Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia vier die krag van boeke tydens Wêreldboeke- en Kopieregdag

Gepubliseer op: 21 April 2022

Wêreldboekedag, ook bekend as Wêreldboeke- en Kopieregdag of die Internasionale Dag van die Boek, is ʼn jaarlikse geleentheid wat deur Unesco gereël word om lees, die uitgewersbedryf en kopiereg te bevorder. Die eerste Wêreldboekedag is op 23 April 1995 gevier. Die dag (23 April) is baie simbolies in wêreldletterkunde omdat dit die dag is waarop verskeie prominente skrywers soos William Shakespeare, Miguel Cervantes, en Inca Garcilaso de la Vega gesterf het.

Wêreldboeke- en Kopieregdag plaas die kollig op die krag van boeke en hulle vermoë om kennis en waardes aan lesers oor te dra. Dit versterk die idee dat boeke dien as vensters op verskillende wêrelde. Die hele idee van die Wêreldboeke- en Kopieregdag is om almal aan te moedig om boeke oop te maak, want boeke is die mooiste ontdekking om idees buite die grense van die mensdom se ruimte en tyd te deel.

Wat ook van belang op hierdie dag is, is die beklemtoning van kopiereg omdat kopiereg as ʼn eksklusiewe reg vir ʼn beperkte tydperk deur wetgewing toegeken word aan outeurs, ontwerpers, musici, ens. vir hulle oorspronklike werk en om te verseker dat hulle tantième betaal word vir hulle kreatiewe werk. Die lewensduur van die kopiereg van letterkundige werke duur vir 50 jaar ná die dood van die outeur en vir rekenaarprogramme vir 50 jaar ná die eerste kopie aan die publiek beskikbaar gemaak is.

Om lees by Akademia te bevorder het ons tans twee boekklubs, een vir die personeel en een vir die studente. Die personeelboekklub is tans besig om werke van ouer Afrikaanse outeurs soos FA Venter te lees en te bespreek.

Die belangrikheid van kopiereg word ook onder die studente se aandag gebring deur die biblioteekoriënteringsessies en ʼn publikasie oor die Harvard-verwysingstegniek, naamlik die Akademia-verwysingsgids, wat beskikbaar is vir die studente. Deur die gids word studente geleer om die Harvard-verwysingstegniek te gebruik wanneer hulle opdragte doen om sodoende aan kopieregwetgewing te voldoen.

In 2022 vier ons die 25ste jaar van Wêreldboekdag en vanjaar is die tema “Jy is ʼn leser!”. Kom ons vier Wêreldboeke- en Kopieregdag deur ʼn gunstelingboek weer te lees en iemand oor die boek te vertel en hulle aan te moedig om ook die boek te lees.

Lianda Coetzer is die bibliotekaris by die Akademia-mediasentrum en seker die persoon wat die Fonties al die beste ken op die Centurion-kampus.