Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

21-jarige dame vlieg met haar drome

Gepubliseer op: 24 Februarie 2020

Nadine Slump, ʼn Akademia-graduandus wat al van jongs af ʼn liefde vir vlieg het, het groot drome om haar privaatvlieënierslisensie op die Sling II, ʼn Suid-Afrikaanse ligte vliegtuig, te verwerf. Nadat sy hierdie lisensie voltooi het beoog sy om ʼn lisensie-oorskakeling te doen om sodanig ander lugvaarte ook te kan vlieg.

Slump reken dat sy haar liefde vir vlieg by haar pa gekry het. “Hy is die rede hoekom ek vandag vlieg. Ek hou al van kleins af van enigiets met spoed en krag. Ek dink maar dit loop in ons familie se bloed.” Slump meen dat die gogga haar gebyt het tydens haar tweedejaarstudies by Akademia, toe haar pa met ʼn instrukteur gereël het dat sy gaan vlieg.

Sy vertel dat ʼn privaatvlieënierslisensie die eerste lisensie is wat voltooi moet word. Om hierdie lisensie te verwerf moet die persoon ouer as 17 jaar wees, mediese toetse aflê, ʼn radiolisensie voltooi, agt eksamens aflê, asook ʼn totaal van 45 ure vlieg, waarvan 25 saam die instrukteur is, 15 alleen en 5 navigasievlugte is. Met slegs ʼn navigasie-eksamen en paar uur oor om te voltooi, is Slump goed op dreef om haar privaatvlieënierslisensie teen die middel van die jaar te voltooi en dan private vliegritte as ʼn stokperdjie aan te pak.

“My droom is om helikopters te vlieg. Ek het dit al so paar keer gedoen en was onmiddellik mal daaroor gewees,” vertel Slump. Sy reken dat dit ʼn meer opwindende gevoel skep as om met ʼn vastevlerkvliegtuig te vlieg. “Maar sit my in enige iets in die lug wat ek kan vlieg, en ek is gelukkig!” Buiten die Sling II, het Slump al geleenthede gehad het om in verskillende vaartuie te vlieg wat onder andere die Cessna 172 insluit.

Slump vertel dat daar nie noodwendig ʼn spesifieke roete is wat sy nog graag wil vlieg nie. “Ek het al in die kort rukkie wat ek vlieg besef dat elke keer wat ek in die lug is, dit anders en mooier lyk as die vorige keer. Of ek nou oor die see, berge of vlaktes vlieg, ek wil net vlieg, maak nie saak waarnatoe nie.”

Slump het haar studies in BCom (Ondernemingsbestuur) aan die einde van 2019 aan Akademia voltooi, en ontvang vanjaar haar graad tydens die instelling se gradeplegtigheid. Volgens haar het haar studies haar die nodige onderbou gegee om van haar vakke in lugvaartkunde te voltooi.

“Ek het al besef dat die vliegwêreld so baie met besigheid geïntegreer is. Sommige van die vakke vir vlieg wat voltooi moes word was beslis makliker met die modules wat ek tydens my studies in Ondernemingsbestuur voltooi het.”

Akademia se bestaande onderrigmodel is van so aard dat studente nauurs klasdraf, terwyl hulle bedags kan werk of ander belangstellings nastreef. “Die aard van Akademia se onderrigmodel het my gehelp dat ek my vliegpassie kon uitleef, aangesien ek kon werk, terwyl ek studeer, én met goeie tydsbestuur my vliegbelangstelling najaag”. Sy meen dat hierdie onderrigmodel haar ook voorberei het om baie balle in die lug te hou, aangesien daar met vlieg baie take is wat op dieselfde tyd moet gebeur.

Haar advies aan jongmense wat graag wil begin leer vlieg is om geduldig te wees, en in hulleself te glo en dit te geniet. “Meisies, dit is nie iets wat net mans doen nie – so moenie dat dit jou terughou nie!” sê sy.

Nadine Slump, Akademia-graduandus, inspireer met haar passie vir vlieg terwyl sy haar privaatvlieënierslisensie voltooi.