help om nie net haarself beter te verstaan nie, maar ook haar leefwêreld. Sy meen voorts dat die bystand van haar dosente vir haar ʼn riem onder die hart is. “Ek hoef myself nie voortdurend aan my dosente te bewys nie; hulle sien my vir wie ek werklik is,” sê Harmse en voeg by dat sy werklik baie by hul wysheid en ervaring leer.

Harmse droom daarvan om ná afloop van haar studie haarself in die radiobedryf te vestig óf om as joernalis te werk. “Ek wil eendag by Akademia se hekke uitstap en selfs meer van myself ontdek,” sê Harmse en voeg by dat sy geroepe voel om mense te inspireer deur haar Godgegewe talente.”

Die stem van ʼn nagtegaal

As Harmse nie besig is om klas te draf of saam met haar vriende te kuier nie, leef sy haar passie vir musiek as ʼn uiters talentvolle kunstenaar uit. Sy het op ʼn jong ouderdom begin sing en het al talle gehore by geleenthede soos die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste (SACOPA) en Helpende Hand se LIG-konsert met haar engelstem bekoor. Sy was een van die laasgenoemde geleentheid se fakkeldraers. “Die verhoog is die plek waar ek werklik myself kan wees. Al weet ek nie noodwendig hoeveel mense teenwoordig is nie, is die positiewe atmosfeer vanuit die gehoor altyd tasbaar,” meen Harmse.

Sang vorm ook deel van Harmse se toekomsdrome. Om op die Afrikaans is Groot verhoog te skitter is haar volgende groot doelwit. “Dit is een van my grootste drome om my liedjies met bekende kunstenaars te kan deel en selfs nog meer nuwe liedjies en albums die lig te laat sien,” sê Harmse.

Elandri Harmse skitter op die verhoog en droom daarvan om eendag haar eie albums vry te stel.

Elandri Harmse op die verhoog tydens Helpende Hand se LIG-konsert in 2025. Sy was ook een van die geleentheid se fakkeldraers.

Ten spyte van Elandri se beperkings maak sy die meeste van haar tyd as student. “Ek voel dat Akademia my met ope arms verwelkom het en daagliks my reis sáám met my aanpak. Ek is ʼn trotse Fontie en kan nie genoeg dankie sê vir die geleentheid om my studiedroom hier na te volg nie,” sluit Harmse af.

Elandri Harmse is ʼn tweedejaar-Fontie aan Akademia. Sy en haar gidshond, Yves, is bekende en geliefde gesigte op die Pretoria-kampus.

*ʼn Fontie is ʼn Akademia-student. Dit is ʼn woordspeling op die instelling se leuse: Ad futurum per fontes.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.