Die aard en oorsprong van denke
Gepubliseer op: 23 Februarie 2022
Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia.
Enkele weke gelede was daar in ons geweste ʼn verstommende sonsondergang. Vanweë die spel tussen die laaste sonstrale en die lae wolke in die weste was die hele wêreld letterlik in ʼn sagte blou-oranje gehul. Vir sowat ʼn kwartier het alles anders as normaalweg gelyk: berge, bome, blomme. So asof die skepping nog vir ʼn laaste keer sy skoonheid aan ons wou wys. Voordat die nag alles in donkerte toetrek.
Digters besing oor alle eeue die wonder van die skepping. Dit vul hulle met ʼn digterlike verwondering. C. Louis Leipoldt se bekende gedig, ‘Die Beste’, is maar een te midde van talle voorbeelde uit die Afrikaanse digkuns. Om net enkele grepe uit die eerste strofe aan te haal:
Geil lusern in die laagste landjie,
Geil groen blare en blomme blou,
Alwyn rooi op die voorste randjie,
Rooi soos bloed teen die rotse grou;
…. Wonder van kleure uitgesprei—
Wat is daar meer wat die dood berowe?
Somer en son en safier vir my!
Die skepping gryp egter nie net die verbeelding van denkers aan nie, maar ook die denke van denkers. Reeds vanaf die Klassieke tydperk skryf denkers dat verwondering in die skepping die oorsprong van die denke verteenwoordig.
Volgens die ou denkers word die denke tydens die ervaring van verwondering in ʼn staat van verlamming gedompel. Sodra die denke egter tot verhaal gekom het, gee dit ʼn eerste belangrike tree. Want dit begin nou om aktief na die ‘wat’, die ‘waarom’ en die ‘waarheen’ van die wonder-skepping te vra. Kortom, met die verwondering staan ons by die geboorte van die denke.
Ek wil graag aan die begin van ons akademiese jaar (tydens ons eie akademiese sonsopkoms) slegs enkele opmerkings oor die aard van die denke maak. Waarom is dit belangrik om aan die oorspronge van die denke in die verwondering te herinner? Ons noem slegs enkele redes:
ʼn Eerste rede hou met die ewig dreigende gevaar van die verkalking van ons denke verband. Ons kan die verwondering met ʼn vuur vergelyk wat die denke verhit, verlewendig en tot beweging bring. Maar soms verkalk die denke; dikwels val dit in harde formules, uitgediende skemas en vervelige clichés vas. Verstarde denke is ʼn simptoom van die feit dat die vuur van die verwondering tot ʼn flou vlammetjie verdof of selfs tot ʼn uitgebrande hopie as weggebrand het. Om dit te verhoed, moet ons onsself telkens weer vir die brandende vuur van die verwondering oopstel. In die hitte van dié vuur smelt ons verkalkte skemas en clichés weg. So kom die denke weer tot lewe, en vra dit opnuut na die ‘wat,’ die ‘waarom’ en die ‘waarheen’ van die skepping. Akademia sal ʼn lewende sentrum van die denke wees solank as wat ons ons hand nie te ver weg van dié vuur hou nie.
ʼn Tweede rede lê opgesluit in die feit dat ons so leer dat die skepping ʼn geskenk is. In en deur die verwondering word ons herinner aan die feit dat die skepping nie deur ons eie voortreflike denke gemaak of gekonstrueer is nie. Daarmee word nie ontken dat ons ook maak en konstrueer nie. Uit die verwondering leer ons egter dat ons maak en konstrueer deur die skepping voorafgegaan word. Voordat ons denke gemaak of gekonstrueer het, is die skepping reeds aan ons geskenk.
ʼn Derde rede vloei hieruit voort. Op grond van wat pas gesê is, kan die heel eerste oomblikke van die denke self met ʼn dankie vergelyk word. In die eerste tree wat die denke ná die verwondering gee, word dankie vir die skeppingsgeskenk gesê. Die eerste woord van die ‘denke’ is ‘dankie’. Denken en danken hoort byeen, sê ʼn Duitse denker. Geen wonder nie dat die egte denke oor eeue met ʼn fees vergelyk word nie. Ons kan sê dat die denke in die eerste plek ʼn dankfees is.
Die bring ons by die vierde en laaste rede: In die verwondering leer ons dat die skepping veel méér is as wat ons vooraf met behulp van ons denkskemas, formules en sisteme gedink het. Ons denkskemas is begrensde dinge. In die verwondering leer ons dat ons nie die onbegrensde rykdom van die skepping met ons begrensde skemas kan vasvang nie; dat die skepping ons denke oorspoel; dat dit altyd méér is as wat ons vooraf gedink het. Ondanks die verstommende vordering wat die denke oor eeue gemaak het (en steeds maak), bly die skepping iets wat ons nie voldoende kan verklaar of verstaan nie. Ons begryp slegs ten dele.
Hoekom bring ons dit ter sprake? Vandag word die insig in die begrensde aard van die denke dikwels vergeet. Dikwels word gepoog om die onbegrensde werklikheid in begrensde denkskemas vas te vang; om die ingewikkeldheid van die skepping met eenvoudige formules glad te stryk.
Voorbeelde hiervan is pogings van bioloë aan universiteite en navorsingsentra om letterlik alles (ook die bestaan van God) met behulp van ons genetiese erfenis te verklaar; of pogings om die menslike ervaring as slegs ʼn funksie van ons neurofisiologie te begryp; of ekonomiese teorieë wat in die voetspoor van Marx alles as slegs ʼn funksie van ekonomiese klasse-verdelings verstaan.
ʼn Voorbeeld waarop ons egter graag die klem wil plaas, is die wyse waarop vandag dikwels oor die geskiedenis geoordeel word. Die geskiedenis is ʼn ingewikkelde saak. Geen eenvoudige skema pas daarop nie. ʼn Bykans oneindige hoeveelheid nuanses moet in ag geneem word wanneer ons historiese gebeure wil begryp.
Nogtans word die Westerse geskiedenis vandag deur politieke strominge aan simplistiese skemas onderwerp. Met behulp van ʼn eenvoudige verdeling tussen goed en kwaad word die ganse Westerse geskiedenis sonder meer as boos beskryf, terwyl die sogenaamde Res sondermeer as goed bestempel word. So word die geskiedenis skeef getrek.
Ingevolge die simplistiese skema kan daar niks goeds in die Weste wees nie (dit ondanks die feit dat die meeste kritici sonder skroom van goeie dinge soos Westerse universiteite, Westerse tegnologieë, Westerse wetenskappe, Westerse lewenstyle, ensovoorts, gebruik maak). Insgelyks skuil daar volgens die oordeel ook geen kwaad in die Res nie (ondanks die feit dat die Res self ook skuldig is aan soortgelyke sondes waarvan die Weste beskuldig word, naamlik kolonialisme, slawerny, rassisme en patriargale lewenstyle).
Op grond van genoemde denkskema word ʼn nimmereindigende politiek van wraak (ʼn politiek sonder vergifnis en dankbaarheid) teen die beweerde sondaar gevoer, sonder dat die self verantwoordelikheid vir sy of haar eie ellende aanvaar.
Akademia slaan ʼn ander weg in. Ons is nie daarin geïnteresseerd om enigeen van hul foute te verskoon nie. As foute begaan is, word dit erken en met behulp van ons beste insig en wysheid reggestel. Akademia is egter daartoe verbind om telkens weer aan die feit te herinner dat ons denkskemas nie op die volle werklikheid pas nie. Akademia herinner aan die feit dat die ingewikkelde, geskakeerde en ryk teksture van die werklikheid (ook van die geskiedenis) telkens méér as ons denkskemas is.
Waarom? Omdat Akademia vanuit die dieper insig lewe dat die skeppingswonder oneindig is. Mag ons ook in ons nuwe jaar dit as ons akademiese oggendster en rigtingwyser ervaar.