Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Europese bande open nuwe deure vir Akademia

Gepubliseer op: 7 November 2017

Akademia het in September waardevolle bande in Europa gesmee toe twee van die instelling se akademiese personeel, Elzette le Roux (programbestuurder: BCom Ekonomie en Regte) en Felicia Snyman (vakhoof en dosent: Regte) ʼn juristekongres in Antwerpen bygewoon het en verskeie stede in België besoek het.

Goeie netwerke is met verskeie persone en instansies in België, Nederland en Duitsland gevestig, asook samewerkingsverhoudinge met die oog op eksterne moderatore. Gesprekke is solank van stapel gestuur met betrekking tot moontlike uitruilprogramme en nagraadse studie vir Akademia-studente aan tersiêre instellings in België. Dit sluit ondermeer die Universiteit Antwerpen, KU Leuven, Vrije Universiteit Brussel, Arteveldehogeschool, School van de Toekomst en ander potensiële instellings in.

Me Le Roux het met lede van die Marnixring ontmoet, ʼn organisasie wat hom vir die ontwikkeling en voortbou van die Vlaamse taal en kultuur beywer. “Hul opgewondenheid oor Akademia en ons modus van onderrig, die onderrigtaal Afrikaans en Akademia as gemeenskapsuniversiteit was opvallend. Ons is ook genooi om verdere studie (internasionale MBA) aan die School van de Toekomst in België te oorweeg,” verduidelik sy. Verdere samewerking en moontlike fondswerwing met die Marnixring word in die vooruitsig gestel.

Nog positiewe uitkomste wat uit die Europese besoek voortgevloei het, is die sterk moontlikheid van uitruilprogramme tussen dosente van Akademia en die Arteveldehogeschool in Gent. Akademia-studente kan ook baat vind by die voortsetting en verdere ontwikkeling van studietoere. Die aanbied van toekomstige juristekongresse by Akademia, die verdere uitbou en versterking van ondersteuningsnetwerke in die Lae Lande, en ʼn ondersoek na moontlike opleiding van vertalers of tolke in Nederlands na Afrikaans en andersom word ook ernstig oorweeg.

Aspekte wat me Le Roux gedurende die besoek opgeval het, is dat Afrikaans inderdaad ʼn wêreldtaal is, met baie belangstelling daarin. “Akademia moet die uniekheid van Afrikaans omarm en die verantwoordelikheid van die uitbou van Afrikaans as akademiese taal opneem. As instelling geniet Akademia heelwat steun in die buiteland en dié netwerke kan tot ons taal en ons studente se voordeel strek,” sê sy.

Na aanleiding van die Europese besoek, streef Akademia opnuut daarna om die vlagskip vir die ontwikkeling en voortleef van Afrikaans onder akademici sowel as studente te wees, uitnemende onderrig en opleiding te bied, en ʼn voorloper in innoverende akademiese denke te wees.