Gepubliseer op: 26 Februarie 2024
Geskryf deur dr. Nic de Jager*, ʼn dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.
Die aanvang van aanlyn mediastroming in die 1990’s het fisiese vorme van oudiovisuele materiaal, byvoorbeeld musiekplate, kassette, kompakskywe en digitale videoskywe, geleidelik die agtersitplek laat inneem. Laasgenoemde verwys veral na die manier waarop films, musiek en literatuur die wêreldgehoor bereik.
Mediastroming het met enkele eksperimentele uitsendings sowat 30 jaar gelede op die internet begin. Die heel eerste regstreekse uitsending was ʼn konsert deur die Amerikaanse rockgroep, Severe Tire Damage, in 1993. Sedertdien het stromingsplatforms momentum gekry, en fisiese media het vir talle ʼn ouderwetse of selfs ongerieflike vorm van teksversameling geword.
Die sogenaamde CD of DVD (en as ons nóg verder teruggaan, die kasset en VHS-kasset) was nou oorblyfsels uit ʼn vervloë era, wat óf aangekoop moes word by ʼn kleinhandelaar óf gehuur moes word by ʼn videowinkel, mits sulke besighede nog hul deure kon oophou. Namate die spoed en seinsterkte van die internet verbeter het – en meer mense daartoe toegang kon kry op hul rekenaars, slimtelevisies of slimfone – het ons liedere, verhale en menservaringe ʼn eenrigtingreis gemaak na die domein van databasisse, netwerkbedieners en sagteware. Die koms van YouTube in 2005 en Netflix in 2007 het hierdie migrasieproses veral aangesterk, en die mark vir fisiese media het begin swaartrek. Met toepassings soos Kindle (2007) en ander e-lesers het boeke ook sleg daar uitgesien, met ʼn ooglopende impak op fisiese boekverkope oor die wêreld heen. E-boeke ervaar egter nou ʼn afname in gewildheid; jongmense reik weer uit na gedrukte boeke, wat bewys dat hierdie beproefde vorm van lees nog lank nie dood is nie.
Die vraag wat nou onstaan, is of daar nog ʼn plek is vir die stadig-draaiende plaat; die kasset wat met tye deur die masjien ingesluk word; die CD of DVD wat soms vashaak; of die boek wat geduldig wag om van die rak afgehaal te word. In hierdie geval, of ten minste uit die oogpunt van hierdie bewese teksversamelaar, is die antwoord ʼn besliste “ja”.
Die fisiese bronne van kennis en ontspanning verdien ʼn herlewing, want as daar ʼn fisiese kopie van ʼn fliek, musiekalbum of boek in jou besit is, is dit joune, en net joune. Aan hierdie bronne kan daar dus ʼn sekere outentiekheid, waarde of ruimtelike gravitas gekoppel word, wat selde die geval is met hul gedigitaliseerde eweknieë. Spesifiek in die geval van langspeelplate is dit iets waaraan jy kan vat, ruik, met trots in jou leefruimte kan uitstal, en aan ʼn volgende generasie kan oorlewer. Dit is nie net die produk van ʼn kunstenaar se unieke idee of visie nie, maar kan in sommige gevalle kulturele en monetêre waarde, ver bo verwagtinge, inhou. Vroeë drukke van The Beatles se plate word veral hoog waardeer by veilings, en die mees waardevolle plaat op rekord (Once Upon A Time in Shaolin deur Wu-Tang Clan) word tans op twee miljoen dollar beraam. Baie versamelaars, beide oud en jonk, sal sidder om te dink hoe talle van hierdie artefakte weggeraak het in tyd; hulle is verwaarloos, of het selfs verlore geraak in die stortvloed van die digitale rewolusie
Die bogenoemde vraag leen hom egter nie net tot die “waarde” van die plate, kompakskywe of boeke wat ons nog in ons besit het nie. Hierdie grootskaalse migrasie na digitale teksverbruik hou ook geweldige implikasies vir die film-, musiek- en skryfbedryf in, omdat die aankoop van fisiese media steeds ʼn groot deel van hul brood en botter uitmaak. Dan het dit ook ʼn beduidende impak op die onderwyssektor – leerders ervaar nou die klaskamer anders as voorheen, met blitsvinnige toegang tot inligting, en nuwe geleenthede vir globale leer. Tóg toon die navorsing dat Generasie Alfa ‒ wat ná- hierdie omwenteling gebore is ‒ ernstige agterstande ervaar met hul aandagspan, dissipline, en lees- en skryfvaardighede.
Daar is natuurlik logistieke en finansiële kwessies wat die voorgestelde herlewing van fisiese media verder kan teenstaan. Hierdie media is gewoonlik duur en moeilik bekombaar in ʼn land soos Suid-Afrika, waar boekwinkels nog floreer, maar musiek- en videowinkels reeds toegewys is aan die verlede. Laat ons egter nadink oor die waarde en blote genot wat hierdie ouer mediavorme vir ons kan inhou. Dit is dalk nóú die beste tyd om weer ʼn storie in ʼn boek te lees, ʼn fliek vanaf ʼn DVD-speler te kyk of ʼn album vanaf ʼn platespeler te luister, en die “aktiewe matriks- organiese liguitstraaldiodes” van ons slimfone ʼn blaaskans te gee.
*Dr. De Jager se passie vir onderrig en opvoeding lê in die kunste, letterkunde en verskeie digitale platforms, en die geleenthede wat hierdie areas vir kreatiewe uitdrukking en selfverwesenliking bied.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.