*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 2 Julie 2026
Wanneer kuns nie nét geskep word om waardeer te word nie, maar óók om te dien, word dit ʼn nalatenskap met ewigheidswaarde. Só is dit dan ook die geval met die onlangse kunsskenking deur die keramiekkunstenaar, Daniel Brand, aan die Akademia-skenkingsfonds. Dié skenking, met ʼn geskatte waarde van ongeveer R450 000, verteenwoordig meer as net ʼn blote materiële bydrae; dit spreek tot ʼn daad van doelgerigte toekomsbou.
Kuns as nalatenskap aan die gemeenskap
Brand se motivering vir die skenking is diep gewortel in ʼn groter persoonlike visie, naamlik om deur sy kuns tot diens van die groter Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te wees. “Ek voel geroepe om deur dié skenking ʼn positiewe bydrae te lewer en só te help bou aan ʼn hoopvolle toekoms,” sê Brand.
Die versameling keramiekmuurkuns wat deel uitmaak van die skenking is tydens en ná die afloop van die Covid-19-inperkingstydperk geskep – ʼn tyd van afsondering wat Brand juis as skeppingsruimte benut het. Hy vertel dat dit sy doel was om ʼn uiteenlopende kunsversameling te skep wat mense kon beleef en waardeer omdat kuns, volgens hom, ʼn voedingsbron vir die siel is. Hierdie ingesteldheid, naamlik dat skoonheid en besinning noodsaaklik is vir menswees, vind direk aanklank by Akademia se klassieke vormingsideaal.
Om ʼn toekomsbouer te wees, beteken vir Brand om aktief verantwoordelikheid te neem vir die dag van môre. Hy sien kreatiwiteit gevolglik as ʼn Godgegewe talent wat elke mens op ʼn unieke manier uitleef en beleef. “Die toekoms word deur onsself geskep. Hoe dit manifesteer, hang egter van elke individu af, maar om skeppingsdrome te verwesenlik, het ons opleiding en leiding nodig – en dit is waar ek die rol van Akademia toekomsgedrewe sien uitspeel,” verduidelik Brand.
ʼn Visie vir Afrikaanse denkers
Wat Brand besonder opgewonde maak oor Akademia, is die instelling se fokus op die vorming van holistiese Afrikaanse denkers – mense wat anders kan dink, nuut kan skep en verantwoordelik kan lei. In dié verband haal hy Albert Einstein aan: “ʼn Probleem kan nie opgelos word met dieselfde denke wat dit veroorsaak het nie.”
Vir Brand lê die toekoms van Afrikaanssprekende gemeenskappe juis in die vermoë om met vernuwende denke, geanker in ʼn ryk kultuurtradisie, vorentoe te beweeg met ʼn goed gevestigde sin van identiteit sowel as ʼn duidelike roepingsbesef.
ʼn Skenking met betekenisvolle omvang
Volgens Zander Botha, bestuurder van Akademia se Skenkingsfonds, gaan die versameling met groot sorg aangewend word, veral wat die instelling se Toekomsbouer™-veldtog betref. Gedagtig hieraan sal die skenking help om:
studente bloot te stel aan kuns, erfenis en nalatenskap as deel van hul vormingsproses.
Waar dit strategies sinvol is, kan sekere werke ook volgens Botha opgeveil word, met dié opbrengs wat direk na die Skenkingsfonds sal terugvloei om verdere volhoubare uitbouing te ondersteun.
“Hierdie skenking is van besonderse waarde omdat dit ʼn bykomende dimensie aan ʼn finansiële bydrae bied,” sê Botha. “Dit is ʼn nalatenskapsgeskenk wat kultuur, skoonheid en erfenis vir toekomstige geslagte help bewaar,” verduidelik Botha. Hy voeg by dat dié skenking verder die belangrike rol wat weldoeners speel in die bou van ʼn instelling – wat nie net akademiese uitnemendheid nastreef nie, maar ook karaktervorming en kultuurbewaring ernstig opneem – beklemtoon.
“By wyse van sy skenking laat Daniel Brand nie net kunswerke vir die volgende geslag na nie; hy rig ook ʼn uitnodiging aan medetoekomsbouers: om anders te dink, die skone te waardeer, en verantwoordelikheid te neem vir ʼn gedeelde en hoopvolle toekoms,” sluit Botha af.
Daar is verskeie maniere waarop belangstellendes die Akademia-skenkingsfonds kan ondersteun. Bydraes tot die Akademia-skenkingsfonds kwalifiseer vir belastingaftrekkings by wyse van ʼn artikel 18A-belastingsertifikaat. Vir meer inligting, besoek die Akademia-webblad of stuur gerus ʼn e-pos na skenking@akademia.ac.za.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.