Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Blootstellingsprogram skep waardevolle ervaring vir studente

Gepubliseer op: 27 Februarie 2020

Akademia loods vanjaar ʼn Blootstellingsprogam – ʼn projek wat akademiese opvoeding en praktiese toepassing in die werksplek kombineer. Dié program vorm deel van Akademia se opvoedingsideaal om afgeronde studente aan Afrikaanse gemeenskappe te lewer.

Hierdie program het ten doel om studente gereed te kry vir die werksplek deur hulle eerstehands te laat ervaar hoe vakkennis in die praktyk toegepas word, maar ook wat die verskillende loopbaanroetes is wat ʼn individu met so ʼn kwalifikasie kan betree.

“Die Blootstellingsprogram is ontwikkel vanuit die sukses van ʼn proefloop internskapprogram vir Ondernemingsbestuur-studente wat verlede jaar plaasgevind het,” vertel Elize-Mari, die programkoördineerder van BCom (Ondernemingsbestuur). “Na aanleiding van beide studente en maatskappye se positiewe terugvoer, word hierdie inisiatief nou amptelik oor verskeie ander akademiese programme ook uitgerol.”

Die internskap het verlede jaar voortgespruit vanuit die idee om die Elitebeursprogram, wat aan die einde van 2019 tot ʼn einde gekom het, op ander maniere te laat voortleef. Die Elitebeursprogram het vir vyf jaar onder andere werksblootstelling, mentorskap, asook innovasie- en gemeenskapsontwikkelingsgeleenthede ingehou vir die groep uitgesoekte studente wat gekies was om dié program te voltooi.

Coetzer meen dat sy en die vakhoof van Ondernemingsbestuur, Monique Visser, koppe bymekaargesit het om die ervaring wat opgedoen is met die Elitebeursprogram, nou in ʼn korter (10 dae) program saam te vat sodat ander Ondernemingsbestuur-studente deel van die waardevolle inisiatief kan wees.

In die suksesvolle proeflopie wat verlede jaar plaasgevind het, moes studente aansoek doen volgens die belangrikste aspekte van ʼn curriculum vitae. Die aansoeke is toe deur die studente se voorkeurorganisasies gekeur. Zander Rautenbach, Quintin Minnie, Lacia-Reinnette Groenewold en David van der Merwe was verlede jaar gekies om hierdie internskap te voltooi.

Nadat die studente verkies is, moes hulle voorbereidingswerkswinkels by Akademia bywoon wat gehandel het oor die maatskappye se verwagtinge, die opstel van vraelyste, begrotings, werksetiket, dataverwerking, en wenke vir laaste indrukke. Hierna het die internskap amptelik afgeskop.

“Die uitkomstes van die internskap, en nou ook die Blootstellingsprogram, vir Ondernemingsbestuur-studente is so saamgestel dat hulle ervaring kan verkry oor verskeie relevante temas, wat onder andere bemarking, menslike hulpbronbestuur, personeelwelstand, kommunikasie, finansies, aankope en operasioneel, ondernemings­bestuur en innovasie insluit,” vertel Coetzer.

Om die sirkel te voltooi na die uitkomstes van die Blootstellingsprogram afgehandel is, word ʼn mentor vir drie maande aan elke student toegeken om saam met studente ʼn pad te stap om aan elkeen se ontwikkelingsareas te werk.

Coetzer meen dat daar groot planne is om die Blootstellingsprogram na meer streke uit te rol en verder op die suksesse van 2019 uit te bou. “Ons is opgewonde oor die uitrol van die hiervan en die impak wat dit op die studente se werkgereedheid gaan hê.”

Links na regs: Monique Visser, vakhoof van Ondernemingsbestuur, saam met die Ondernemingsbestuur-studente, Zander Rautenbach, David van der Merwe, Lacia Groenewold en Quintin Minnie, asook die programkoördineerder van BCom (Ondernemingsbestuur), Elize-Mari Coetzer.