Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia bevorder bewusmaking van natuurwetenskappe in landbou

Gepubliseer op: 27 Mei 2019

Met Akademia se NAMPO-uitstalling in 2019 is in die besonder gepoog om bewusmaking oor die rol van natuurwetenskappe in die landbou te bevorder, en dan veral teen die agtergrond dat die instelling hard aan die werk is om ʼn uitnemende Fakulteit Natuurwetenskappe op te rig.

Graan Suid-Afrika se NAMPO Oesdag 2019 het weer vanjaar tussen 14 en 17 Mei 2019 in Bothaville plaasgevind, en soos in die verlede wye belangstelling uit alle oorde van die landbougemeenskap geniet. Akademia het vanjaar weer aan NAMPO deelgeneem.

Landbou in Suid-Afrika het ontwikkel vanaf die vroeë pioniersboerderypraktyke wat in die vorige eeue toegepas is, tot die hoogs gesofistikeerde landbouproduksiemetodes wat vandag voorkom. Moderne landbouproduksie steun veral swaar op die natuurwetenskappe. Met Akademia se uitstalling in 2019 is in die besonder gepoog om bewusmaking oor die rol van natuurwetenskappe in die landbou te bevorder, en dan teen die agtergrond dat Akademia hard aan die werk is om ʼn uitnemende Fakulteit Natuurwetenskappe op te rig.

Daar is verskeie faktore wat kan bydra tot suksesvolle landbouproduksie en -uitsette, waaronder klimaat seker een van die belangrikste is. Akademia het daarom besluit om klimaat as tema te gebruik om te demonstreer hoe verskillende natuurwetenskap­dissiplines ingespan kan word ten einde landbouproduksie en -uitsette te verhoog.

Vir hierdie doel het Akademia, in noue samewerking met die Suid-Afrikaanse Weerdiens, ʼn alomvattende inligtingsplakkaat saamgestel wat nie net inligting oor die gemiddelde reënval in Suid-Afrika oor die afgelope dertig jaar weergee nie, maar ook individuele kaarte bevat wat droë en nat maande vir 94 reënvaldistrikte oor die afgelope dertig jaar uitbeeld. Hierdie plakkaat, wat gedurende NAMPO 2019 uitgedeel is, lê veral klem op die rol wat goeie klimaatwaarnemings, wetenskaplik gefundeerde data-analises, die korrekte gebruik van weer- en klimaatvoorspellings, en die identifisering van klimaatinvloedsfaktore kan speel in landboubeplanning. In elkeen van laasgenoemde word verskillende natuurwetenskapmetodes reeds toegepas, en kan nuwe natuurwetenskapgebaseerde innovasies in die toekoms ontwikkel word om landbou verder te ondersteun.

Akademia het reeds akademiese voorgraadse programme vir die Wiskundige en Rekenaarwetenskappe ingedien vir goedkeuring deur die Departement van Hoër Onderwys, en beplan om in die nabye toekoms ook programme in die fisiese wetenskappe (chemie en fisika), biologiese wetenskappe (plantkunde en dierkunde) en landbouwetenskappe te ontwikkel. Akademia se nuutgevonde Fakulteit Natuurwetenskappe streef nie net daarna om onderrig van hoogstaande gehalte te verskaf nie, maar lê ook klem op gesonde wetenskapopvoeding wat ten doel het om goedvoorbereide wetenskaplikes op te lei wat gereed sal wees om die vele natuurwetenskaplike uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar in die toekoms met vertroue aan te spreek.