Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Dekaan Geesteswetenskappe lewer drieledige akademiese besoek aan Europa

Gepubliseer op: 12 Junie 2019

Deur navorsing terug te ploeg in Akademia en op hoogte te bly van nuwe verwikkelings in die internasionale Geesteswetenskappe dra ons by tot ʼn uitnemende professionele en beroepsgerigte fakulteit wat tot ons opvoedingsideaal spreek.

Professor Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, het onlangs ʼn drieledige besoek aan Europa afgelê waar hy referate by konferensies gelewer het, ʼn besonderse publikasieseremonie bygewoon het, en bande met internasionale akademici gesmee het. Sy reisplan het besoeke aan Nederland, Duitsland en die Tsjeggiese Republiek ingesluit.

Tydens Duvenage se eerste besoek het hy die Nederlandstalige en Afrikaanse Wysgerige Genootskap (NAWG) se konferensie in Leiden bygewoon. Hierdie konferensie, wat op ʼn gereelde basis tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika plaasvind, is vanjaar deur  die Vrye Universiteit Amsterdam onder leiding van die filosoof dr. Ad Verbrugge aangebied. Die tema van die afgelope NAWG-konferensie het op opvoeding en vorming gefokus, en Duvenage het hierby ʼn referaat getiteld “Opvoeding en vorming binne die hermeneutiese” gelewer. Duvenage se bydrae vorm ook ʼn onderdeel van ʼn boek getiteld Praktiese wysheid in hete tye waaraan hy tans werk, wat in die volgende jaar of twee sal verskyn. “Akademia beplan om die volgende NAWG-konferensie in Januarie 2021 aan te bied,” sê Duvenage.

Professor Pieter Duvenage (links) saam met die Nederlandse vertaler Mark Wildschut (regs) by die NAWG-konferensie in Leiden. Wildschut het, onder andere, Heidegger se Sein und Zeit en Gadamer se Wahrheit und Methode vanuit die Duits na Nederlands vertaal.

Tydens sy tweede besoek het Duvenage ʼn seremonie by Bad Homburg, buite Frankfurt, bygewoon. By hierdie besonderse geleentheid is ʼn boek deur redakteurs Amy Allen en Eduardo Mendieta, beide van die Universiteit Pennsilvanië in die VSA, aan die vooraand van sy 90ste verjaarsdag aan die vooraanstaande Duitse filosoof Jürgen Habermas oorhandig. Duvenage het ʼn hoofstuk, getiteld “Habermas and aesthetics”, tot hierdie publikasie bygedra.

Jürgen Habermas (links) en professor Pieter Duvenage (regs) tydens ʼn seremonie in Bad Homburg waar ʼn boek aan dié denkleier oorhandig is. Duvenage het die artikel “Habermas and aesthetics” tot hierdie publikasie bygedra.

Duvenage se finale bestemming was Praag, waar hy die jaarlikse Filosofie en Sosiale Wetenskappe-konferensie bygewoon het. Tydens hierdie konferensie het kenners en topnavorsers van die Kritiese Teorie bymekaargekom om bande te bou en kennis oor die veldgebied uit te ruil. Duvenage het hier ʼn referaat getiteld “On the relevance of Max Horkheimer’s original positioning of Critical Theory for our times” gelewer.

By Akademia ondersteun die belangrike werk van navorsing die ewe belangrike werk van dosering. “Om sodanig ʼn vooraanstaande Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia te ontwikkel, is dit juis belangrik om navorsing teen die beste te meet, kennis oor bepaalde vakgebiede by te hou, en lesse vanuit internasionale navorsing huis toe te neem,” meen Duvenage. “Deur navorsing terug te ploeg in Akademia en op hoogte van nuwe verwikkelings in die Geesteswetenskappe te bly dra ons by tot ʼn uitnemende professionele en beroepsgerigte fakulteit wat tot ons opvoedingsideaal spreek .”